jody
Ons praat met

Jody Abrahams

Hy’t meer as twee hande nodig om al sy teater-toekennings vas te hou. Jy sal sanger-akteur Jody Abrahams onthou vir sy bekroonde rolle in die musiekteaterstukke District Six en Kat and the Kings. Hy was ook te sien in TV-reekse soos Hard Copy en Backstage, en in 7de Laan. Tans wys hy gesig in die mini-reeks Hopeville (tydens Maart en April) op SABC2. En van 5 tot 30 Mei speel hy en die liefde in sy lewe, Diaan Lawrenson* (ja, van 7de Laan-faam), in ‘n nuwe toneelstuk, Under the Fig Tree, in die Baxter-teater in Kaapstad. Die stuk is geskryf deur Stephen Simm (Miss Kwa Kwa), onder regie van Gaerin Hauptfleisch. André le Roux het ‘n paar vrae voor Jody se neus gehou.

Vertel kortliks wat gebeur onder die vyeboom.
Vier minnaars (ek en Diaan speel al vier). Twee onbeskryfbare liefdesverhale. Een storie. Met ‘n tikkie magic.

Hoe lank gaan jy en Diaan nou al uit?
Officially van 2007 af.

Dis julle eerste keer saam op die verhoog. Vlinders?
Natuurlik! Maar ek sien baie uit daarna.

Hoe speel ‘n mens in ‘n liefdesverhaal teenoor jou geliefde? Makliker of moeiliker?
Lekkerder!

Bestaan daar nie die gevaar dat julle julsélf speel eerder as die karakters nie?
Dis hoekom ons iemand betaal het om ‘n teks te skryf en iemand gekry het om die regie te behartig.

Stry julle agter die verhoog?
Definitief! Maar ons verstaan albei dat ons vir ‘n beter produksie baklei.

Jy speel al toneel vandat jy agt jaar oud was op die Kaapse Vlakte. Hoe hou ‘n mens dit so lank in die bedryf?
Harde werk en hare op jou tande.

Het jy bevoorreg grootgeword? Arm?
Ons was nie juis bevoorreg ten opsigte van geld en besittings nie. Ek het in ‘n klein kamertjie saam met my ouma en oupa grootgeword, maar daar was altyd kos en baie liefde. My oupa het alles gegee sodat ek die regte education kry.

Voel julle akteurs ook die slegter ekonomiese tye?
Beslis. Ons hele bedryf voel dit. Nie net as akteur nie, maar ook as vervaardiger. Dis tien keer moeiliker om ‘n produksie op die planke te kry.

Van al jou teaterpryse, watter een was die lekkerste?
Die tjoklitkoek in st. 5. Die Laurence Olivier-toekenning was ook lekker, hoewel jy hom nie kan eet nie.

Jy en Diaan bedryf ook ‘n restaurant op Villiersdorp. Staan jy self agter die kospotte?
As gas-sjef kook ek gereeld by die Dagbreek-restaurant. Dis immers een van my passies! ‘n Mens moet nogal jou storie ken om vir 60 mense kos te maak, so dit hou my op my tone.

*Lees ook ons onderhoud met Diaan in jou Junie-SARIE (te kry vanaf 4 Mei).