FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Jo da Silva gesels oor die supervrou-sindroom wat haar in die hospitaal laat beland het

Op 7de Laan is kykers mal daaroor om haar te haat. Maar byna die enigste ding wat Jo en haar karakter, die sakevrou Gita McGregor, gemeen het, is hul absolute toewyding aan hul kinders. “My dogter, Caitlin (18), is my bestaansrede. Sy inspireer my elke dag en ek wil voel ek verdien haar aansien.

Ek is stomgeslaan oor die wonderlike vrou wat sy nou word. Sy gaan volgende jaar mariene biologie studeer en is ’n regte eko-vegter.”

As enkelma erken Gita die pad was nie altyd maklik nie – sy is vroeg vanjaar vir drie weke in die hospitaal opgeneem omdat sy ly aan “supervrou-sindroom”.

“Ek het net heeltemal te veel hooi op my vurk gehad. Buiten ons lang dae op stel, het ek vir elke liefdadigheidsprojek ja gesê en was voorsitter van die skoolbeheerliggaam. Ek het elke Saterdag en Sondag gewerk, en soms 12 uur lank op weeksdae. Toe kry ek bronchitis wat vir twee maande nie wou ophou nie en my in die hospitaal laat beland het.

“Die ironie is dat deur só hard te probeer om by alles uit te kom en meer vir my dogter te gee, kon ek toe glad nie daar wees vir haar eerste twee maande van matriek nie.”

Jo leer nou om nee te sê en af-tyd vir haarself toe te laat, al moet sy haarself nog soms dwing. “Ek noem dit die vliegtuig-effek: as jy nie eerste jou eie masker opsit nie, verloor jy jou bewussyn en kan jy nie jou kinders s’n opsit nie.

“Ek wens ek kon vir elke vrou daar buite sê om gawer met haarself te wees, soos sy is met ander mense. Wees daar vir jouself, en vir mekaar – dis nie ’n kompetisie nie.”

Lees ook