image001
Ons praat met

John Smit die ‘gentleman’

Verloor is vir hom’n leer-ervaring. “ ’n Geleentheid om net weer op te staan,” sê John Smit. Dit gaan soms hárd op die rugbyveld en ons Springbok-kaptein is hoeka nie bang vir seerkry nie. “Ek voel glad nie die pyn nie,” sê hy. “Tensy ons aan die verloor is.”

Gelukkig weet hy darem ook van (baie) wen. John het al meer kere die Springbokke gelei as wat enige ander rugbykaptein ter wêreld dit vir hul nasionale span gedoen het. In 2007 het die Bokke die Wêreldbeker gewen. Vanjaar het hulle korte mette gemaak met die Britse en Ierse Leeus en toe ook die Drienasies-trofee verower.

Tog kom sy gesin nog altyd eerste. “Want lank nadat ek my Springboktrui weggepak het, sal Roxy en die kinders nog daar wees,” sê hy.

Sy sterk punt as kaptein is sy vermoë om almal in die span, en ook die skare, te verenig. Volgens kenners is John die enigste Springbok-kaptein wat dit behoorlik kon regkry. (Hy verklap later sy geheim . . .)

John was van jongs af ’n leier. Hy vertel sy ma, Valerie, het hom as klein seuntjie reeds laat spraaklesse neem.’n Leier moet goed kan praat. Op laerskool in Rustenburg was hy prefek en op Boys High in Pretoria rugbykaptein én hoofseun. Oor sy rugbyprestasies sê hy net: “Ek is baie gelukkig dat die ouens my kapteinskap geniet, dat ek omring is deur sulke goeie, talentvolle manne en dat ek te veel beserings gespaar is. Ek het nog nooit gedink ek is so great nie.”

Nie so nie, meen die Springbok-afrigter, Peter de Villiers. John het eienskappe wat van onskatbare waarde is vir sy span.“Hy het die vermoë om te inspireer. Hy’s professioneel en aanvaar niks as vanselfsprekend nie. Hy stel ’n voorbeeld. Tydens elke oefening of wedstryd gee hy 100 persent. John is ’n ware leier en ambassadeur vir sy land, ook ’n gentleman en ’n coachable speler,” sê Peter aan SARIE.

Wanneer John sy stewels ophang, sal hy ’n goeie politikus wees, reken mense.

“Ja,” sê die kaptein, “wat ek nou doen, is nie te ver van politikus wees nie”. Maar hy sal eerder jong spelers wou afrig en eiendomme ontwikkel. “Intussen wil ek alles wat ek aanpak so goed moontlik doen.”

En wat wil hy hê moet mense van hom sê wanneer hy eendag nie meer hier is nie?

“John was ’n goeie ou wat Springbok-rugby in ’n beter posisie gelaat het as wat dit voorheen was. En dít op ’n eerlike manier.”

Jy en jou vrou, Roxane, het klein kindertjies, Emma (3) en Tyron (1). Help jy ooit met take soos doeke omruil?

Wanneer ek by die huis kan wees, is dit opvangtyd. Dan ruil ek wel doeke om. As dit ’n pooh-doek is, trek ek net my hemp oor my neus en gaan voort met die takie.

Watter waardes wil jy aan jou kinders oordra?

Dieselfde as wat my ouers aan my oorgedra het: Werk hard vir sukses. Wees lojaal, eerlik en nederig. 

Wat sal jy vir jou seun sê as hy eendag wil rugby speel?

Is jy seker gholf of tennis is nie vir jou nie? (Hy lag.) As ek vir Tyron so kyk, lyk dit asof rugby wel ’n opsie sal wees. As hy daarvan hou, kan hy dit speel. Maar ek sal, nes my ouers, gespanne en bekommerd wees dat hy gaan seerkry, veral in die skrum. My ouers steek nog steeds voor elke wedstryd kerse vir my aan.

Wat is ’n belangrike lewensles wat jou ouers, Valerie en Basil, jou geleer het?

As 10- of 11-jarige, voordat ek spansport begin verkies het, het ek nog drome gehad om Wimbledon te verower. Ek het aan ’n tennistoernooi deelgeneem en hoe verder ek verloor het, hoe kwater het ek geword. Ek het destyds ’n humeur gehad. Toe ek verloor, het ek my raket gegooi. Ek het my teenstander se kop rakelings gemis. My ma sê toe ek mag nooit weer tennis speel totdat ek geleer het om my humeur te beteuel en goeie sportmanskap te openbaar nie. Dis ’n les wat ek tot vandag toe onthou.

