Ons praat met

Johan Stemmet in nuwe musiek-vasvraprogram. Kan hy jou vasvra?

Wat is die naam van die beroemde skildery waarin die foxterriër, Nipper, by ‘n grammofoon sit?

1: The Song of the Master
2: My Master My Friend
3: His Late Master’s Dog
4: His late Master’s Voice
 
Wie het ’n groot treffer gehad met die Afrikaanse weergawe van “The Big Rock Candy Mountain”?
 
1: Des Lindberg
2: Jeremy Taylor
3: Four Jacks and a Jill
4: Charisma
 
Watter musiekinstrument is wêreldwyd die topverkoper?

1: Kitaar
2: Mondfluitjie
3: Klavier
4: Blokfluit

* Sien die antwoorde op dié vrae onderaan dié blad.

Dis die tipe vrae wat Afrikaanse musieklegende Johan Stemmet binnekort in die nuwe kykNET-musiek-vasvraprogram, Musiek Trivia, sal vra.

“Dis ’n nuwe unieke konsep,” sê Gizela Arndt, publisiteitsbeampte vir kykNET. “Twee deelnemers ding mee om soveel moontlik geld te bank. Die wenner ding dan mee vir die boerpot.”

In ’n onderhoud met sarie.com sê Johan hy is verskriklik opgewonde oor die nuwe uitdaging. “Dis ’n lekker ding om ná 22 jaar van Noot vir Noot te doen. Waar dit in Noot vir Noot gaan oor die herken van liedjies, gaan dit in Musiek Trivia oor die interessante feite agter die kunstenaars en agter die musiek.”

Waar Noot vir Noot ’n baie energieke program met ’n vinnige tempo is, is Musiek Trivia ‘n stadiger, maar meer spannende geselsprogram, verduidelik Johan.  

Net soos met Noot vir Noot het Johan ook hierdie program self vervaardig. Hulle het dit in Januarie verfilm en die eerste episode word Saterdagaand 14 April om 20:00 op KykNET uitgesaai. 
“Dit is ‘n heel ander manier van aanbied,” sê Johan. “Dis meer in ’n geselstrant en is heelwat rustiger. Niemand is gejaag om dadelik ’n antwoord te gee nie, maar daar’s baie geld op die spel en dit laat die spanning hoog loop.”

Hulle dek die hele musiekspektrum – van goue oues uit die twintigerjare tot hedendaagse treffers. “Die gedagte is dat die hele gesin by die musiek aanklank moet vind, van die oudste tot die jongste,” sê Johan.

Musiek Trivia beïnvloed glad nie die uitsendings van Noot vir Noot nie. Laasgenoemde se 37ste reeks word tans op SABC2 uitgesaai, Vrydae-aande om 19:30.

* Musiek Trivia wys vanaf 14 April vir 13 weke elke Saterdagaand om 20:00.

[box:full:red:both]

ANTWOORDE:

[/box]

Wat is die naam van die beroemde skildery waarin die foxteriër, Nipper, by ‘n grammofoon sit?

4: His late Master’s Voice

Wie het ’n groot treffer gehad met die Afrikaanse weergawe van “The Big Rock Candy Mountain”?

1: Des Lindberg

Watter musiekinstrument is wêreldwyd die top verkoper?

2: Mondfluitjie


  • andries

    johan ek is opsoek twee na lietjies, ek dink dit ‘n gesing in die 1950.
    daar is ‘n roosboom in my tuin.
    die arme klein seuntjie