Ons praat met

Roland Schoeman: Kampioen van die eerste water

Die eerste 25 m skiet Roland Schoeman soos ’n pyl uit ’n boog en dit lyk of hy net één keer asemhaal. Dalk êrens ’n tweede asempie? Nie? Nie so dat jy dit kan agterkom nie … Dan klim hy flink uit die swembad. Yskoue waterdruppels klou aan sy breë bors en ligte hare, loop in straaltjies oor die tatoeëermerk op sy kuit. ’n Bekende gesig – eerste uit die blokke, eerste uit die water …

Maar ek ontmoet hom by SARIE se fotosessie soos hy nóg nooit tevore gesien is nie: In Pretoria, druipnat in ’n aandpak in ’n ontwerper-swembad iewers in Mooikloof. Die titelblad van www.rolandschoeman.com sê: “Roland Schoeman is ’n professionele Suid- Afrikaanse atleet en Trots SA, een van die min wat kan spog dat hy werklik die beste in sy atletiek-genre is. ’n Nederige, familievaste mens.

Roland het al in verskeie velde presteer.” Die webwerf is aan hom opgedra vir al die trotse akkolades wat hy al vir Suid-Afrika verower het. Dis egter nie net Roland wat vereer word nie – dis ook God, sy familie en sy ondersteuners. Hy is kennelik diep spiritueel en sterk gedrewe.

Vroeg in ons gesprek skryf hy vir my sy lewensleuse neer: “Between the truth of existence and dreams lies the unmistakable fact that our reality is based on a perception. A perception that defines the very existence of our souls.” Hy is in die land vir die Nelson Mandela-uitnodigingsgholftoernooi buite Kleinmond. En hy sien geweldig uit na die toernooi. “Ek is mal oor gholf! Dis die grootste  uitdaging om jouself te oortref.” Dié Pretorianer het eers op 14 begin swem nadat hy ’n meisie in ’n swembad wou beïndruk. Maar in die dekade daarna het hy die rekordboeke herskryf. Of eerder, herswem…

[box:200:grey:left]

ROLAND VIR BEGINNERS

Lengte: 1,91 m Gewig: 82 kg (dit wissel) Stokperdjies: Gholf, fliek, musiek en fietsry

Byname: GT, The Blade en Showman

    •    Wêreldrekord 20,98 sek oor 50 m-vryslag
    •    Houer van 5 wêreld-swemrekords 
50 m-vlinderslag, 50 m-vryslag, 100 m-vryslag,
100 m-individuele wisselslag, 
4 x 100 m-vryslag
    •    Wêreldrekord in 50 m-vlinderslag 2 keer in een jaar (21,01 en 22,96 sek) in Montreal, 2005.
    •    Afrika se Sportman van die Jaar, 2004
    •    3 goue en 1 bronsmedalje by die Statebond-spele, 2005
    •    1 goue, 2 silwer- en 1 bronsmedalje by die Olimpiese Spele, 2004
    •    1 goue en 1 silwermedalje by die Statebond-spele, 2002
    •    Gholf-voorgee: 14

[/box]

Hoe voel jy as jy langs ander deelnemers op die wegspringblok staan? Wat dink jy?
Ek is só gefokus dat ek regtig nie dink aan die mense langs my nie. Die deelnemers sal ná die resies met mekaar praat, nie regtig voor die tyd nie. Die resies is nie eintlik tussen hulle nie – dis teen jouself. Ja, jy is meestal aangewese op jouself.

Watter sielkundige samestelling het ’n mens daarvoor nodig? Hoekom is jy, afgesien van jou fisieke vermoëns, soveel beter as die ander?
Ek glo 100% in myself en wat ek in die swembad kan vermag. Ek is baie streng op myself en verwag altyd net die beste van myself – binne én buite die swembad. Ek is my eie grootste kritikus. Die belangrikste ding is egter dat dit konstruktiewe kritiek is.

Jy het in 2005 ’n multi-miljoenrandse aanbod van Qatar
om vir hulle te swem van die hand gewys.
Het SA borge toe na vore gekom?
Ek is fanaties trots op Suid-Afrika – probleme ofte nie. Daar is vir my absoluut niks lekkerders as om ons volkslied te hoor as jy op ’n rostrum staan nie – hetsy by die Olimpiese Spele of by ’n internasionale byeenkoms. In Qatar sou ek iets soos ’n winkelvenster-uitstalling gewees het. Ek sou ’n ander taal moes leer. Ek sou ’n vreemde volkslied moes hoor as ek dalk ’n plek behaal het. Ná die aanbod het ’n hele paar borge in SA wel na vore gekom. Puma, Coquis, Volkswagen, GlaxoSmithKlein. Nie een is so ’n groot borgskap soos die Qatar-aanbod nie, maar almal saam maak dit moontlik dat ek my lewe tans aan swem kan wy. En daarvoor is ek innig dankbaar.