Wat beteken jou ouers se ondersteuning vir jou?

Hulle is die basis van wie ek is. Hulle het my altyd laat voel ek is hul oogappel en seker gemaak ek kry wat ek nodig gehad het, van rubystewels tot leiding en ondersteuning.

Jou ma wil weet wie se gebraaide aartappels die beste is: hare of Roxy s’n?

Albei maak heerlike aartappels en as ek nou gaan sê my ma s’n is net ’n klein-klein bietjie beter, gaan Roxy nie weer vir my aartappels maak nie!

Jy is die laatlammetjie. Brian is 8 jaar ouer en David 6 jaar. Is hulle ook in ’n sportrigting?

David werk as passer en draaier en Brian het sy eie boumaatskappy.

Watter herinnering uit jou kinderdae bly jou by?

Wanneer ons vakansies vir my ouma, Joan Graham, op Scottburgh (KwaZulu-Natal) by die see gaan kuier het, het ek agter in die middel tussen my broers in die motor gesit. Ons het mekaar lekker gestamp. Daardie ritte én die gesinsvakansies was baie spesiaal. 

Brian vertel jy het op 12 vir die eerste keer rugby gespeel en het glo glad nie geweet wat jy doen nie. Hy vra of jy onthou dat hy en David jou een vakansie leer rugby speel het?

Ja! Hulle het my geleer hoe om ’n bal met my linkerhand aan te gee, te skrum en die Banana Boys (die Sharks van KwaZulu-Natal) te ondersteun.

Jy woon in Durban. Wat is so spesiaal daaraan om vir die Sharks te speel?

Ek het in 1997 as 18-jarige vir hulle begin speel.Tot dusver was hulle my hele lewe. Hulle het ook al verskeie legendariese spelers soos Gary Teichmann opgelewer. Die eer vir my prestasies kom hulle toe. Ek het net goeie herinneringe.

Deon Carstens, wat ook vir die Sharks speel, wil weet hoe jy dit so goed regkry om jou gesinslewe met rugby te versoen.

’n Mens moet realisties wees. Jy moet perspektief kry, besef dat rugby eintlik net ’n klein deel van jou lewe is. Jou gesin speel die grootste rol en is die belangrikste. Lank nadat jy ophou speel het, is hulle steeds daar.

Hoekom het jy B.Com. aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg opgeskop?

Ek het absoluut niks uit daardie kursus gekry nie. Boonop het ek in daardie tyd drie keer vir rugby gaan toer. Ek moes kies tussen studeer en rugby.

Jy en Roxy ken mekaar al sedert laerskooldae, het in 1996 as 18-jariges jul verhouding begin en is in 2004 getroud. Wat is jul resep vir liefdesgeluk?

Dis nie maklik vir haar om ons gesin so dikwels op haar eie te moet hanteer nie.’n Rugbyloopbaan verg ’n vrou wat absoluut verstaan. Roxy het my geken voordat ek bekend was, reeds vandat ek ’n vet rooikoppie was. Ons het saam die pad deur hoërskool gestap en saam gegroei. Sy het die grootste rol in my loopbaan gespeel. Roxy stel haarself altyd tweede. Sy het haar loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester vir eers opsy geskuif. Sy is liefdevol en reguit. She calls a spade a spade. Daarby is sy lojaal, eerlik, super-intelligent en gorgeous.

Sy was glo die eerste meisie wat jy gesoen het . . .

Ja, en sy sê vir my ek is die eerste man wat sy gesoen het. Sover ek weet, is dit waar!

Roxy wil weet watter een van die volgende jy sal red as jul huis sou afbrand: jou Mustang, haar gunsteling- Persiese mat, jou dogter se gunsteling teddie of jou seun se fopspeen.

Ek sal deur die brandende huis hardloop, die dummy en teddie gryp en hulle in die Persiese mat toedraai. Dan sal ek in my Mustang spring en wegjaag. Dis die regte antwoord. Maar ai, daai Mustang!

Jy’s glo mal oor motors en ruil joune gereeld in vir ’n ander een?

Dis my enigste ondeug. Ek doen nie die seks-drugs-rock-&-roll-ding nie.

