mg_7804xx_310w
Ons praat met

Juanita se tweeling kom spesiaal vir SARIE-vertoning

Juanita du Plessis is Vrydagaand, 7 Oktober 2011, een van die grootste sterre op die verhoog by Trots Afrikaans. Sy kan nie meer wag vir Aardklop nie en sarie.com het by haar gaan hoor hoekom nie.

Juanita is SA se goue meisie, sy skryf die een treffer na die ander en haar CD’s bereik platinumstatus. Sy is soos haar liedjie sê, die engel van almal se harte.

“Ek sien ongelooflik uit na dié jaar se Aardklop! Om in Potch te kuier en al die ander kunstenaars en my aanhangers te sien is altyd ’n hoogtepunt!” vertel Juanita. Sy was twee jaar gelede laas by Aardklop en sy kan nie wag om terug te gaan nie.

Juanita se Gospel-CD, Wees Lig, is vanjaar uitgereik. “Dit is vir my ’n baie spesiale album, met so ’n mooi boodskap. Dit doen regtig goed en ek voel baie geseënd.”

En die goue oomblikke hou net nie op nie. Juanita en Theuns Jordaan neem in Desember vanjaar hul tweede CD saam op, Hart vol drome. Dit volg op hul vorige CD, Bring jou hart. “Ons is baie opgewonde oor die nuwe album en ons gaan weer ’n DVD ook opneem,” vertel sy opgewonde.

Vir Juanita is dit vreemd om te dink haar kinders is almal byna uit die huis uit. “Ons gesin is vreeslik na aan mekaar, ek raak benoud as ek dink hulle gaan een van die dae almal groot wees en dat ek hulle nie elke dag sal sien nie.” Die tweeling is dié week op ’n kamp en hulle kom Vrydagaand spesiaal daarvandaan Potch toe vir Trots Afrikaans.

“Mens kies die konserte waarin jy optree, en soms moet jy die keuse maak om meer tyd saam jou familie te spandeer. As ek nee sê vir ’n konsert is dit gewoonlik oor persoonlike redes.” Dis te verstane, want Juanita doen tussen 80 en 100 optredes per jaar!

Met meer as 9 000 mense wat haar op Twitter volg, wonder mens wie sy volg… “Ek volg my vriende in die bedryf, soos Steve, Wicus van der Merwe en Arno Jordaan, maar my gunsteling is Joyce Meyer. Sy twiet elke dag inspirerende boodskappe waarvan ek baie hou.”

Op die vraag of sy vir Namibië of Suid-Afrika skree as hulle teen mekaar rugby speel, antwoord sy dat sy albei ondersteun. “Ná 12 jaar is ek ’n Suid-Afrikaner in murg en been, maar ek het baie jammer vir Namibië gevoel toe die Bokke hulle so pakgee in die Wêreldbeker!”

Ons kan nie wag om Juanita Vrydagaand op die verhoog te sien nie! En sy verseker ons sy sal aanhou liedjies skryf solank die mense haar CD’s koop, sy is nog lank nie gereed om die verhoog vaarwel te roep nie.

  • Mariana

    Geniet Juanita se musiek, wanneer sal sy kom kuier in Australia????