Ons praat met

Juanita Daniel het die “beste werk op aarde”

Juanita Daniel, internasionale kreatiewe direkteur en regisseur en veldaanbieder van De Kat-joernaalprogram op SABC3, verklap.

“Ek en my broer Louw, ’n stilis, het altyd ‘konsert’ gehou en my ouers moes gereeld kom sit vir nog ’n ‘opvoering met musiek, choreografie en uitrustings’,” vertel Juanita, wat deesdae in Düsseldorf, Duitsland, woon.

Vandag beskou sy haarself steeds as storieverteller in hart en siel wat haar deur verskillende platforms en mediums kan uitleef. Sy doen die regie vir modevertonings en werk saam met ontwerpers aan die konseptuele uitbeelding van uitrustings en die ontwerp van stelle, musiek, beligting en choreografie.

Ek reis gereeld, soveel as moontlik. Dis stimulerend om myself op nuwe, onbekende plekke te bevind en blootgestel te word aan kulture, tale en leefwyses. Ek het twee jaar gelede hierheen verhuis van Johannesburg af en werk oor die hele Europa, Amerika en die Ooste. Ek wil alles sien en hoor!”

In New York het sy onlangs saam met die sangeres Grace Jones gewerk, asook met die supermodelle Alek Wek, Liya Kadebe en Lakshmi. (Hulle verdien sowat 100 000 dollar − sowat R700 000 − vir een verskyning op die loopplank!)

“In Indië het ons ’n hele paar Bollywood-sterre op die loopplank gehad in Tarun Tahiliani se modeskou, waarvan ek die regie gedoen het. Hy is net so bekend soos Rohit Bal, die ‘Dior’ van Indië, wie se ontwerpe ook daar vertoon is.”

Juanita is besig met ’n uitdagende geldinsamelingsprojek vir die Rostropovich Foundation in Londen, waarby musikante soos Sting, Norah Jones, Katie Melua, Yo-Yo Ma, Nigel Kennedy en Mick Jagger betrokke is.

“Deur my werk word ek dikwels blootgestel aan die crème de la crème. Die modelbedryf is glitz and glam. Ek word vervul deur menslike interaksie. My werk is uiters sosiaal en kreatiewe stimulasie op die hoogste vlak. Die heel lekkerste is die uitdagings wat dit aan my stel om met unieke idees vorendag te kom wat ’n visie verwesenlik. Ek raak kinderlik opgewonde elke keer wanneer ’n droom werklikheid word.” Juanita se man, Pieter, konsertviolis en dirigent, ondersteun al haar passies. Ook haar “koketterige” hond, Lulu, is altyd bly om haar te sien, maak nie saak hoe lank sy weg was van die huis nie.

My huis is soos ’n rustige hawe. Maar die son van Afrika brand in elke Suid-Afrikaner se hart, en vriende en familie wat ver is, bring gereeld ’n sentimentele droefheid oor my. Die voordeel om iemand te kan sien of spontaan hallo te soen is nie iets wat ’n mens ooit sommer moet aanvaar nie.