Is jy en Ryk Neethling groot vriende?
Ek en Ryk het iets wonderliks reggekry in Athene – ons gaan eendag albei klaar wees met swem, maar ons sal vir altyd daardie dag deel. So iets sorg dat daar nie plek is vir besoedeling in die vriendskap nie.

Wat se raad het jy vir ander jong Suid-Afrikaners wat dalk moedeloos oor ons land se toekoms voel? Nie net sportmanne nie, almal…

As ons almal ’n verandering wil maak, moet ons dit net begin doen. Vriendelikheid is aansteeklik, het jy al agtergekom? Al begin ons met iets kleins soos om “hallo” te sê of iemand voor jou toe te laat in die verkeer. Hierdie is alles klein dingetjies wat ’n groot verskil kan maak. Daar is soveel mense wat kla in die land. Ook daarbuite óór die land. Ek dink ons is in ons tantrum-fase – en dit sal oorwaai.

My Suid-Afrikanerskap is vir my die eerste prys. Ek glo dat stabiliteit en demokrasie ’n langtermynprojek is. Ek wil deel wees van hierdie lewendige, uitdagende, frustrerende, pragtige en bowenal hoopvolle land wat ek my tuiste noem. Elke een van my welslae het ek behaal met ’n geweldige besef dat ek integraal deel is van iets wat ontsettend betekenisvol is. Ek is ’n Afrikaan – en meer spesifiek, ’n Suid-Afrikaan. Daar kan nog so baie gedoen word, hier. En ek wil deel wees daarvan.

Hoe sien jy jou toekoms?
Een dag op ’n slag.

Tot wanneer gaan jy swem?
Jis, ek weet nie. Solank ek nog lief is vir die sport en steeds kan meeding, sal ek aanhou swem.

[box:full:grey:both]

GUNSTELINGE

KOS: Nando’s, braaivleis, biltong en Mexikaanse kos

DRANK: Water, rooiwyn

SPORT: Voetbal (Amerikaans), sokker, gholf

MUSIEK: DJ Tiësto, DJ Dean, Fall Out Boy, Prime Circle, MAE, Valencia, Panic! at the Disco, Funeral for a Friend, Seether, Arno Carstens en Flat Stanley

BOEK: Long Walk to Freedom, Nelson Mandela, Power of Intention, Wayne W.Dyer, The Power of Now, Eckhart Tolle

AKTEUR: Charlize Theron, Will Ferrell

FLIEK: Primal Fear, Gladiator, Boondock Saints, Wedding Crashers, The Incredibles, Ice Age, What the bleep do we know?, Borat, Old School, Peaceful Warrior

MENS: Nelson Mandela, sir Steve Redgrave (Olimpiese roeier)

SPORT-FIGUUR: Walter Payton (wyle Amerikaanse voetbalheld), Muhammad Ali, Lance Armstrong

PLEK: Kaapstad, KwaZulu-Natalse noordkus en die verre ooste van Pretoria

DROOM: Ek wil graag ’n prokureur word! Of ’n sportagent

GESEGDE: “Ek glo in die onmoontlike” en “Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee”

[/box]

Wat gaan jy daarna doen?
Ek is nou al besig met die stigting van swem-akademies – en dis iets wat jou die res van jou lewe kan besig hou. My droom is om in elke gemeenskap ’n swembad te bou, elke liewe gemeenskap in hierdie land. Swem is so ’n opbouende sport, dit doen ook iets aan jou siel om so in die water te wees. Ek glo werklik aan die “genesende eienskappe” van swem. En ons kinders het dit nodig. Ek glo vas dat sport ’n belangrike deel uitmaak van nasiebou. Dit het die vermoë om uiteenlopende mense te verenig en kan gebruik word tot voordeel van almal. Sport is iets wat elkeen toelaat om te droom – om te glo in die onmoontlike. Ek wil my deel doen om te verseker dat Suid-Afrika die hemel op aarde kan word – wat ons potensiaal is, natuurlik.

Vertel meer van jou swem-akademie?

Wel, daar is eintlik ’n hele paar fokuspunte. Die daarstelling van ’n sweminfrastruktuur, veral in die landelike gebiede, is tans die hooffokus. Die tweede is om skenkers betrokke te kry sodat elke munisipaliteit landwyd kan baat vind by die sport – ek voorsien ’n 50/50-vennootskap tussen borge en munisipale rade. Derdens – en ’n baie belangrike resultaat – is natuurlik werkskepping. En dus opheffing van gemeenskappe.

