sr1212_jak_de_priester_2_
Ons praat met

Jak de Priester oor sy gesin se traumatiese jaar

Die afgelope agt maande was ’n warrelwind-tyd vir die sanger Jak de Priester en sy gesin. Dit het alles begin op 23 April, toe sy foon om 15:30 lui . . .

Jak neem ’n blaaskans saam met aktrise Anel Alexander en die regisseur van Klein Karoo, Regardt van den Bergh, in die Swartberg buite Oudtshoorn. Hy maak opgewonde gereed vir sy debuut-fliekrol, dié van ’n obsessief-kompulsiewe gastehuiseienaar.

Hy wys geesdriftig foto’s van sy pragkinders op sy selfoon toe die oproep kom.

“Ons soek jou oral, Michelle [sy vrou] was in ’n ongeluk,” sê sy sussie Ronel Mulder van Pretoria. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy só ’n oproep ontvang. Dit voel alles baie onwerklik. Hy het dan nog sowat ’n uur gelede met Michelle gepraat. Sy en hul kinders, Jamie (toe 2), Mija (toe 9 maande), skoonma, Bettie du Toit, die huishulp, Lydia Ntje, en haar 4-jarige dogtertjie, Dora, en Chelsey die miniatuurpoedel is al vroegoggend weg uit Parys vir ’n week lange vakansie op Uvongo aan die KwaZulu-Natalse Suidkus.

En nou dié ongeluk op die N2, sowat 40 km van hul bestemming . . .

Jak spring dadelik met nét sy selfoon en beursie in sy motor en jaag George toe om die eerste vlug te haal na sy mense op Port Shepstone, waarheen hulle na hospitale gebring is. Sy skoonma is later dié dag oorlede.

“My foon het nie ophou lui op pad na die lughawe nie. Al die admin wat skielik so saam met ’n ongeluk kom. Die polisie, insleepdiens, simpatiseerders . . .” Jak moes eers Johannesburg toe vlieg en daarna 150 km na Port Shepstone toe ry, maar daar was soveel engele op sy pad. Uiteindelik het hy besef het dat hy, “soos die engele wat ons gehelp het”, ook ’n verskil op aarde wil maak.

“Ek glo die dag wat jy op aarde aankom en die een wat jy dit verlaat, is vir jou bepaal. Tussen daardie twee oomblikke kry jy keuses. Dit maak my rustig. My lewe is nie in my hande nie. Ek weet nie hoe die lewe werk nie, maar ek glo die liewe Here het my op die aarde gesit as ’n sanger, skrywer, storieverteller, rolmodel . . . daar moet darem uitdagings in my lewe wees. Dit help nie ek het hierdie pragtige boring lewe met niks wat verkeerd loop nie en ek sê vir mense geniet jou lewe, wees lief vir jou vrou, moenie skree op jou kinders nie, bla-bla-bla. Wie gaan my glo? Ek sal nie na só ’n ou wil luister nie. Wat ek doen en beleef op aarde, gee my geloofwaardigheid om my liedjies te skryf en my stories te vertel.

“Toe ek ná middernag by die hospitaal aankom en ek Michelle daar in die flitslig van die verpleegster sien lê, het dit gelyk asof ’n trein haar getrap het. Haar arm was reeds geopereer en met ‘toue’ aan die dak vasgemaak. Met haar gekneusde gesig het sy heeltemal opgepak toe sy my sien, maar ek het net gesê alles sal oukei wees. Ek het toe al geweet haar ma is dood, maar wou dit eers later vir haar sê. Ek het besef ’n lang en moeilike pad lê vir ons voor. Dit was een van die mees traumatiese oomblikke in my lewe om na my twee kinders in die pediatriese saal te kyk. Hulle was veilig in hul hospitaalbedjies, maar my hart wou breek. Hulle was so weerloos en ek het net gedink dit kon soveel erger gewees het. Tóé het ek besef níks is vir my belangriker as my vrou en kinders nie. Selfs al was ek ’n miljardêr, sou al die geld in die wêreld hulle nie kon terugbring as hulle dood was nie.

