Ons praat met

Jason Hartman: fliek-debuut, nuwe CD & Monaco wink!

“Ek moes kyk hoe my ouers hul huis verloor, ek het jare in ’n tent gewoon en kon net eet wat in die tuin gegroei het, en ek het al 70 km ver geloop om meel en sout te koop. Daar sal vir seker in die toekoms ‘n boek daaroor wees,” vertel Jason.

“Maar ek hou aan leer. Ek is gelukkig dat my familie tawwe karakters het wat my gewys het hoe om uit my eie donker borrel te kom. Ek moet my demone daagliks hanteer en beveg. Dís die tipe mens wat ek is.”

Maar tóg is Jason Hartman, wat op ‘n plaas in die KwaZulu-Natalse Middellande grootgeword het en mede-M-Net Idol was (saam met Sasha-Lee Davids in 2009), vir die oomblik in ‘n gelukborrel ná sy debuut in die rolprent A Million Colours.* (Dié rolprent is die opvolg van 1976 se klassieke e’Lollipop,  een van Suid-Afrika se grootste lokettreffers wat in veertig lande vertoon is).

“Die vervaardiger, André Pieterse, het iemand gesoek om mý karakter, Norman Knox, te vertolk. Een aand het hy na ‘n episode van Idols gekyk en die ‘wilde kyk’ in my oë het die deurbraak gegee,” vertel Jason.

Hoewel Jason geen formele toneelspel-opleiding het nie, het hy besluit om die tonele te vertolk asof hy “als op die oomblik ervaar. Dís die geheim. Moenie dat die akteur in die plek staan van die karakter nie. Wéés die karakter.”

Aanvanklik was hy senuweeagtig. “Maar dan moet jy net aangaan. Ek het sedert kleintyd die gevoel gehad dat ek eendag beroemd gaan wees. Tóé wou ek ‘n motorfietsjaer wees!”

Jason sê die lekkerste van die fliek-spelery was beslis om soveel nuwe mense te ontmoet en by elkeen te leer. “Ek sal graag in die toekoms weer wil toneelspeel. Ek bewonder akteurs soos Anthony Hopkins, Leonardo DiCaprio, Brad Pitt, Edward Norton, Mel Gibson, Ben Stiller, Johnny Depp.  Dit was baie harde werk. Sommige dae het ek ook musiek-shows gegee en ek moes alles inpas. Dit was nie snaaks om 20-uur-dae te werk nie. Ek dink die selfvertroue wat ek met Idols opgebou het, het my beslis gehelp met my toneelspel.”

Sy tweede CD, All or Nothing (met sowat dertien liedjies, almal uit sy eie pen), word in Augustus vrygestel. Sy eerste CD, On the Run, wat in 2009 vrygestel is, het sowat 15 000 kopieë verkoop.
Verlede jaar het hy drie keer in Monaco opgetree: By die Monaco Grand Prix, voor 3 000 mense.
“Dit was surrealisties. Ons het die motorwedren vanaf ‘n seiljag in die hawe dopgehou en het die volgende dag ‘n regstreekse uitsending oor Radio Monaco gedoen. Daarna was daar 20 shows in en om Monaco en ons het ons toer van 6 weke geëindig met die opening van The Eagles se optrede voor 29 000 mense in die Monaco-sokkerstadium.”

Op 15 April vanjaar, twee dae voor die Monte Carlo Tennis Tournament, tree hulle by die Gala Dinner op van die Conservation Guardians (hy is een van die 7 raadslede) van dié bewaringstrust.
Jason is ’n groot aanhanger van die Spaanse tennisster Rafael Nadal (hy het pas sy biografie gelees) en hoop om hom binnekort te ontmoet. “Ek dink sy vermoë om onder druk koelkop te bly en om vir elke punt te veg, is ongelooflik. Ek streef daarna.”

* A Million Colours word op Donderdag, 26 April, in Suid-Afrika uitgereik.

 

  • Annelene Crafford

    Sy storie gee baie mense hoop! Voorwaar ‘n aanhouer wat bo uitgekom het! Baie geluk Jason, jy verdien sukses!!!

  • ssw

    movie voel ongelooflik depressing. my jinne.