johan_botha
Ons praat met

Johan Botha

”As die Here vir my is, wie kan teen my wees? Hy het my die talent gegee om te sing en mense só gelukkig te maak,” sê Johan Botha, wêreldbekende Suid-Afrikaanse tenoor, wat in April die rol van Siegmund in Wagner se Die Walküre by die Metropolitan Opera in New York vertolk. Hy deel die rol met die legendariese Spaanse tenoor Plácido Domingo.

 

Johan laat weet uit Wene, waar hy deesdae woon: ”Dis ‘n groot eer en voorreg. Ek weet nie of hy vir die repetisies gaan opdaag nie. Indien wel, sal ons gesels en idees uitruil oor hoe om verskeie rolle te sing. Hy het soveel meer ervaring as ek. Ek het al die voorreg gehad om in Verdi se Aida te sing toe hy dit in Los Angeles gedirigeer het. Hy is ‘n wonderlike mens om mee saam te werk.”

 

*Johan se optredes is op 5 en 11 April. Hy het dié rol reeds verskeie kere in Wene gesing, maar sing dit nou die eerste keer by die Metropolitan. Besoek sy webblad by: www.johan-botha.com