“’n Mens jaag so na dinge wat jy moet doen, goeie liedjies wat jy moet skryf om famous te wees. Dis alles belangrik, maar nie in die groter prentjie nie. As die fondamente reg is met jou gesin, is al daai goed maar net blommetjies wat groei. Dit maak die lewe maar net interessant, gee jou iets om te doen. Ek het sommer in ’n stoel daar by hulle gesit en heeltyd na die slapende kindertjies gekyk. Ek het besef dis so belangrik om my gesin oor te gee aan God se genade. Die lewe is kort. Tyd is liefde, en dít kan niemand koop nie. Een van my buurtannies, wat vroeër vanjaar oorlede is, het elke keer as sy my gesien het, gesê: ‘Tomorrow is promised to nobody.’ Ek sê dit ook altyd in my shows. Dis so belangrik om liefde te koester. Jy kan dit so maklik opneuk. Geniet alles saam met die mense met wie jy dit moet geniet. Daar is so baie versoekings daarbuite, dis verskriklik.

“Dit was beslis nie die laaste tyd vir ons maklik nie. Michelle het tot dusver sewe operasies gehad. Haar regterarm was sleg gebreek. Sy het aanvanklik ’n oop fraktuur gehad en twee bene het by haar voorarm uitgesteek. Dit het gelyk soos twee afgesaagde bome. Sowat twee weke ná die ongeluk is haar wonde met ’n vakuumpomp gedreineer en dit was erg pynlik. Hierna is sy na ’n plastiese snydokter, Japie de Wet, en ’n ortopediese chirurg, Anton Julyan, in Pretoria verwys, wat die vergruisde pols opgebou en ook vel- en weefseloorplantings gedoen het. Sy was in en uit die hospitaal. Dikwels weke op ’n keer. Sy het gespot en gesê sy kan hierna weer natuurlik geboorte gee, die pyn was so erg . . .

“Dit het haar emosioneel uitgeput om dikwels weg van die kinders te wees. Jamie het in ’n kits grootgeword. Hy moes eenvoudig. Ek moes die pot aan die kook hou en steeds konserte hou, maar my hart was altyd by my gesin. Dit was moeilik om so weg van die huis te wees. Die mediese uitgawes was hoog. Skielik moes ek ook die rol van versorger oorneem. Michelle kon nie meer die kinders bad of doeke aansit nie. Saans, as Mija gehuil het, moes ek gaan bottel gee. Dit het my oneindige respek vir ma’s gegee. Dis nie maklike werk om kinders groot te maak nie. My ma, Louise, wat ook op Parys woon, het ons baie gehelp. En die hele Suid-Afrika het ons op die hande gedra. Ons het e-posse, twiets en Facebook-boodskappe van bekendes en onbekendes gekry. Mense het kos aangedra. Vroue op Parys het maande lank selfs ’n rooster uitgewerk wie wanneer vir die De Priester-huishouding se etes verantwoordelik is. Dit het ons hoop vir ons land en vir die lewe gegee.

“Natuurlik was daar ‘af ’ tye, maar die ander dag by die sanger Nataniël se vyftigste verjaardag het ek so na my mooi vrou gekyk en gedink deur hoeveel trauma sy is met haar fisieke pyn en die dood van haar ma vir wie sy so lief was …Ek het vir haar gesê: ‘My Lam, hoe doen jy dit? Jy is so amazing!’ Sy het gesê as jy weet daar is kindertjies wat afhanklik is van jou en jy het ’n man wat jou liefhet, dan gaan jy net aan en is dankbaar dat jy leef. Daar is altyd dinge wat jou kan aftrek. Jy raak neerslagtig oor konflik, as jy nie genoeg geld het nie, as die bouers nie doen wat hulle beloof het nie, as die winter te lank is . . .

“Maar so what? Let’s have fun. Kom ons wees lief vir mekaar op aarde en geniet die tyd wat ons saam met mense het. Ek het nogal baie geleer uit dié ervaring. Ek besef nou emosioneel was ek voorheen eintlik nêrens, al dink mense ek is so sensitief, ’n sanger en kunstenaar. Vir die eerste keer was ek ’n wáre versorger, soos ’n vrou. Ek het kosgemaak, die kinders vertroos, doeke aangesit. Dit het ’n ander deel van my emosies gestimuleer. Alle mans beskik daaroor, maar ons is nie altyd in ’n situasie wat dié emosies in ons na vore bring nie. Ek moes Michelle soms bad en aantrek. Dit was nie ’n fisieke blomtyd in ons verhouding nie, maar dit het my op ’n ander manier na haar laat kyk, hoewel ek nie aan haar kon vat as vróú nie. Dis asof ek haar skoonheid op ’n totaal ander vlak raakgesien het. Ek weet ek het nog altyd ’n mooi vrou. Die litteken op haar regterarm is aaklig, mense skrik as hulle dit sien, maar dis vir my mooi. Dis soos ’n litteken wat sê sy het lewenservaring.