Wat doen jy wanneer jy nie rugby speel nie?

Dis gesinstyd. Sedert my kinders se geboorte is daar nie meer tyd vir gholf, muurbal of branderplankry nie. Ek neem hulle eerder strand of dam toe. My dogtertjie jet-ski saam met my. Hoe vinniger, hoe groter raak haar glimlag.

Jou outobiografie, Captain in the Cauldron (Highbury SafikaMedia), verskyn middel November. Hoe was die skryfervaring?

Dit was interessant om weer my lewensreis oor 31 jaar te beleef. Ek is heeltemal tevrede met die boek. Tog is ek effens senuagtig oor die ontvangs daarvan.

Wat was die hoogtepunt van jou rugbyloopbaan tot dusver?

Ongetwyfeld die Wêreldbeker in 2007.

Jy was eers ’n haker en moes toe op internasionale vlak ’n vaskopstut word. Die joernalis en rugbyondersteuner Emile Joubert wil weet of dit nie ’n yslike aanpassing was nie?

Die grootste uitdaging was om meer druk in die skrum te leer vat. Verder was dit nie vir my ’n moeilike skuif nie. Dis lekker!

Jy’s bekend as ’n baie goeie leier. Wat is jou geheim?

Of jy Engels, Afrikaans, Zoeloe, Indiër of bruin is . . . ek waardeer jou kultuur en agtergrond. Kleur bestaan nie vir my nie. Ek glo ook in eerlikheid. As ’n mens oneerlik is, sal almal deur jou sien. Ek tree op sodat mense na my wíl luister, my vertrou en my wíl volg. Hoe jy ander behandel, is belangrik.

 

 

Peter de Villiers is die openhartigste, eerlikste afrigter van my  loopbaan”

 

Daar word dikwels gesê Peter de Villiers praat onsamehangend. Kan julle sy opdragte goed volg?

Ons afrigter is eintlik Afrikaanssprekend en dis in dié taal dat hy met ons praat. Dan is sy opdragte duidelik en is daar nie misverstande nie. Peter is die openhartigste, eerlikste afrigter van my loopbaan.

Wat sê jy vir jou spanmaats rustyd wanneer julle aan die verloor is?

Ek gee hulle ’n baie ferm wake-up call en as ek kon sien wat verkeerd is, sal ek hulle vra om x, y en z te verbeter, of dalk voorstel dat hulle hul taktiek verander.

Hoe staan jy weer op as jou span verloor het?

Om weer op te staan is die belangrikste lewensles. Om te verloor is tog nie om te misluk nie, dis ’n leer-ervaring.

Jy is 31. Wie gaan jou opvolg? Name soos Victor Matfield, Jean de Villiers en Fourie du Preez word genoem.

Daar’s ’n hele paar kandidate. Dis ’n saak wat bespreek word. Ons het nog geen besluite geneem nie.

Jy speel oral in die wêreld rugby. Watter bekendes het jy al ontmoet?

Ek het ’n foto van my en prinse William en Harry kort nadat ons die Wêreldbeker gewen het. En ek het al met die akteur Morgan Freeman oor die foon gepraat toe hy R100 000 vir die Chris Burger-rugbyfonds geskenk het.

Pres Jacob Zuma het jou span ingewag ná die Drienasies. Jou indruk?

Ek was besonder beïndruk dat hy tyd uit sy besige program geneem het vir ons. Daarby het ons baie laat opgedaag en het die president bly wag. Dit was spesiaal.

Wat was die eienaardigste ding wat ’n ondersteuner al gedoen het?

Ná ’n wedstryd het ’n vrou, met haar man langs haar, vir my gevra om op haar bors te teken . . . Nee! ek het nie.

Shane Choley, jou beste vriend, wil weet watter van jou prestasies tot dusver die grootste was?

My kinders se geboortes.

Hoe bly jy vol energie?

Ek is mal oor wat ek doen. Passie vuur my aan.

Wat is die grootste kompliment wat jy al gekry het?

Nadat ons die Drienasies gewen het, sê mense: Dankie vir wat julle vir ONS gedoen het. Dis wonderlik.

Het jy ’n Kersboodskap vir SARIE se lesers?

Desember is ’n godsdienstige feesmaand en my gunsteling. Vier die geboorte van Jesus Christus saam met jou vriende en familie.