Ons praat met

Janine Neethling se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

om my seun, Sammy (6), te leer om ander te respekteer, dat daar nie iets soos ’n probleem is nie, net ’n oplossing. En dat gebrek aan kommunikasie een van die grootste redes is hoekom verhoudinge verbrokkel en onmin ontstaan.

om aan te hou leef met ’n uitroepteken en nie net met ’n punt, punt, punt nie.

dat almal wat besluit om in Suid-Afrika te bly in die land sal belê. Ek sal graag musikante wil oplei om die gehalte van die musiek te verbeter.

vir kalmte, vrede en oop kommunikasie vir my gesin.

EK IS BANG

ek mis die leidrade op die pad. Dis dáár en wys jou watter besluite jy moet neem. As jy terugkyk en jy voel jy het die verkeerde besluit geneem, het jy dit waarskynlik uit vrees gemaak.

vir vrees. Soms kry dit die oorhand, soos toe ek met artritis gediagnoseer is. Maar toe besef ek jy kan uit alles iets leer. Ek weet dit gaan my spel in die toekoms aantas, maar ons liggame is nie gemaak om te hou nie. Daar is altyd ’n ander manier om musiek te maak.

Nee, ek wás bang vir konfrontasie, om presies te sê wat ek dink. Maar as jy mense konfronteer, is die reaksie dikwels verrassend. Iemand sal erken: “Ja, daar is ’n probleem. Kom ons kry ’n oplossing.”

WAT EK GELEER HET
 

Jy moet jou hart volg. Toe ek my man (akteur Dale Cutts) ontmoet het, het sommige vriende gesê ek maak ’n fout om met hom te trou omdat hy 31 jaar ouer as ek is. Hy’s nou al drie jaar in ’n rolstoel weens ’n beroerte, maar ek het die pragtigste kind op aarde. Ek weet ek moes hierdie pad loop om te leer.

Dis nooit te laat om te leer nie. Twee dae ná Dale se beroerte het hy gesê ek moet eerste na myself kyk. Ek leer dit nou eers doen.

As jy deur ’n krisis gaan, ontdek jy ware vriendskap. Ek moes uit my huis trek terwyl Dale in die hospitaal was sodat ons dak reggemaak kon word. Toe ek in my kantoor kom, was daar ’n bed, yskas, mikrogolfoond en klere, alles wat ek nodig gehad het. Dis die wonderlikste gevoel om te sien hoe mense jou wil help, om te besef jy is waardig genoeg om hierdie liefde te ontvang. Ek is dankbaar vir die goeie energie wat na my kant toe gekom het. Ek het geweet ek moet nie net dankie sê nie; daar sal ’n tyd kom wanneer ek ook sal kan teruggee.

Dit het my ’n leeftyd geneem om te leer jy moet toelaat dat mense jou help. Soms weier jy hulp, want jy is te trots. Jy wil dinge op jou eie kan doen, maar geen mens is ’n eiland nie.

Die sangeres Sibongile Khumalo glo musikante is genesers. Ons moet die verantwoordelikheid besef van wat ons op daardie verhoog doen. Musiek help ons om gesond te word, om uitbundig te leef en vir ’n oomblik nie om te gee wat enigiemand van jou dink nie.

Geluk is om alles wat in my lewe gebeur, of dit onreg of ongeluk of vreugde is, te aanvaar. Om binne my die vrede en liefde te hê om te glo die pad wat ek stap, is die regte pad. En dat ek alles in my vermoë sal doen om die beste keuses te maak.

Niemand se standpunt is ooit ongeldig nie. Almal verdien om na geluister te word. As iemand se opinie van joune verskil, vind ’n goue middeweg om saam te kan voortbou aan ’n vennootskap, vriendskap of verhouding.

My vriendin Elzabé Zietsman sê altyd: “If you give up on your dream, you die.” Sy herinner my om elke nou en dan my droom te herbevestig. Ek wil lig en vreugde met mense deel deur my musiek en hoe ek leef.

Ons kan almal vir mekaar iets leer. Net soos mense wat oor my pad kom dinge vir my moet leer, moet ek aanvaar ek het die verantwoordelikheid om iets vir ander te leer.

Ek glo in die gesegde: “The universe applauds action, not thought.” As jy niks doen nie, gaan niks gebeur nie.