“Die trauma het my ook kreatief geïnspireer. Ek het liedjies geskryf vir Michelle. Oor hoe dit régtig voel om haar lief te hê. Ons kom al so ’n lang pad, ken mekaar al sedert 1996, hoewel ons maar vier jaar getroud is. Ek is juis nou besig om my nuwe album wat in Februarie bekend gestel word, op te neem met baie van dié nuwe liedjies daarop. Ek sal dalk ook nog ’n boek skryf oor ons journey.

Nie almal hoef deur ’n ongeluk te gaan om te besef hoe kosbaar hul gesin is nie, maar ek dink dis dalk ’n bril vir iemand anders om met nuwe oë na die lewe te kyk. Michelle en ek is baie positief oor die gebruik van haar arm. Sy kry baie arbeidsterapie. In September het sy vir die eerste keer sedert die ongeluk weer bestuur, nogal ’n handrat. Ek het vir haar ’n tweedehandse pêrelwit Honda CRV gekoop. Dit was vir haar ’n baie emosionele ervaring. Sy het weer die ongeluk herleef en lekker gehuil. Niemand weet nog presies hoe die ongeluk gebeur het nie, want sy kan nie onthou nie. Ons weet net sy het beheer oor die motor verloor. Sy sal seker nog ’n jaar en ’n half lank rehabilitasie kry, maar ons is nie haastig nie. Stadig maar seker begin sy boeke omruil. Sy gaan goed aan.

“Op 16 Desember is my laaste konsert in Port Elizabeth en dan pak ons die motor en die waentjie en ry drie dae af Kaap toe. Ek het Jamie beloof ons gaan op pad ’n bietjie kamp en sterre kyk in die Karoo. En by die see op Langebaan gaan ons baie braai. My ouers, ouma Louise en oupa Carel, en my sussie Ronel en haar gesin. Ons sien daarna uit om net saam stil te word oor die Kerstyd. Ek begin eers diep in Januarie weer werk. Ons gaan beslis vir ouma Bettie mis. Dis die eerste Kersfees wat sy nie saam met ons is nie. Michelle is baie hartseer, want die verlies van ’n ma is so groot soos die hemel. As ek terugkyk op die afgelope agt maande, dink ek net, Michelle, Jamie en Mija is gespaar. Ek weet nog nie hoe nie, maar ek is op hierdie aarde vir ’n doel en ek weet dat elke liedjie wat ek skryf, ook van die Here kom.”

*Lees ook die onderhoud met Michelle de Priester in ons Januarie 2013-uitgawe.

  • Marie-louise

    Sjoe, dis bja erg, en die eertse wat ek hiervan hoor, ek was so besig en kyk nie regtig tv nie. Ek is ‘n aanhanger van Jak se musiek en kani glo ek hoor nou eers hiervan nie. Ek wil net my simpatie oordra aan die familie met hulle verlies… Onse Hemelse vader is met julle!!! Sterkte aan Michelle, jy’s ‘n rots, en geen wind of water kan jou omkeer nie… staan sterk in ons Vader!!!

    Met al my liefde

    Marie-louise

  • Amanda

    Ag Jak, ek glo dit was vir julle erg en wil graag simpatiseer, maar weet God is nog steeds in beheer van julle lewens. Sterkte vir die kersfeesseisoen en die nuwe jaar wat kom want Hy sal julle die Bonatuurlike krag gee wat julle nodig gaan he.