Ek sal ook graag wil sien dat Suid-Afrika werklik ’n land word wat bekend is vir sy sporttoerisme. Soos byvoorbeeld in Duitsland, waar Hamburg jaarliks ingeval word deur toeriste van lande wêreldwyd om na hul swemkampioenskapsbyeenkomste te kyk. Swem het natuurlik ook tasbare voordele, soos gesondheid. Dis bekend dat asmalyers hul probleem kan oorkomdeur te swem. Ek wil ook vreeslik graag betrokke raak by jeugleierskap-ontwikkeling, dalk deur kursusse aan te bied oor motivering of sukses.

Om die dinge wat ek in my sportlewe geleer het toe te pas in ander se lewens. Om ’n gees van verantwoordelikheid te kweek. Ek voel dís eintlik my roeping: Om ander te versterk, te help om hul potensiaal te bereik. Veel meer as swem. Swem was/is vir my die roete tot daardie roeping. Ek wíl ’n verskil maak!

Hoe lyk SA se swem-infrastruktuur?
Ongelukkig nie goed nie. Dis ’n sport wat nog op sy eie moet ontwikkel, nie soos rugby of sokker wat geweldige borgskappe en regeringsondersteuning kry nie. Ons swembaddens is oor die algemeen in ’n swak toestand. Ons beste afrigters werk meestal oorsee. Hier is nie geld om hulle te hou nie.

Hoe het jy dan, ondanks die swak fasiliteite, bo uitgekom?
Swem is ’n uiters, uiters persoonlike sport. Jy baklei elke dag – met jouself. Dit maak jou sterker. Die passie moet daar wees. Dis nie ’n spansport nie. Dis vir die mens wat totaal individueel kan funksioneer. Om te presteer móét jy dit geniet. Ek bly en oefen ’n groot deel van die jaar in Tucson, Arizona, in Amerika. Die fasiliteite daar is ongelooflik. Ek is by ’n baie goeie universiteit.

Hoe voel jy oor talente – kan ’n mens daarsonder bo uitkom?
Daar is ’n uitdrukking wat sê: “Harde werk sonder talent sal altyd net dit wees: harde werk.” Ek stem volkome daarmee saam. Maar harde werk is absoluut nodig. Dit maak jou sterker en leer jou om teleurstellings te verwerk. Ek glo 1% kan die groot verskil maak. En daardie 1% is gewoonlik afhanklik van perspirasie, nie talent nie. Ek is baie lief vir gholf speel, en ek sien dit veral in gholf. Elke keer as jy ’n hou weer en weer oefen, verbeter jy. Elke keer. Dit help natuurlik ook as jy ’n goeie instrukteur het, iemand wat van buite af na jou spel of jou swemstyl kyk en vir jou die opmerklike foute kan uitwys. Maar die meeste van die inspirasie kom steeds van binne af.

Hoe lyk jou oefenprogram?
Maandag, Woensdag, Vrydag swem ek twee keer – in die oggend vir twee uur en dan vir twee en ’n half uur in die middag. Dinsdag en Donderdag swem ek een en ’n half uur, en oefen in die gym vir een en ’n half uur. Saterdag swem ek van 08:00 tot 10:30 en gym van 11:00 tot 12:00. Sondag rus ek.

En jou gesin?
My pa is oorlede in ’n motorongeluk toe ek in st. 8 (gr. 10) was. (Die dag ná die ongeluk het Roland sy eerste deurbraak in swem gemaak toe hy gekwalifiseer het vir die senior nasionale kampioenskappe. Hy het nog altyd hartseer verwerk in ’n oorwinning. Verlede jaar het hy die dag ná sy ouma se dood die eerste mens geword om die 50 m-vryslag onder 21 sekondes te swem.) My ma, Geraldine, is my grootste steunpilaar. Sy is ook my “agent”. Ons is baie na aan mekaar. Ek het ook ’n suster, Samantha.

Is daar enigiets wat jy aan jou lewe sal wil verander?
Ja. Ek wens so my pa was nog hier.

Hoe voel dit as mense (vroue) jou so bewonder?
Ek het nooit so iets in my lewe verwag nie. Dis steeds vir my báie snaaks as mense my handtekening vra of foto’s saam met my wil laat neem. Maar die mense om my beskou my nog steeds as net Roland.

Jou twee tatoeëermerke?

Die een op die blad het ek gekry toe ek in 1998 vir die eerste keer die SA span gehaal het. Dis ’n stam-ontwerp met die Chinese kanji vir “krag”. Die een op my been beteken “soeke na die siel”.

***
Roland is SA se mees bekroonde sportman vir ’n enkele Olimpiese sportsoort. Én hy is verreweg die nederigste, skaamste held wat jy kan teëkom.