sr1209my_wereld_jacqui_january05
Ons praat met

RSG se Jacqui January: “Ek het 20 kg verloor”

Ek hoop . . .

ek en my man [Charles] bly altyd lief vir mekaar. Ons het in April vanjaar ons 25ste huweliksherdenking gevier. Hy gee my soveel ruimte om myself te wees, maar is terselfdertyd die rots wat my anker. By hom kan ek net wees. My man het integriteit, hy’s eerlik. Hy’s nie ’n Mnr. Wêreld nie, maar hy’s ’n mooi mens.

ons as gesin sal altyd daar wees vir mekaar. [Sy en Charles het twee dogters: Carlene (23), wat pas haar honneurs in die regte voltooi het, en Kirstin (14), tans in graad nege.] Elke mens dra letsels van gesinne wat nie genoeg vir mekaar omgee nie. Ek hoop ek het as ma altyd die vermoë om my gesin bymekaar te hou, al moet ek soms rank pull! [Sy lag.]

om sommer lekker te verouder. Oe, ek kan nie wag om ouer te word, af te tree en ‘n heeltemal nuwe beroep te begin nie. Maar ek gaan nie ander mense se babatjies oppas nie, moenie eens daaraan dink nie!

Wat ek geleer het

Elke pondjie gaan in by die mondjie. Ek het die afgelope jaar met ’n gestruktureerde gewigsverliesprogram sowat 20 kg verloor. Daardeur het ek geleer om beter eetgewoontes aan te kweek, soos om drie maaltye per dag te eet, en soggens voor halftien ontbyt te eet.

Daar is nie kitsoplossings om te verslank nie, dis net die harde manier wat regtig werk. Ek is nou by die instandhoudingsdeel van die program en jy beleef maar terugslae, maar ek het ook geleer elke dag is ’n nuwe begin, ’n nuwe kans – in al die fasette van jou lewe. As jy gister ’n bietjie oortree het, vergewe jouself en gaan aan. Jy kan jouself tog so kruisig, en dis onnodig. Wees toegeeflik met jouself.

Jou houding en ingesteldheid oor die toekoms speel ’n bepalende rol in hoe dit gaan ontvou. Toe ons gesin byvoorbeeld twaalf jaar gelede van die Kaap af Johannesburg toe moes verhuis, was dit moeilik en dit maak jou benoud. Ons kon ons toe blindstaar teen die probleme en uitdagings soos misdaad, maar ons het dit positief benader en as ’n geleentheid beskou wat ons met albei hande wou aangryp. Nou woon ons al 12 jaar gelukkig in Auckland Park. Ons onderskat die krag van positiewe denke.

Die lewe is ’n wonderlike reis. Geniet dit net, dit gaan so gou verby.

Sê vir jou hartsmense hoe jy voel en dat jy omgee.

Lees die volledige onderhoud met Jacqui in die September 2012-uitgawe van SARIE

  • Marietjie du Toit

    Sjoe ek sukkel ook om gewig te verloor, en dit voel asof dit ‘n onmoontlike taak is. Maar as ek so na die nuwe jy kyk, skep ek ook moed. Kan jy my moontlik vertel wat jy gedoen het, sodat dit vir ons ook moontlik is om ‘n nuwe ek te wees. Wel gedaan.

  • Chanea

    n eet program van dag 1 tot 7 sal baie van hulp wees dankie!!!!

  • louise

    EK het 30kg binne 4 maande verloor. Dis ‘n "mind" "thing" As jou WIL nie WIL nie, kan jy maar op jou kop staan… dit sal nie gebeur nie.

  • Hannes Du Plessis

    Om die gewig te verloor is eintlik die maklike deel. Om dit af te hou is die moeilikste. Die aflgelope 35 jaar sukkel ek met my gewig en het al die dieete gevolg en goed verloor net om dit weer op te tel. Huidiglik is ek op die "Eat to Live" van Dr. Furhmann, maar ek het ook nou vir die eerste keer dit gekombineer met Hipnose. Vir die eerste keer het ek my lus vir soetgoed verloor! Hipnose is nie n maklike uitkoms nie, jy moet nog steeds bereid wees om die werk in te sit, n goeie dieet te volg en oefening te doen.

  • Elna

    Ek het die afgelope 3 maande 13 kg verloor deur nie op ‘n dieet te gaan nie. Ek het net eenvoudig besluit goed soos brood, pasta, pap, alles gemaak van wit meel, is taboe. Ek het suiker gelos en weigh-less se versoeters begin gebruik. Vol room melk is vervang met Fat Free melk. Ek drink nogsteeds nie baie water nie en oefen ook nie eintlik nie. Die belangrikste is dat jy moet ‘n kopskuif maak. Ek het in hierdie tydperk wel so af en toe iets geeet wat ek eintlik nie moes nie, maar ek het nie skuldig gevoel nie – net besluit dis nou klaar en weer reg geeet.

  • joleta

    Ai sy lyk so goed en mooi. Ek wil ook so lyk gee raad asb. Ek het 1 groot stap geneem ek het op gehou rook nou 3 maande maar nou moet ek die lyf reg kry. GEE MY N DIEET WAT MY SAL HELP ASB.