FOTO: www.jakkielouw.co.za

FOTO: www.jakkielouw.co.za

Ons praat met

Jakkie Louw raak betrokke by Kansa; ‘Liefde wen!’

 Ons het met Jakkie gepraat oor sy bydrae tot Kansa en sy liedjie.

Vertel ons meer oor “Een miljoen woorde”.

Die liedjie is geskryf vir ‘n pêl van my wie se meisie kanker gehad het.

In die musiekvideo word die storie van ‘n verliefde jong man wat langs sy siek meisie in die hospitaal sit, uitgebeeld. Sy ly aan terminale kanker en hy vra haar wat hy vir haar kan doen. Sy sê dan “gee vir my ‘n miljoen”. Niemand praat ooit oor geld op hul sterfbed nie. So hy sê dan vir haar:

“Ek sal poetry skryf oor jou mond en jou lyf. Ek sal liedjies dan maak en dit sing tot jy slaap . . . want vanaand soen ek jou in ‘n nuwe taal vir ons gebore . . . met een miljoen woorde.”

Ek moes my hare afskeer vir die video, en die meisie wat die aktrise is in die video het ook haar hare afgeskeer.

Ek doen vanjaar 12 optredes landwyd vir Kansa gratis. Ek het al langs jong mense se beddens gaan sing in hospitale in Pretoria. Die glimlagte en die hele ervaring het my lewe verander.

By sulke geleenthede gee ek my boekie, Liedjieskrywer 101, vir hulle geskenk, en vra dat hulle moet leer liedjies skryf en my e-pos sodat ek daarna kan kyk en hulle raad kan gee. Dit maak my wêreld heel om so iets te kan doen en dis ‘n voorreg.

Ek is deesdae ‘n trotse lid van ‘n weermag, naamlik Kansa. Ons veg ‘n oorlog. Al waarvoor ons baklei, is LEWE.

 

My ‘leuse’ vir 2011 is LIEFDE WEN!

Vir inligting oor hoe om betrokke te raak by Kansa, gaan loer na die skakels op my webwerf www.jakkielouw.co.za.

Wat presies behels die optredes?

Kansa noem dit die Relay for life – mense van ‘n dorp kom byeen en loop vir hoop om ‘n atletiekbaan. 

Dit duur van sononder tot sonop, en simboliseer die oomblik wanneer die pasiënt uitvind hy het kanker, tot in die nag – die chemoterapie-behandeling – tot die son weer skyn en die pasiënt genees is.

Die eerste rondte is vir mense wat kanker oorwin het en word die “survivor’s lap” genoem. Die tweede rondte is die “care giver’s lap”, wat vir familie, vriende en mense wat help tydens die duur van die siekte, is.

Dan stap die spanne om en om.

Tussenin is daar vermaak. Dis nou waar ek inpas. My video sal ook gewys word en verskeie survivors lewer toesprake en hoop word versprei. Hoop is sterker as enige pil en dit versprei soos ‘n veldbrand by dié geleenthede.

Waar gaan die optredes plaasvind?

By die veld waar die mense om die baan stap. Die datums sal binnekort op my webwerf, www.jakkielouw.co.za, beskikbaar wees, asook op Kansa se webwerf by www.cansa.org.za.

Vir enige ander inligting oor Relay for life, kontak Munnik by mmarais@cansa.org.za of vir my by jakkie@jakkielouw.co.za.

Hoe kan ander mense daarby betrokke raak?

Kyk op Kansa se webwerf. Daar is 80 Relay for life-geleenthede vanjaar, dit wil sê oral oor Suid-Afrika. Raak betrokke, help Kansa geld insamel by jou skool of kerk. Daar is niks mooiers as ‘n glimlag van iemand wat wil lewe nie.

 

Kyk na die musiekvideo van “Een miljoen woorde”