Ons praat met

Jacques Bessenger

Jacques Bessenger is Renier, die komplekse sosiopaat (en kroek!) in Erfsondes 2 op SABC2. Suzette Truter soek die lig in sy donker karakters

Die skurk in Erfsondes 2, die druggie in Song vir Katryn … Hoe’s jy dan nou so met die donker karakters deurmekaar?
Ek het in ’n stadium my begin kwel daaroor, maar nou pla dit nie regtig nie, want dis sulke gesogte karakters – almal wil hulle speel. Ek is mal oor hierdie tipe rolle – daar is iets omtrent intens en dramaties en sterk speel wat my ’n groot kick gee. Ek weet nie, dalk het ek maar net die talent om hierdie emosioneel gekwelde ouens te speel. En my oë lees baie goed op kamera – dit kom onheilspellend en geheimsinnig voor!

En jyself?
Ek is ’n kalm, rustige, gefokusde ou. Die meeste mense wat my ken, sal dit vir jou sê. Ja, ek is ook maar soos ons almal emosioneel en by tye sensitief en sal dinge oor-analiseer, maar oor die algemeen: calm and collected. Dis dalk hoekom ek die rolle geniet, jy ondervind iets totaal anders, dis amper terapeuties om daai intensiteit weer te gee.

Waaraan werk jy nou?

Ek het ’n kleinerige rol in Getroud met Rugby 2 … ook ’n karakter wat so half moeilikheid maak. En ek’s baie besig met industriële teater vir die Nelson Mandela Foundation. Ons besoek hoërskole met ’n vertoning oor MIV/vigs, en ná die tyd gesels ons met die kinders oor alles van kondome tot MIV, wat nie die einde van die lewe beteken nie.

Hoe geniet jy die ervaring?
Baie. Ek doen dit al vir ’n rukkie – terwyl ons Erfsondes geskiet het, het ek tussendeur die shows ook gaan doen. Om in die townships in te gaan, om te sien hoe ander mense lewe, dit hou jou dankbaar en nederig. Dinge gaan nie na jou kop toe nie. Jy besef wat jy doen, kan ander mense beinvloed. Jy’s nie net akteur nie, jy kan ook hoop gee.

Jy’t glo ’n lyf wat skrik vir niks … hoe hou jy dit so?
Ek was baie maer toe ek jonger was. Soos ek ouer geword het (ek is nou 29), het ek net meer lyf gekry. Ek gim en ek doen bikram-joga. Die joga dra nogal by om my kalm en gefokus te hou.

Jy klink baie uitgesorteer.
Ek het al ’n paar keer my kop goed gestamp, glo my! Maar in dié beroep moet jy nogal ’n goeie idee hê van wie jy is, jy moet in voeling wees met jouself. Soms sit jy sonder werk, of soms het jy te veel werk en jy moet skarrel, en dan moet jy nog tussendeur probeer om jou sosiale lewe ook aan die gang te hou. Jy moenie vasgevang raak in die materiële nie.

Ons hoor daar’s sprake van ’n CD?
Nee, geen sprake nie, maar wie weet, dalk eendag. Ek sing wel – die laaste was a capella saam met Gys de Villiers in Die Afrikaner. Dit was baie interessant. Ek het ook al ander kabarette gedoen, wat ek baie geniet het.

Ander planne – sepies, dalk Erfsondes 3?
Ek is bevoorreg dat ek ’n lewe kan maak omdat ek ’n verskeidenheid dinge kan doen, maar as ’n sepie – veral iets soos Isidingo – vir my ’n jaarkontrak aanbied, sou ek dit beslis aanvaar. Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat Renier in die derde Erfsondes is, maar ek weet glad nie – ek sou graag wou sien waarheen Henriëtta (Gryffenberg) hom neem …