Ons praat met

Juanita du Plessis

Juanita du Plessis het ’n ligte opskudding veroorsaak deur op skool ’n verhouding met die L.O.-onderwyser aan te knoop. Maar sy’s nie een vir kontroversie nie. Haar ding is sing en ma-wees.

deur Sonia Cabano
foto Phyllis Green

Twee dinge kan ‘n mens van Juanita du Plessis sê: Sy’s nie los nie, en sy’t ’n lyf aan haar. Lank, slank en aards elegant is hierdie platinum – verkoper-, blondekop-sangeres in lewende lywe die toonbeeld van besadigde ordentlikheid. Sy lyk ongerep deur die lewe. Dié 34-jarige ma van tieners – Ruan en die tweeling, Mario en Franja – kan maklik as hul ouer suster deurgaan. Mooi. Warm. Sy gloei soos ’n kool vuur in die sand, soos net ’n boerenooi wat kaalvoet in die Namib grootgeword het, kan. “Ek sal nooit probeer sexy wees net om meer albums te verkoop nie,” sê sy. “Dis glad nie ék nie.” En tog, en tog … As ek daardie Juanita du Plessis in konsert-DVD van haar so sit en kyk, is sy met haar knap sequin-broekpakkie aan en haar heserige stem die naaste ding wat ek nóg aan ’n vroulike Elvis Presley gesien het. Is dit die swaar ooglede wat wil-wil toeval, die sensuele krul van haar bolip, die neusvleuels, iets aan die dye? Sy sê hoeka Shania Twain is haar groot inspirasie …

Saam met seker ’n hele paar duisend mense sit ek en wag vir die dag dat Juanita behoorlik lostrek en begin góói! Nie dat sy sal nie. Onder die sipresbome van die Sammy Marx-museum buite Centurion waar ons mekaar vir koffie kry, laat Juanita haar geensins van stryk bring deur verspotte vrae nie. Sy’t haar draffie om die blok gedoen met laspos-joernalistiek, en sy kyk my van ver af uit voordat sy my vrae antwoord. Sy dink voordat sy praat. En sy doen dit netjies, beleefd, bedaard, soos ááálles wat sy doen. En sedert Herman, haar man – of Valie, soos sy hom noem, of Doepie – in Desember 1989 ’n trouring aan haar vinger gesit het, is dié twee onafskeidbaar. As jy by Juanita wil uitkom, loop dit, moet jy by Doepie verbykom, en as jy haar te na kom, gaan jy met hom te doene kry.

As bestuurder van haar loopbaan, klankman by haar opvoerings en natuurlik ook eggenoot en pa van hul drie spruite gooi hy ’n ondeurdringbare kordon rondom sy goue loerie. Hulle’t ’n gewoonte om mekaar se sinne te voltooi, saam te dink en doen, dié twee. Hy sit neffens haar by ons onderhoud – self deksels mooi, soos ’n ouer weergawe van Joaquin Phoenix – en telkemale skiet sy ’n vraag na sy kant toe: “Wat dink jy, Valie?” Of: “Wanneer was dit nou weer dat ek begin sing het?” En Doepie, wel, hy’t ’n manier om ’n vraag te vat, in sy kies te prop en te herkou terwyl hy skrefies-oë stip in die verte tuur, en voordat jy weet, is die vraag ghoems! ingesluk en dis die einde daarvan. Oor haar sê Steve Hofmeyr, saam met wie sy ’n duet op haar nuwe album sing: “Al wat Juanita wil doen, is sing en mawees. Sy’s nie soos die res van ons oor wie se skandes en moleste jy in koerante gaan lees nie. Sy’s nog steeds dieselfde plat-op-die-aarde girl wat ek jare gelede in Gobabis raakgeloop het, wat my om raad gevra en dit gevolg het. En daar is sy nou. Wat ek dink van haar stem? As daar enigiemand is wat die countrykoningin van Suid-Afrika kan wees, dan’s dit Juanita. Ek back haar al die pad.”

