FOTO Phyllis Green

Ons praat met

Joernalis Odette Schwegler se ‘reis’ met Joost

Odette sê aan SARIE.com net ná die nuus van Joost se afsterwe:

Geen woorde kan beskryf hoe dapper Joost was nie. Geen woorde kan beskryf watter groot leemte hy in ons harte, die harte van ’n nasie, agterlaat nie. Geen. Maar Joost van der Westhuizen se storie eindig nie hier nie. Ek het aan hom ’n belofte gemaak en ek is ’n vrou van my woord. Harde werk lê voor – en dit sal gedoen word. Go raise some hell in heaven my friend.

Die dokumentêr Glory Game: The Joost Van Der Westhuizen Story wys vanaand, 6 Februarie, om 21:00 op M-Net Movies Showcase (DStv-kanaal 107).

*UIT ONS ARGIEF: Die artikel is in SARIE, Desember 2014 gepubliseer.*

‘Hy voel soos familie’

Arrogant, selfsugtig . . . Dis hoe die bekroonde joernalis Odette Schwegler aan oud-rugbyspeler Joost van der Westhuizen gedink het. Toe ontdek sy ’n nederige man …

Op 20 Februarie 2013, Joost van der Westhuizen se 42ste verjaardag, het hulle begin met die verfilming van sy lewensverhaal.

Dit was ’n tema-verjaardagparty. Joost, altyd gereed met ’n grappie, het as die geliefde rolprent-karakter Forrest Gump met homself gespot: “Life is like a box of chocolates, you never know what you’re gonna get.”

Dié oud-Springbok is in April 2011 met motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer, ’n ongeneeslike siekte wat die sentrale senuweestelsel aantas en tot verlamming en uiteindelik die dood lei. Dokters het destyds gesê sy kans is 20 persent om twee jaar lank te leef.

Hy was dus reeds in genadetyd toe hulle begin skiet het, sê Odette Schwegler, regisseur en vervaardiger van Joost: spel van glorie, ’n vollengte dokumentêre film oor Joost se reis met MNS. ’n Reis wat ook hare geword het.

Ons gesels by haar huis in Johannesburg terwyl haar vier kinders rondom ons klim en klouter. Met die nodige  byklanke, natuurlik. Christian is 9, Liam 7, Robin 4 en Riley 2.

Ironies genoeg het Odette jare gelede gedink Joost is arrogant en selfgesentreerd. Nou kyk sy jou vas in die oë en sê: “Hy is soos my broer. Ek gee om vir hom.”

Odette en Joost tydens verfilming

Odette en Joost tydens verfilming

Moenie wáág om dit buite konteks aan te haal nie, waarsku die petite donkerkop. Nadat sy ’n jaar en ’n half intiem saam met dié voormalige nr. 9-rugbyreus en gewese Bokkaptein gewerk het, voel sy deel van sy gesin.

Odette was al die CNN-televisienetwerk se Afrika-joernalis van die Jaar (in die kategorie vir TV-nuus). The Media, ’n tydskrif wat op mediasake fokus, het haar benoem as een van die invloedrykste mediamense onder 40 in SA.

Maar vra jy wat die hoogtepunt van haar loopbaan was, benadruk sy vyf keer met gevoel: Joost . . . Joost!

Sy beskou dit as ’n voorreg dat hul paaie kon kruis. Sy storie het haar nederig gemaak – en opnuut laat besef alles is moontlik.

Twee jaar gelede, net voor haar 40ste verjaardag, het sy besluit sy gaan leer klavier speel. Sy wou ook ’n projek aanpak wat saak maak. “En toe vind Joost se storie my. Dit móés vertel word.”

Nadat ek as SARIE-joernalis die première van Joost: spel van glorie in Augustus by die kykNET-Silwerskermfees gesien het, verstaan ek dit.

In sy rolstoel is hy dié aand by die lokaal in ’n vyfsterhotel in Kampsbaai, waar die rolprent vertoon is, ingestoot. Die rugbyheld wat op sy dag soos ’n blits oor die rugbyveld kon hardloop en nie geskroom het om die vyand te duik nie, is deesdae rietskraal. Maar die glimlag is nog daar. En die priemende blou oë wat sy vyande so dikwels ontsenu het, is sag. Of ondeund.