  • joan hanekom

    Liewe Jak en gesin
    ek weet voorwaar presies hoe jul voel. So te sê dieselfde het met ons as familie gebeur. ek was oppad terug na werk op 10 Januarie 2012 om 16:15 toe my foon lui. Dit was my moeder vanuit Upington (ons gesels net naweke) boeta Sckalk hul was in motor ongeluk ma niemand kan weet presies waar nie. Ek het net begin bid. Ons was as familie Kersfees op my sus hul se plaas net buite Hotazel en die gelag van kindertjies het weergalm in my ore. Waarvoor bid mens in sulke tye ? …. U wil laat die ambulans mense hul met liefde optel en versorg, laat die dr beskikbaar wees. Net na 17:00 het ons gehoor dat ‘n ambulans by Welkom aangekom het, ongelukkig is mense op toneel oorlede. Dan weer oproep nog ‘n oproep 2de ambulans is oppad na hospitaal – daar is 3 persone in ambulans. Dankie Here – wie sal dit wees wat oorleef het. Dan die skokkende woorde met nog ‘n oproep: Sckalk, Jeanelle (5 jr) en Juan (2 jr) het nie oorleef. Ag Here – droom ek, is U seker dit is hulle.
    Ek en my boet Deon en ander skoonsus het volgende oggend vanaf Pretoria na Welkom vertrek om voordat Karen ingaan na teater – haar te kon sien. Ons het net gebid en gebid en met elke persoon wat in die familie kring opgeneem is, het ons nog gehuil en nog gebid – hierdie gebeurtenis was groter as wat ons gedagte kon peil.
    Karen was enigste oorlewende van hierdie jong gesin. Ons klou neutagtig was aan elke familie herinnering. Hierdie wonderlike vrou (Karen) was ‘n mamma, was ‘n vrou vir haar man – ons ouboet en nou is sy net Karen.
    Ons prys God vir haar wonderbaarlike herstel – sy het gebreekte ribbes, pelvis, nek werwels gehad en ons moes gedenkdiens maande daarna eers hou. Tans woon Karen in Mosselbaai en het laasweek begin gim. Dit is steeds onwerklik seer en ons verlang so baie !
    Die ander gesin wie in ongeluk was – het hul mamma verloor en dus moet pappa alleen ouer-pligte nakom van hul 3 x seuns.
    Niemand weet hoe die ongeluk op ‘n reguit Vrystaat pad gebeur het. Soms is dit moeilik en soms wil-wil die baie onbeantwoorde vrae jou in duisternis dompel, dan moet jy kies. Houvas aan hoop en laat liefdevolle herinneringe jou vertroos.
    Jul moet moed hou en mekaar terdee geniet + waardeer en jul talente gebruik om seer mense gesonder te help maak. Jul het ‘n 2de kans gekry en God sal jul seën om Sy lig in duisternis te bring.

  • Paul Prinsloo

    Jak, na 47 jaar in ‘n rolstoel en met baie skete wat dokters gedurende 1965 reeds laat besluit het – en my familie daarop voorberei het sonder dat ek daarvan geweet het – dat ek slegs sowat ‘n jaar het om te leef, waarna hulle hulle berekening later, veiligheidshalwe weens verleentheid wat hulle nie weer wou smaak nie, na ‘n MOONTLIKE vyf jaar aangepas is, leef, beleef en dien ek nog vol lewe en energie waar ek kan.
    Die krag van ons Hemelse Vader Wat in alle glorie manifesteer vir diegene wat in genederigdheid en geloof met oorgawe lewe, soos kinders; sonder twyfel of vrae, soms bykans ongesiens sodat ons maande ná die verhoring van vorige bede, eers daarvan bewus word dat die bede wat ons in die Naam van Jesus afgepleit het, onopgemerk verhoor is.
    Hou vas aan hierdie getuienis; dit geld vir jou, Michelle, die kleingoed en jou hele ondersteungs – struktuur.

  • Wally Dutton

    Ek lyster baie na die liedjie "duisend woorde" dit sny soos ‘n mes deur my hart. Dit is so of my woorde neer gepen is, my gedagtes, my hartseer. Ja. Dit is die grootste vrees vir enige iemand. Daardie oproep. Niks kan ‘n mens op dit voorberei nie. Almal bid en hoop dit gebeur nooit met hulle nie. Ek het so ‘n oproep die 30ste Mei 2010 gekry. Na 3 jaar van harde paaie loop was dit die ergste wat kon gebeur. Na drie dae sterf die liefde van my lewe. Nou is ek ‘n alleen pa wat moet hartseer kinders vas hou, maar sit self met die ontsettende hartseer binne my. Na 2 en half jaar staan die lewe nog steeds stil. Almal se jy moet aanbeweeg. Jou kop probeer dit vir jou vertel, jy Moet aan beweeg, maar jou hart het die verskriklike verlange. My punt. Moet nooit uitstel, afstel of vergeet. Moet nooit kwaad gaan slaap. Waardeur mekaar. Onthou wat julle inmekaar raak gesien het. Onthou wat dit was wat julle liefde vir mekaar laat vlam vat het. Waardeur dit, koester dit. Dit is al wat julle het. Die wereld en sy dinge maak niks saak nie. Se elke dag vir mekaar hoe lief julle mekaar het. Bedoel dit. Leef dit. En laastens, bid dat as God een van julle die dag voor die ander eendag kom haal dat hy julle weer eendag soos twee pas verliefde by mekaar sal plaas in die Hemel. Dis al wat ons kan hoop, glo en bid, wat al die bitter hartseer pad moes stap om ‘n eggenoot op die wyse te verloor.