Sy’s geen vreemdeling vir kontroversie nie. Daar was die walgfoto-petalje met Loslyf (“Dis ’n hoofstuk wat ek afgesluit het”) en katterige aanmerkings van musiek bedryfkollegas met haar twee 2001 Geraas-toekennings. (“Juanita is een van die spookasembende.”) En in st. 9 het sy ’n ligte opskuddinkie in Windhoek veroorsaak deur ’n verhouding met ’n L.O.-onderwyser aan te knoop. Doepie. Juanita lag as sy vertel: “Hy’t oral in sulke klein kortbroekies rondgehol, en ek het hom so gekyk en gedink, dis darem oulike boudjies daai!” Die volgende jaar is hy vort om by ’n vervoermaatskappy te werk, en aan die einde van haar matriekjaar is hulle getroud. Oor haar skoolmeisie-romanse met Doepie en hul huwelik het haar destydse skoolhoof gesê: “Ek gee dit ’n jaar.”
Hoekom so vroeg trou? “Ek het mos geweet hy’s my trouman, en te hel met die res.” Ná die huwelik het sy hom gevolg en as sekretaresse by ’n vervoerfirma begin werk. Sy’s gebore op 26 April 1971, het grootgeword op ’n plaas met ’n eie en twee stiefbroers, was ’n kranige atleet en netbal-ster. “Ek was ’n tomboy as kind,” sê sy, “het kaalvoet in die buitelug rondgespeel. Baie perd gery.” Doepie kom uit ’n gesin van 13 siele, wat hy kleintyd al vermaak het met sy vernuftige klawerbord- en klavierspel. Musiek was altyd deel van sy lewe, en toe van hare. Hy in ’n orkes aan t tokkel, sy tuis aan t komponeer en kinders grootmaak. Kom 1994, toe breek haar goue kans aan. Sy’t nie net ’n liedjieskryf-wedstryd in Namibië gewen nie, maar terselfdertyd die aandag van ’n platemaatskappy getrek. Skaars drie jaar later verower sy drie country-musiektoekennings (CMA’s), o.m. as beste sangeres en liedjieskrywer. Country bly haar groot liefde, bieg sy, en elke album het minstens een country-liedjie op. Nog ’n entjie ver in die toekoms lê Nashville, die wêreld se country-”hoofstad”. Dalk maak sy nog eendag ’n draai daar.
Haar optrede by die KKNK in 2001 het “Ska-Rumba” onder die volk losgelaat, gevolg deur kan-dit-nie-uit-jou-kop-kry-nie-saamsingers soos “Patayo” en “Adijy Adijou”. ’n Gospel-album ook, want God staan groot in Juanita se lewe. Bly by my het dubbel-platinumstatus bereik, iets wat selfs Karen Zoid haar nie kon nadoen nie … Ses albums en 500 000 verkope later kan die goue girl op haar louere rus – sy is volksbesit. En soos die reaksie teen Loslyf bewys het: Vat jy aan Juanita, dan vat jy aan óns mense.

Waarom dink jy is jy uitgesonder vir die openbare belediging van ’n Loslyf-foto?
Ek weet nie. As mense nie van jou musiek hou nie, hoef hulle mos nie te luister nie! Dalk het dit gebeur juis sodat daardie plek se deure vir goed moet toemaak. Hul prokureur het ons gekontak met ’n aanbod om buite die hof te skik, maar dis nie naastenby goed genoeg nie.

Hoe hanteer jy kritiek?
’n Mens moet maar daaruit leer. Maar dit maak seer, dit vat nogal aan ’n mens. Met die Geraas-toekennings was dit vir my verskriklik om op te tree voor al daardie mense, soos Anton Goosen, wat my so afgekraak het. En tog was Anton die heel eerste persoon wat my platemaatskappy ná die Loslyf-ding gebel het om te hoor hoe hy kan help. Ek het dit nogal waardeer. Ek het myself aan hom gaan voorstel by ’n onlangse Rittelfees, en was aangenaam
verras. Hy’s ’n goeie ou.

Is daar enigiets waarvoor jy bang is?
Ek vat maar elke dag soos dit kom. Ek weet die Here het ’n plan met my lewe, en alles wat gebeur, is so bedoel.

Jou nuwe album verkoop, nes die voriges, soos soetkoek. Raak ’n mens skatryk in jou bedryf?  Het julle al die goue Mercedes bestel?
Doepie val in met: “Mense het ’n wanpersepsie oor hoeveel geld kunstenaars maak. Ons kry net ’n persentasie van die wins, en ons moet gedurig opgradeer, nuwe toerusting aanskaf, daar’s ’n spul werknemers en ’n bus amper voltyds op die pad. Dis ’n baie mededingende bedryf, en om suksesvol te wees moet die gehalte van jou shows goed wees. Verkope word gedryf deur optredes, wat beteken ons is pal aan die reis om konsert te hou.”

Ma van tieners. Voel jy skuldig om so baie weg van die huis te wees?

Ek werk net Woensdae tot Saterdae. My kinders verstaan dis my werk, dis wat ek doen. Ja, dis nie vir my lekker om so lank weg van hulle te wees nie, en ek voel soms skuldig. Maar wanneer ons saam is, is dit gehalte-tyd. Ons speel krieket, netbal, ry perd, of gesels sommer net. Ons het ’n plasie buite Hammanskraal, met skape, bokke, wild, ganse, hoenders, ’n volstruis en perde. Naweke is ons dikwels daar. Die kinders is geheg aan my, en wedywer soms kwaai vir aandag!

Watter soort ma is jy?
Rustig. Maar ferm. Ek glo aan dissipline. Kinders moet ontsag hê, en respek vir hul meerderes.

Doepie, wat is die rede vir Juanita se groot gewildheid en sukses?
“Ek dink haar liedjies is baie goed. Elke keer as ek haar kwaad maak, gaan sit sy en skryf weer so ’n lekker treffer!”

