vanuatu_troue002
Ons praat met

Jan Ellis gesels uit Australië, wys sy foto’s

Die akteur Jan Ellis is sedert Augustus 2007 in die legendariese Maroubra Beach-grondgebied van die hardebaard Surf-stam, die Bra-Boys, in Sydney, Australië. Hy skryf deesdae tekste vir die M-Net sepie Binnelanders via e-pos en het homself ook as redigeerder bekwaam. Hy gesels per e-pos met Marguerite van Wyk.

Geniet jy dit Australië?
Ek geniet dit om myself te laat geld in ‘n land en bedryf waar ek anoniem is. Ek geniet die Aussie-gees, hul sin vir humor en ongekompliseerde uitkyk op die lewe. Ek geniet my wonderlike vrou Gualdina, en ons woonplek wat uitkyk oor die baai waar ek daagliks surf tussen die lang ure se werk deur. Ons het ook wonderlike vriende wat my van dag een af laat deel voel het van die kring. Ek het dit ook vreeslik geniet om hier te wees toe ons die Rugby World Cup wen, maar veral toe die Proteas die Aussies vir die eerste keer ooit in hul eie agterplaas geklop het in die Toetsreeks. Snot en trane gehuil van trots en verlange. Toe skop ons sommer hul alies in die Eendag-reeks ook. Ek het dit natuurlik lekker ingevyf by my Aussie-pelle en vir ‘n slag was hulle tjoepstil.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
My familie, vriende, kollegas, die verhoog, TV- en filmstelle, Slaapstad, Jozi, die Reënboognasie, die Transkei en die surfspots, asook die onophoudelike politieke komedie.

Beplan jy om nog lank daar te bly?

Geniet jy dit om draaiboeke vir Binnelanders te skryf – hoe het dit gebeur?

Dis ‘n professionele anker vir my in Suid-Afrika. Ek het ‘n tydelike rol in Binnelanders gespeel (Steve, die gepynigde dokter, haha!) net voor ek weg is en het geweldige respek vir hoe die vervaardigers, skrywers, span en spelers dit regkry om daagliks ‘n gehoor te boei. Ek wou graag deel bly van die Binnelanders-familie en het ‘n skryftoets gedoen. Dit hou my skrywersvaardighede skerp en dis ‘n wonderlike manier om steeds Afrikaans in my lewe te hê. Die enigste ander tyd wat ek Afrikaans praat, is wanneer ek en my vrou stry kry! Ek stry net soveel beter in Afrikaans! Of wanneer ons wil skinder oor die Aussies sonder om verstaan te word.

Moeilik om te sê. Ek het ‘n goeie begin gemaak hier en dit sal dom wees om dit alles nou te laat vaar. Oor ‘n jaar en ‘n half behoort ek burgerskap te kry en dan sal ons weer besin oor dinge. Hopelik kan ek op die ou end tussen Suid-Afrika en Australië pendel vir werk en die lewe.

Wat kan ‘n mens by die Australiërs leer?
Hul ongekompliseerde uitkyk op die lewer, gees en sin vir humor. Maar jy moet in ag neem dat hier nie 11 amptelike tale gepraat word nie, so daar is ‘n baie meer natuurlik-eenvormige volksgees. Dit is nie kultureel so divers soos Suid-Afrika nie, maar dit is besig om te verander.

Dis ‘n reuse-land met sowat 20 miljoen mense, so elke jaar migreer baie mense hierheen, veral vanuit Asië. Dit is vir die Australiërs, grotenteens Anglo-Sakse, ‘n aanpassing. Hulle kan dalk bietjie by ons leer oor ‘n multi-kulturele samelewing. Hier staan ‘common sense’ en ‘good governance’ uit. Die sosio-ekonomiese sisteem en publieke dienste, is eersteklas.

Goed bekwame individue word aangestel in magsposisies en weldeurdagte besluite word gemaak oor hoe om die Aussie-pot binne die global village aan die kook te hou. In die media en die visuele kunste is die standaard van professionalisme en infrastruktuur uitstekend.