Ek het, soos die grootste deel van die gehoor, daar uitgestap met trane in my oë. Maar ek het geweet Joost sal, wat ook al gebeur, oukei wees. In die dokumentêr blyk dit die siekte het hom nuwe insig gegee. Eers het hy gevra:

Hoekom ek? Later: Hoekom nie ek nie?

Hy wil nie bejammer word nie. Hy glo wat die lewe ook al aan hom uitdeel, sal hy kan hanteer.


Die saadjie vir hierdie besonderse dokkie is in 2012 geplant. Odette was deel van die span wat in opdrag van die MNet-nuusprogram Carte Blanche twee dae saam met Joost deurgebring het. Aanbieder Derek Watts het hom in ’n stadium gevra of hy oor enigiets spyt is. “Ja, oor die afgelope drie jaar,” was sy antwoord. Dit was ’n verwysing na sy leuens oor die seksskandaal wat in die pers uitgelek het.

Kykers se reaksie daarop was ongelooflik, sê Odette. “Dit was asof hulle ná sy eerlikheid werklik met hul held kon identifiseer. Almal van ons het immers swakhede.”

Sy het nietemin ses maande lank moed bymekaar geskraap voor sy hom gevra het of sy die dokkie kan maak. “Jy voel aardig om iemand wat dalk gaan sterf, te vra of jy sy lewe met ’n paar kameras en ’n groot tegniese span kan binneval.”

Joost het dadelik “ja” gesê – omdat dit sy J9-Stigting in die kollig sou stoot. Hy wou net weet hoe lank sy hom nodig gaan hê. Sy het aanvanklik gedink ses maande.

Maar dié reis sou hulle uiteindelik ’n jaar en ’n half besig hou, en na dertien stede in ses lande, op vier kontinente neem. Hulle was saam in onder meer Kaapstad, Pretoria, Londen, Edinburg, New York, Boston en New Orleans. Sy het altyd geweet dié siekte is vernietigend. Maar toe hulle die eerste keer wat sy hom ontmoet het om die Carte Blanche-program te bespreek, saam cappuccino drink en hy sy kop laag na die koppie toe afbuig – soos ’n kameelperd wat water drink – het dit haar soos ’n hou in die maag getref. “Dit was ’n oomblik van waarheid,” vertel sy.

“Toe ons met die projek begin het, kon hy nog sleeptong praat en het hy effens mank geloop. Nou is hy in ’n rolstoel en praat baie moeilik, hoewel ek hom nog verstaan. Hy kan nie meer self eet nie.”

Die fliek fokus egter nie op sy agteruitgang nie. Dit is ’n storie van hoop – méér as net ’n verhaal van vasbyt.

Want hoe swakker hy fisiek word, hoe sterker word sy siel.

Verlede jaar het dit in ’n stadium gelyk asof hy gereed is om te sterf. Deesdae is hy ’n ander mens, vol moed.

By hom het sy geleer eers as jy jou gesondheid kwyt is, as jou tyd min raak, kry jy kans om die lewe opnuut te waardeer. En om dinge reg te maak.

Vriende en familie het haar gewaarsku sy moet vir berading gaan omdat sy só intiem met ’n sterwende mens gaan saamwerk. “Maar Joost het alles so normaal gemaak; hy was so vol grappe. Die eerste twee weke was ek hartseer en daarna het ons pret gehad,” sê sy.

Volgens Odette was Joost deurentyd baie sterk met die maak van die film. Al wanneer hy tranerig geraak het, was as hy oor sy kinders gepraat het. Hy sou hulle so graag wou sien grootword. Hy sien hulle elke dag en het ’n goeie verhouding met sy gewese vrou, Amor.

“Ek het baie empatie met Joost as pa. Hoewel hy ’n doodsvonnis gekry het, wou hy hê sy kinders moet die beste van hom in dié dokkie sien. Dít was moontlik my dryfveer om die toon van die fliek reg te kry. Ek wou sy verhaal sensitief, sonder simpatie, maar met die nodige humor oordra. En ek dink ek het daarin geslaag.”


In Maart 2013 het hulle op die eerste skof van hul reis vertrek – Londen toe. Die doel was om inligting vir die J9-stigting oor MNS in te samel, asook om ’n glansryke geselligheid by te woon om geld vir die stigting in te samel.

Veral die Amerikaanse been van die reis was vol uitdagings. Sommige dae was dit vriesend. Hulle moes met ’n rolstoel reis en was soms vyf, ses uur lank op die pad in minus-temperature. Almal het Joost gehelp en hy was ontspanne, nooit geïrriteerd nie.