Hoe word jul verhouding beïnvloed deurdat julle saamwerk?
“Soos enige huwelik is daar soms konflik,” antwoord Doepie. “En ons bestee baie tyd saam, so dis onvermydelik dat ’n mens werkdruk huis toe neem. Maar ek is baie trots op haar, en al wat ek vir haar wil hê, is dat sy so lank as moontlik tops bly.”

Gooi Juanita ooit tantrums?
Doepie rol sy oë hemelwaarts en lag.

Hoe sou jy jouself beskryf, Juanita? Liefdevol, opreg, betroubaar, empaties…
Doepie skerts: “Perfeksionisties met haar werk, alles moet net SÓ wees…” Sy klap hom op die skouer: “Kom nou, man!”

Het jy al ooit vreemde ervarings met bewonderaars gehad?

Ek is ’n private mens, en daar is sommige dinge wat ek voel ek hoef net nie met ander te deel nie. Dis myne.
Maar ek aanvaar ook dis deel van my beroep om herken en soms gepla te word. Ek sal iemand nooit afjak nie. My bewonderaars het my toegegooi met ondersteuning toe ek deur moeilike tye gegaan het, en ek is dankbaar. Maar eenkeer het iets baie slegs gebeur – ons het op ’n ongelukstoneel afgekom waar ’n sterwende mens in ’n motor vasgekeer was. Ek was verskriklik geskok en ontsteld, en het gebid vir die persoon – ek en Doepie was eerste daar, en het nie geweet wat om te doen nie. Die konstabel wat saam met die noodhulp -dienste opgedaag het, wou my handtekening hê! Ek was so verward dat ek maar net iets op papier gekrabbel het.

Hoe bly jy geaard?

Alles wat ek het, kom van God af. My hele lewe is een stuk genade. Ek probeer maar net bereik wat vir my bestem is. As jy die Here aan jou kant het, is die hele lewe makliker – selfs jou seerkry, want jy groei daardeur, en leer wat jy moes leer om ’n beter mens te word. Ek voel ek het die afgelope paar jaar geestelik baie gegroei. Ons beste vriende, Paul en Stef Acker man in Gobabis, aanvaar ons vir wie ons is. Hulle is opregte geesgenote wat my geken het voordat ek bekend geword het. Daar is ware vertroue tussen ons, ons het saam op ’n geestelike reis gegaan en dit voed ’n mens wanneer jy teleurgestel word deur ander met valse voorwendsels.

Sou jy ooit aan ’n Idols-kompetisie deelgeneem het?
Nee! Ek’s heeltemal te skaam. En ek het die lang, harde pad na sukses gevat.

Werk ’n mens vir geld, of om jouself te laat geld?
Dis maar iets van albei. Ek wíl sing, ja, maar ek het ook ’n gesin om te onder hou! Ek het eintlik begin deur lied jies te skryf, dis my groot liefde. As dit moontlik was, sou ek baie graag kinders met drome oor die musiekbedryf wou help. Dalk deur slypskole te reël wat sang onderrig en liedjie-skryf aanbied. Ek ontmoet so baie kinders wat my vra: ‘Hoe gaan ek dit regkry? Wat moet ek doen?’ Ek het al op die weirdste plekke gaan staan met ’n mikrofoon, selfs sonder betaling, net om aan die gang te kom.

Waaraan bestee jy die meeste geld?
Klere, seker maar. ’n Ou moet mos maar mooi lyk! Ek mis die eenvoud van die lewe in Namibië, maar daar’s darem lekker winkels hier. Ons het so vier, vyf jaar gelede na Suid-Afrika verhuis. Dit was ’n groot aanpassing, ons het nie vriende gehad nie, het nie geweet of die waagstuk gaan vrugte afwerp nie.

Wat wil jy nog als bereik?
Ek het tot dusver al my drome verwesenlik: My albums, goue albums, die Geraas-toekennings, ons ondersteuners … ek sal graag meer country-musiek wil sing. En ’n dag saam met Shania Twain deurbring. Net om te vra hoe die lewe vir haar is, en hoe sy dit reggekry het.

GUNSTELINGE
Kos: Boerekos en seekos – Doepie kook lekker
Drankie: Crème Soda, Appletiser en Southern Comfort
Kleur: Blou
Musiek: Enigiets behalwe jazz en ‘friekieng’ rap of blues
Akteur: John Travolta
Aktrise: Sandra Bullock
Fliek: Titanic – ek het só gehuil op pad kar toe dat mense gedink het ek en Doepie het baklei of iets
Sanger: Enrique Iglesias
Tyd van dag: Skemer
Ek-tyd: Lees. Geestelike boeke of vrouetydskrifte
Dier: Perde en honde
Plek: Hentiesbaai, dis verlate maar lekker
Vakansie: ’n Eiland met wit strande saam met my kinders
Klere: Jeans en tekkies – ek hou nie  van opdress nie
Styl van lewe: Plain!
Lekkerste present nóg gekry:  ’n Papegaai op my verjaardag – hy sing “Ska-Rumba”