sr0906jodasilva_1_
Ons praat met

Jo da Silva se hoop, vrese en lewenslesse

EK HOOP

dat ek aanhou leer, groei en nuwe dinge ontdek. Dat  ek nooit my sin vir verwondering vir die klein dingetjies in die lewe verloor nie. Of dit nou is om ’n paddatjie in my groentetuin te waardeer of om hardop te lag as ek kyk na my katte wat speel. Die lewe is ’n proses en ek wil altyd verras wees, tot diep in my tagtigs!

my dogter, Caitlin Bianca (11), word ’n vreeslose jong vrou. Iemand wat haar eie kop volg, sonder dat ander vir haar voorsê wat sy moet doen.

ek sal nooit my sin vir humor verloor nie. Dis my sterkste wapen teen die lewe se draaiballe.

dat ek nooit sal grootword nie! Die lewe is te belangrik om dit té ernstig op te neem. Dis een van my gunsteling-aanhalings. As ons nie kan pret hê nie, wat is die doel van die lewe?

EK IS BANG

vir grieselrige koningkrieke (Parktown prawns). Wat is dit met hulle? Wie het gesê hulle kan Parktown verlaat en die res van die wêreld besoek?

dat ek só besig raak dat ek vergeet om pret te hê. Of dat ek nie genoeg tyd aan my vriende sal kan bestee nie. Met my bedrywige skedule is daar min tyd om te sosialiseer. Maar dit beïnvloed nie die gehalte van my vriendskappe nie. Gelukkig het ek ’n sterk vriendekring wat my ondersteun, aanmoedig en raad gee.

dat ek “ondergronds” moet gaan omdat lojale 7de Laan-kykers Gita se gedrag met myne verwar – netnou word ek in die openbaar gestenig vir háár gedrag!

dat ek nie kan bybly met die tegnologie nie. Die enigste mens wat die DVD-masjien kan programmeer, is my dogter, en sy moes aan my verduidelik hoe ’n MP3-speler werk. Ek moes ook al vir ’n kollega vra hoe ’n PSP-rekenaarspeletjie werk. My dogter het ’n PSP en ek was rasend van angs toe sy my vra om haar te help om Lara Croft uit die gevaar te red. Ek maak arme Lara Croft elke keer dood . . .

WAT EK GELEER HET

Ek leer elke dag. My dogter is my grootste leermeester en vergeef my ook alles. Ek het geleer om sagkens met myself te werk, myself lief te hê en te vergewe.

As jy eerlik is oor wat jy nodig het en wie jy is, sal dit maklik wees om eerlik met ander te wees.

Elke mislukking is eintlik soos ’n klein oorwinning, want dis ’n geleentheid om te leer en te groei.

Skei die kaf van die koring in jou vriendekring en omring jouself net met eerlike mense. Dis dié wat jou lewe verryk en jou help om jou volle potensiaal te bereik.

Vind dié dinge waaroor jy passievol is in die lewe en doen dit dan voluit. Moenie vir geld en roem werk nie. Dít voed nie die siel nie.

Moet nooit ’n krokodil as troeteldier aanhou nie! Dit sal nié ’n gelukkige einde hê nie.

Borsel jou tande nadat jy spinasie geëet het en moenie spaghetti bestel as jy op ’n eerste date is nie.

As verhoudings eenvoudig was, sou dr. Phil nie ’n loopbaan gehad het nie.

Ander mense sal jou verras wanneer jy dit die minste verwag. Maar jy moet hulle die geleentheid gee.

My ma het my geleer: As jy die huis verlaat, dra skoon onderklere, ingeval jy in ’n motorongeluk is. Dan sal jy nie later verleë wees voor verpleegsters nie!

Ek beskou moeilike situasies as uitdagings en word nie daardeur “regeer” nie. Angs is nie my meester nie. Ek sien dít as ’n negatiewe, donker mag wat geen doel dien nie. Ek probeer angs altyd teenwerk met ’n positiewe lewenshouding en ’n goeie dosis humor.