“Joost was (en is steeds) begeesterd. Dokters was verstom oor sy uithouvermoë,” vertel Odette.

By die Massachusetts-hospitaal in Boston het hy byvoorbeeld vier en ’n half uur lank toetse ondergaan. Joost het egter vasgebyt en op sy asemhaling gefokus sodat hulle die toetse enduit kon doen.

Sy is steeds verwonderd oor hoe “gelukkige toevallighede” lewens kan  begeester. Soos toe sy – sonder om dit te besef – die bal aan die rol gesit het om moontlik Joost se grootste droom waar te laat word: Die vestiging van die Joost van der Westhuizen-sentrum vir Neuro-aftakeling.

“In ’n Londense kroeg, van alle plekke, ontmoet ons toevallig die voormalige Skotse rugbyspeler Scott Hastings. Sy skoonma is aan MNS dood. Hy vertel toe van die Euan MacDonald-sentrum vir MNS in Edinburg. En stel voor MNS-kenners van Suid-Afrika en Skotland moet saamwerk.”

Dit het gelei tot die eerste samekoms van sulke kundiges by Murrayfield in Edinburg tydens die toetswedstryd tussen SA en Skotland in November 2013. Dr. Andre Mochan, ’n neuroloog van Wits, het SA verteenwoordig. Sheila McGillivray, ’n sakevrou, het ’n sleutelrol gespeel in die geldinsameling.

“Ek voel geëerd dat Joost my gevra het om ’n direkteur van sy stigting te wees,” vertel Odette. “Hy was so skaam toe hy dit gedoen het, byna soos ’n skoolseun wat sy eerste  uitvra.”


Die dokkie is ook die storie van liefde. En die krag van ’n hegte gesin. Joost se familie, ouboet Pieter en sy vrou, Marijke, jonger boet, Gustav (getroud met Sonja), en sy ma, Mariana, en pa, Gustav, hou Joost se arms hoog. Pieter help al twee jaar lank om Joost (op weeksdae) te versorg. Dié oudpolisieman is deesdae betrokke by Joost se J9-Stigting, wat inligting, steun, praktiese en geldelike hulp aan MNS-lyers en hul gesinne verskaf.

Odette en Joost tydens verfilming

Odette en Joost tydens verfilming

Omdat dit so persoonlik is, het Odette die dokkie, voor dit by die Silwerskermfees vertoon is, aan Joost en sy gesin gewys. “Dit was ’n baie emosionele affêre. Ons het ’n bietjie gelag en nou en dan ’n traan gestort. Daarna het ons by my huis vleis gebraai. Joost se ma het my vasgedruk. Ná die première het Marijke my hand vasgehou en gesê: ‘Nou is jy familie.’”

Sy is self ’n gesinsmens. Haar man, Frank, verstaan dat sy vanweë haar werk lang rukke van die huis af weg moet wees. En sorg dan dat dinge by die huis reg verloop.

Volgens Odette het Joost vroeër vanjaar hernude energie gekry nadat hulle die Amerikaanse MNS-kenner dr. Hiroshi Mitsumoto hoor praat het. Hy het vertel MNS-lyers “kan leef so lank as wat hulle wil leef ”. Jou houding bepaal so baie. “Dit was die eerste keer dat ons iemand so iets oor dié siekte hoor sê het. Sedertdien is Joost ’n nuwe mens – hy maak weer langtermyn-planne.”

Odette kry trane in die oë, aangedaan. “Ek dink hy is nog lank nie sterwend nie. Dink net aan die Britse fisikus dr. Stephen Hawking. Hy is op 21 met MNS gediagnoseer en is nou 72.”

In die dokkie sê die eertydse Bokkaptein, François Pienaar, oor Joost se rugbyspel:

“Hy’t nie bevraagteken nie, hy’t gedoen, ondersteun en altyd geleenthede gesoek.”

Odette reken dit is ook hoe hy sy siekte benader. “Maar hy bevraagteken beslis konvensionele medisyne – vasberade om dit verkeerd te bewys.”

Gary Teichmann, eertydse Bokagsteman, se woorde in die dokkie som Joost se lewenshouding goed op:

“Op die veld het ek geweet dié ou gaan 150% gee – om te wen en om ander by te staan.”