Watter interessante werksgeleenthede het al oor jou pad gekom in Oz?
Ek het kamerawerk en redigering gedoen op die Red Bull Junior Surf Master-reeks (2008), wat vir ‘n winterseisoen teen die Ooskus getoer het en toe sommer vir Mick Fanning (die huidige wêreldkampioen-surfer), Ross Clark-Jones en Tom Carrol (surf-legendes), ontmoet. My droom is om eendag ‘n properse surf-fliek te maak.

Ek het ook ‘n joppie gekry as video-enkodeerder by die Microsoft Tech Ed-konferensie in Barcelona (2008) deur ‘n Aussie aanlyn-produksiemaatskaapy. Ek het vir ‘n jaar vir ‘n Skerm-Hulpbron-Maatskappy gewerk waar ek filmontwikkelingsprojekte vir minderbevoorregte gemeenskappe vervaardig en gekoördineer het met staatsbefondsing.

Wen die Tropjunior kortfilm-fees 2009 Een van ons projekfilms het in 2009 eerste prys gewen
by Trop Jr (jeugafdeling van Tropfest, die grootste kortfilm-fees in die wêreld)

Wat dink jy van die meisies in Australië?

Hulle is nie op hul bek geval nie, dis feite. My vrou het vir vyf jaar hier gewoon voor ek haar ontmoet het, so tegnies is ek met ‘n Suid-Afrikaanse Aussie getroud.

My Ierse buurman, Colin, het my egter my heel eerste werk gegee kort ná ek in 2007 hier aangekom het: plafonne uithaal en insit. Dit was fantasties: stresvry, nuwe vaardighede geleer en lekker om weer fisieke werk te doen. Ek gaan steeds nou en dan uit om vir hom te werk, maar dan meer vir die k*kpraat as die werk.

Kry jy die geleentheid om baie in Australië en omliggende gebiede/lande te reis?
Ons het al kus-op getoer tot in Brisbane, was al ‘n paar keer in Melbourne (wonderlike stad) en ‘n week in Tasmanië. Volgende op ons lys is snowboarding in Nieu-Seeland.

Het jy al ‘n Ozzie-aksent – hou jy van dié aksent?
Dit hang maar af van watter hoek jy luister. Die Aussies vind ons aksent maar kras op die oor, bloot omdat hul eie vir húlle normaal klink. Toe ek onlangs in SA was, het ‘n hele paar Suid-Afrikaners vir my gesê hulle hoor ‘n bietjie Aussie in my aksent wanneer ek Engels praat, so ek neem aan dit kruip maar vanself in my praatwyse in.

Is jy bly jy het die skuif na Australië gemaak?
Beslis, maar ek mis Suid-Afrika ook geweldig baie. Ek het nie die skuif gemaak omdat ek groener weivelde gesoek het of uit vrees vir geweld, of misdaad of diskriminasie gevlug nie. Ek was lus om iets anders te probeer om my horisonne te verbreed en sover werk dit. Tog sal Suid-Afrika altyd wees waar my hart lê. Dit het my help maak wat ek is en ek is baie trots daarop. Ek sou graag wou weet dat ek op die lang duur ‘n betekenisvolle bydrae kan maak in Suid-Afrika, hopelik met die Aussie-ondervinding en gereedskap.

Gauldina en my Kaapse boesemvriend Eugene Sydney, Kersfees in Centennial-park
Ek en Gauldina by my boesem-
vriend, Eugene.
Sydney-vriende Kersfees in Centennial-park

Watter stad in Australië staan vir jou uit?
Melbourne. Sydney is baie meer internasionaal en korporatief, maar Melbourne sien ek as die kulturele hoofstad. Dit het geweldig baie karakter en daar is ‘n wonderlike kreatiewe buzz. En dis die tuiste van Aussie rules-voetbal! Ek het ‘n paar live games gesien en is as ‘n Collingwood-ondersteuner geannekseer. Rugby bly nommer een, maar ek is mal oor Aussie rules – dit lyk maar soos ‘n getjommel omdat ons nie die reëls verstaan nie. Daai ouens is uitstekende atlete.

