Ons praat met

Janie du Plessis brul op ‘n Harley vir borskanker

Vanaf 17 tot 24 Oktober gaan 15 vroue op Harley Davidson-motorfietse die lang pad aandurf op die Journey of Hope vir Borskankermaand. En as jy gedink het dís braaf, dink weer. Want al 15 van hulle het borskanker oorleef. Lou-Ann Stone gesels met Janie du Plessis, een van dié inspirerende 15…

Vir hoeveel jaar is jy al betrokke by die Journey of Hope-projek?
Dit is my 2de rit.

Was jou eie stryd teen borskanker hoofsaaklik die rede hiervoor?
Nee, ek het ongelooflike herinneringe aan my eie jare met ‘n Harley oorsee. Ek het in Europa wonderlike ritte/reise onderneem. Ná borskanker het ek nooit weer op ‘n fiets geklim nie, want ek’t my fiets in Europa gelos toe ek teruggekeer het. Om die rit aan te pak was in my gemoed die afsluit van ‘n moeilike tyd en ‘n sirkel wat ek graag wou voltooi.

Hoekom juis Harley Davidson-motorfietse?
‘n Harley is ‘n baie ongemaklike fiets en nogal swaar en moeilik om te ry, maar daar is ‘n gevoel van laat gaan en sorgeloosheid wat ‘n mens voel wat ander motorfietse net nie het nie. Die hele idee is dat jy ‘n basiese Harley koop en hom dan mettertyd opdollie met chroom, leer of wat ookal, sodat die fiets later jou persoonlikheid kry. Dit is maar waaroor dit gaan. Elke Harley is uniek… soos ‘n vingerafdruk wat net jóú strorie kan vertel.

Waarna sien jy die meeste uit van jul 7 dae op die pad?
Die alleenryery en bitter lang pad. Borskankermaand is die maand waarin ek my kanker-ervaring herdenk en dit is die tyd wanneer ek nogal reflekteer oor oorlewing en dankbaar is vir só baie. Die Journey of Hope is my dankie-sê…

Beskryf ‘n tipiese dag op die Journey of Hope?
Dis lank! Ons vat lank om aan te trek en dit maak my mal om te wag vir die groep. Om so ‘n groep vrouens aangetrek te kry met handskoene, helmets, boots, brille en wat ookal is ‘n logistieke nagmerrie. En as ons op die fietse is, is daar altyd een wat gou ‘n draai moet loop of iets vergeet het…

Na ‘n paar dae raak dit makliker en kom ons vinniger aan die gang. Ons stop altyd langs die pad by al die dorpe en daar is gewoonlik iets beplan. Ons breek op in groepies en besoek al die skole. Dan is daar dikwels ‘n ander gemeenskapsbyeenkoms.

Middagetes is altyd op plekke waar die gemeenskap gelinsamelings doen. Dan hou ons praatjies en spring op die fietse en ry verder. In die aande het ons meestal af, maar hier en daar is daar aandfunksies ook.

Wat, in jou opinie, is die grootste wanpersepsie rondom borskanker?
Dat almal doodgaan.

* In die Oktober-uitgawe (vanaf 14 September te koop) deel 3 ander vroue húl verhale van vasbyt en hoop. Ons sê ook hoe jy jouself teen borskanker kan beskerm.

  • Hyla

    Ek het nie borskanker nie, maar my droom was nog altyd om so n rit aan te pak met ander vrouens….Janie, aan jou en die ander vrouens van SA wat borskanker ‘oorleef’ het – baie sterkte vir julle en mag hierdie n wonderlike reis vir jul wees..(en ja, ek het ook nie n Harley nie – miskien eendag…)

  • joey

    Ek is verlede jaar met borskanker gediagnoseer. Het ‘n mastektomie en ook rekonstruksie gehad en nou leef ek voluit en besef hoe kosbaar die lewe is. Ek sal baie graag wil saam ry maar ek het nie ‘n Harley of enige ander motorfiets nie , maar miskien eendag leen iemand vir my een en ry ek saam. Ek is intussen besig om ‘n Relay for Life te reel en is baie opgewonde oor kanker bewusmaking – veral onder vroue! Geniet jul rit – ons sal vir julle bid!