Ons praat met

Jan Blohm oor sy beste kompliment

Die sanger Jan Blohm se vierde CD, 7 Jaar, is nou op die rak. Hy praat met Marguerite van Wyk oor sy beste kompliment, musiek-mentors en sy eerste optrede in China.
 
Wat probeer jy met dié CD sê?
Elkeen wat daarna luister, maak die musiek sy eie en kry hul eie boodskap.
 
Hoe verskil dit van jou debuut-CD, Melkstraat Confessions?
Elke CD verskil van die vorige een omdat mens progresseer.
 
Jy het al verskeie toekennings gekry: Album en Liedjie van die Jaar asook Nuweling van die Jaar vir jou debuut-CD, die Huisgenoot Tempo-toekenning vir die beste rock- groep, in 2008 by die SAMAS is jy bekroon vir die beste Afrikaanse DVD van die jaar . . . Die lys is lank. Wat beteken toekennings vir jou?
Vir enige musikant is dit ‘n voorreg om erkenning vir sy werk te ontvang.
 
Jy was die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar om in 2008 in Beijing, China, op te tree. Vertel meer van die geleentheid en wat dit vir jou persoonlik en vir jou loopbaan beteken het?
Dit was ‘n groot voorreg. Ek was die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat China toe genooi is. Die Suid-Afrikaanse ambassadeur was die aand by die show, asook Chinese, Kanadese en natuurlik Suid-Afrikaanse gaste. Dit was die opening van ‘n Suid-Afrikaanse restaurant, Pinotage. Dit was ook die finale geleentheid van die vieringe waar die Suid-Afrikaanse Ambassade en ander organisasies die tien-jaar-herdenking van diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en China gevier het.
 
Dis nie aldag maklik om lirieke en musiek te skryf nie. Hoe werk dié proses vir jou?
Ek werk elke dag aan my musiek en lirieke. Dis my ambag. Daar is nie ‘n vasgestelde resep nie. Dis net iets wat natuurlik kom vir my. My musiek word gedryf deur emosies.
 
Watter musiek/sangers het die grootste invloed op jou lewe gehad?
Daar was baie, maar veral Bob Dylan, The Doors, Nirvana . . .
 
Wat was die grootste struikelblokke wat jy in jou lewe moes oorkom? En bevind jy jouself op die oomblik op ‘n goeie “stasie”?
Ek aanvaar dinge in die lewe nie as struikelblokke nie, dis maar net ‘n ander tune waarop jy moet dans. Die lewe is soos ‘n sokkie. Die tunes bly verander en jy pas aan by die musiek en hou net aan met dans. Op die oomblik dans ek op ‘n happy tune.
 
Hoekom geniet jy dit om musiek te maak?
Ek sien dit as drie-dimensionele kuns.
 
Wat is die beste kompliment wat jy nog ooit gekry het oor jou musiek?
‘n Man en vrou het een aand by ‘n show na my toe gekom en aangekondig dat hulle swanger is. Die kind is blykbaar verwek op een van my songs. Ek kan nie onthou watter een nie. Op ‘n strange manier was dit ‘n kompliment.