Hoe inspireer Australië jou kreatief?
Ek het nie veel kreatiewe inspirasie nodig nie, want dis deur kreatiwiteit wat ek brood op die tafel moet help sit. Nood leer bid, soos hulle sê. Ek bestee op die oomblik minder tyd en energie om te dink aan rolle of idees vir flieks en toneelstukke. My kreatiewe instinkte het geskuif na hoe ek en my vrou ‘n goeie lewe kan lei. Toe ek enkel was, was dit malik om meer ‘boheems’ en ‘kunssinnig’ te wees, maar my prioriteite het verander. Redigering het ‘n nuwe pad vir my oopgemaak – dis steeds kreatief, maar dis meer inkomste-georieënteerd.

Hoe gereeld kom jy terug Suid-Afrika toe om vriende en familie te besoek?
Ek hoop om ten minste een keer in twee jaar ‘n draai te kom gooi, soos nou onlangs, toe ek in die toneelstuk God of Carnage, opgetree het vir Pieter Toerien en die Kaapse been van ons ‘International Wedding Tour’ gedoen het. Wanneer my loopbaan dié kant (in Aus) gevestig is, sal ek hopelik meer gereeld in Suid-Afrika wees, vir langer periodes.

Ek saam met my ma en my susters Al die tjomme op ons Kaapse troue
Ek by my ma en my susters Kaapse vriende by ons Kaapse troue
  • wonder

    Hoeveel troues het die man dan nou gehad…. Hopenlik elke keer met dieselfde vrou. ha ha ha

  • armin

    Veels geluk en alle beste – ek is ‘n groot aanhanger, vandat ek jou die eerste keer in ‘Fiela se Kind’ gesien het. Jy het soveel talent en ek dink jou kleure is net bietjie te helder vir die SA toneel hoewel jy inspirasie kan put uit SA se internasional sukses. Ek hoop jy sal iets uitdagend vind en wie weet die Aussies het groot name opgelewer. Jy het defnitief die ‘game’, moet net nie ophou nie. God bless.

  • Sanet

    Ai, ek mis sy lang hare!

  • Ellen Ellis

    Welgedaan! Sou net graag die artikel in die Sarie-tydskrif wou sien ter wille van al die belangstellendes wat nie toegang tot die webwerf het nie -of kom dit dalk nog?

  • Amanda Strydom nee Gilbert

    You lucky fish,

    Hene ek is so mal oor daai plek waar julle nou is ek wil soontoe veral na die GOLD COAST gedeelte. Oe of is dit aaaiii daai gedeelte van die aardbol lê my na aan die hart. Gaan draai asseblief in die G C omgewing dit is soos hier by ons in Tzaneen hier in die Noord Transvaal. Dit was asof ons eenkeer in Magoebaskloof gery het so eenders het ons dit ervaar!! Alles wat hier groei, groei daar!! No worries mate!!

    Ja, ek sal Aussieland enige dag trek ek is so moeg vir oop grense, die geweld, moord verkragting en werkloosheid in Suid Afrika.

    Geniet dit julle twee. Jan, vir jou het ek die meeste geniet in GERALDINA man dit was darem nou vir jou ‘n lekker storie. Geniet jou vryheid die skoonheid die wonderlike vrugte en groente die netheid. Kyk verder as vêr stap kaalvoet op die strand sien die mooi in alles en leef!!

    As ek die lotto wen kom groet ek jou persoonlik!!! Drink ‘n heildronk as die sonsak klink die glasies en skreeu dit met opregte harte die hemelruim in die lotto is A….. sin!!Ek wag xxxx :)

    A

  • Loenie

    Ons beny julle die voorreg om vry en onbesorg in ‘n nuwe land ‘n nuwe lewe te mag lewe. Natuurlik sal julle verlang, maar Suid-Afrika is net ‘n vliegtuig ver. Groete uit Lydenburg, Mpumalanga.

  • Ammie

    Hoekom so baie troues?