Top Billing se Janez Vermeiren en die supermodel Giselle Bündchen
FOTO: Instagram (@janez_vermeiren)

Top Billing se Janez Vermeiren en die supermodel Giselle Bündchen FOTO: Instagram (@janez_vermeiren)

Ons praat met

Janez Vermeiren ontmoet supermodel Gisele Bündchen

Die Top Billing-aanbieder Janez Vermeiren noem sy ontmoeting en onderhoud met die Brasiliaanse supermodel Gisele Bündchen verrassend en onvergeetlik. Hy vertel vir SARIE.com daarvan.

“Dit het begin met Gisele wat van die garnale op haar bord vir my aanbied! Ek het een gevat en ons het begin gesels. Die onderhoud het eers 50 minute later begin,” vertel hy. Janez het Gisele in New York ontmoet vir die bekendstelling van Carolina Herrera se nuwe geur, 212 VIP Rosé.

“In die 8 jaar wat ek al by Top Billing werk, was dié onderhoud die beste en maklikste een. Sy is so nederig en plat-op-die-aarde dat dit gevoel het of ek met ’n vriendin praat.”

Janez en Giselle gesels in die onderhoud nadat hulle 'n bord garnale gedeel het FOTO: Instagram (@janez_vermeiren)

Janez en Giselle gesels in die onderhoud nadat hulle ‘n bord garnale gedeel het
FOTO: Instagram @janez_vermeiren

Boonop het Gisele nie soos ander supermodelle met wie Janez al gepraat het, haar antwoorde kort gehou uit vrees dat sy te veel sal sê nie.

Top Billing se Janez en Jeannie D in Rwanda

“Sy was eerlik oor waar sy vandaan kom en het heeltemal oopgemaak teenoor my. Ek het al van die groot name in die modelkringe ontmoet en die meeste onderhoude was ongelooflik, soos toe ek met Candice Swanepoel gesels het. Maar met baie van die ander modelle het dit vir my gevoel of hulle voorgee.”

Top Billing se Janez Vermeiren en die supermodel Giselle Bündchen FOTO: Instagram (@janez_vermeiren)

Top Billing se Janez Vermeiren en die supermodel Giselle Bündchen
FOTO: Instagram (@janez_vermeiren)

Candice Swanepoel gesels met SARIE.com

“My onderhoud met Gisele was by verre die beste. Sy het my totaal en al verstom.” Hy verduidelik dat sy nie die tipiese model is wat hy verwag het nie.

“Sy is die perfekte pakket – hoewel sy nie die mooiste vrou in die wêreld is nie, is sy steeds beeldskoon en sy het so ’n groot, nederige persoonlikheid. Maar tog het sy ook daardie brazilian flair.”

Beste onderhoude

Janez het waardering daarvoor dat Gisele, ondanks alles wat sy al bereik het, steeds nederig is. Mense met dié eienskap maak die beste onderhoude volgens hom.

“Ek wil met mense praat wat al baie bereik het in hul lewens maar steeds nederig is. Mense soos Bill Clinton en Richard Branson lyk of hulle baie gemaklik kan wees.” Sy droomonderhoud? Met sy “grootste held van alle tye”, Roger Federer.

Babanuus

Janez en sy verloofde, Juliana Vasconcelos, het vroeër vanjaar aangekondig dat hulle ’n nuwe pienkvoet verwag. Die paartjie wou aanvanklik nie weet wat die geslag van hul baba, wat Janez se tweede kind is  gaan wees nie.

Janez en sy verloofde, Juliana Vasconcelos FOTO: Instagram (@julianavasconcelosss)

Janez en sy verloofde, Juliana Vasconcelos
FOTO: Instagram (@julianavasconcelosss)

Die video waarvan almal praat – Janez en Kim Engelbrecht wys wat liefde is

“Daar is min genoeg verrassings in die lewe en ek het gedink dié is die grootste en mooiste ding om mee verras te word,” verduidelik hy. Maar toe Juliana se mediese span tydens ’n doktersondersoek hul mond verbypraat, was die aap uit die mou gelaat: die paartjie verwag ’n seun!

“Ek is baie opgewonde! En omdat dit nie my eerste kind is nie, is ek meer ontspanne,” vertel hy. Janez se eersteling, Matisse, is al 9 jaar oud.

Janez en sy seun Matisse FOTO: Instagram

Janez en sy seun Matisse
FOTO: Instagram

 

“As dit ’n meisie was, sou ek dalk meer senuagtig gewees het. Maar gelukkig is ek nou taamlik ervare met seuns.”

Janez en Juliana, ’n model van Brasilië, oorweeg meer as een naam vir hul eerste baba saam. Hulle hou baie van die naam Cuaun, maar het nog nie finaal besluit nie.

Janez is baie opgewonde om dié kleinding te ontmoet FOTO: Instagram (@janezvermeiren)

Janez is baie opgewonde om dié kleinding te ontmoet
FOTO: Instagram (@janezvermeiren)

“Dis ’n Brasiliaanse naam, maar ons is bang mense sukkel om dit te spel en uit te spreek, so ons is nog nie seker nie,” sê hy.

Intussen wag Janez opgewonde vir die 1ste Augustus – Juliana se kraamdatum.

*Janez se onderhoud met Giselle Bündchen word tydens vanaand se episode van Top Billing op SABC 3 om 19:30 uitgesaai.