sr0905lucas01a
Ons praat met

‘Kanker, maar ek léwe’ – Lucas Maree

Reguit, sonder doekies omdraai, het die uroloog die nuus oorgedra: “Jy het kanker.”

Lucas Maree se liedjie “Ek kan doen met ’n miljoen” het van hom volksbesit gemaak. Maar op daardie oomblik was dit net hy en dié vreeslike tyding wat hy moes verwerk.

Dis byna asof hy nie wíl onthou wat toe alles deur sy kop gegaan het nie.

So baie vrae: Hoe gaan die siekte sy lewe verander? Sal hy met sy werk kan voortgaan? Hoe gaan dit sy gesin raak? Sal dit, soos sy diabetes, nóg ’n swaard oor sy kop wees?

En, die belangrikste van alles: Sal hy oorleef?

Die skok dat ek suikersiekte het, het my ’n paar jaar gelede getref. Tóé al het ek gedink my lewe is oor, my jeug is verby. Maar dit was nie. Ek leef steeds en doen dit na die beste van my vermoë.

My nuwe stryd het ’n paar maande gelede begin toe ek simptome van prostaat-moeilikheid gekry het. (Die bekendste is ’n gesukkel om te urineer.) Bloedtoetse het gewys my telling vir die prostaat-spesifieke antigeen is hoog. Al dui dit nie altyd op kanker nie, was daar wel so ’n kans.

’n Operasie was daarom die beste uitweg, het my uroloog gesê. Hy’t my darem ook gerusgestel dat dié soort kanker jou nie vinnig doodmaak as jy dit betyds ontdek nie, soos in my geval. En dat dit algemeen is onder mans van my ouderdom. (Volgens die Prostaatkanker-stigting van SA kry een uit elke ses mans bo 50 dié soort kanker en word meer as 5 000 per jaar in ons land daarmee gediagnoseer.)

Toe die uitslag kom dat dit beslis kanker is, het my vrou, Ilse, en my dogters, Monica, Linda en Carla, dit elkeen op hul eie manier verwerk. Mý houding teenoor die lewe het beslis verander. Ek leef baie meer positief en besef dis die wonderlike tye saam wat belangrik is. Deesdae glo ek as jy met ’n donker wolk om jou kop rondloop, maak jy die wêreld vir ander ook donker.

Tog het ek nie die siekte nodig gehad om my te herinner aan hoe spesiaal my gesin is nie. Ek het twee jaar gelede die verganklikheid van die lewe ervaar toe my pa, Jack, dood is aan Alzheimer-siekte. Dit was ’n baie traumatiese tyd, maar nou is ek éérs bly ek kon dinge tussen ons regmaak. Ons het glad nie ’n verhouding gehad nie, ook byna nooit by mekaar uitgekom nie. Eintlik het ons niks gemeen gehad nie.

Aan daardie dinge kon ek nie verander nie. Maar ek het my hart reggemaak. Ek het al my vooroordele teenoor my pa ondersoek en verwerk. En ek besef nou sekere goed gebeur met mense en hulle kan nie altyd dinge reg hanteer nie.

Ek en my pa het opnuut ’n liefdesband ontwikkel. Weens sy siekte het hy my soms nie herken nie, maar hy was altyd bly om my te sien . . . Dit was nie voorheen so nie.

Vandat ek ’n klein seuntjie was, het my pa nooit vir my gesê hy is lief vir my nie. Maar op sy oudag, wanneer ons gaan stap het, het hy heeltyd my hand vasgehou. Nie ék sýne nie.

Die kankernuus het opnuut aan my bevestig jy moet elke dag leef asof dit jou laaste is. Leef vir die oomblik, want dit duur nie vir ewig nie. Ek probeer dit doen, al is dit nie maklik nie.

Die operasie was vir my ’n groot ding. Enige mens is maar bang. Jy weet nie wat die uitslag gaan wees en of jy beter gaan word nie.

Hoewel die prosedure ’n sukses was, kon die uroloog nie die hele prostaat verwyder nie. ’n Gedeelte het aan die blaas vasgegroei. Maar die prognose is goed. Ek is nie in lewensgevaar nie.

Nou kry ek gereeld anti-hormonale inspuitings in die onkoloog se spreekkamer by die hospitaal. Dit beteken ek kry vroulike hormone om my testosteroonvlakke te verlaag, want dis dié hormoon wat my soort kanker voed. Die newe-effek is dat ek verskeie warm gloede per dag kry. Ek het nou baie simpatie met vroue in hul menopouse!

Wanneer die gloede kom, gaan staan ek maar by ’n venster of voor die waaier. ’n Sinsnede vir ’n liedjie hieroor het my ook onlangs te binne geskiet: ‘Wees maar op jou hoede vir ’n man met woedegloede . . .’ Een van die dae sal ek seker boonop met so ’n hoë stemmetjie begin praat!

En ja, ’n sin vir humor was nog altyd vir my belangrik. Dit help veral deur dié moeilike tyd. Toe ek destyds drama gestudeer het, het ek geleer die verskil tussen ’n tragedie en ’n komedie is ’n haarbreedte. ’n Mens het ’n keuse hoe jy ’n gebeurtenis wil ervaar.

Benewens die inspuitings sal ek later ook bestraling moet kry. Die weefsel wat bestraal word, verswak en die newe-effekte sluit blaas- en maagprobleme (soos swak blaasbeheer en hardlywigheid) in. Maar daardie pad sal ek loop wanneer ek daar kom.

Intussen is die hospitaalbesoeke moeilik. My karma is dan laag. Hospitale ís mos maar pyn en lyding. Ek hou nie van die mens wat ek daar word nie. Ek staar na die plafon en kry myself jammer. Ek raak selfsugtig en in myself gekeer.

‘Die newe-effek is dat ek verskeie warmgloede per dag kry. Ek het nou baie simpatie met vroue in hul menopouse!

Die eerste twee maande ná die diagnose was baie swaar. My depressie, die ander siekte waarteen ek gereeld stry, het weer te voorskyn gekom. Dan is jy te bang om wakker te word, om die werklikheid te face. Ek het daardie eerste maande te veel op my siekte gefokus. Ek was heeltyd bang ek eet verkeerd, en wanneer die wond seer was, het ek versigtig gestap uit vrees dat ek dit nog seerder sou maak. Ek was geneig tot pieperigheid.

Maar ek het gou besluit ’n mens kan nie so leef nie. Nou sê ek vir myself: Baie dinge gebeur met baie mense, dít het met my gebeur, nou moet ek aangaan met my lewe.

Wanneer die swart hond wil-wil nader kom, doen ek my bes om hom te verjaag. Ek het ’n doelbewuste gedagteskuif gemaak om net positief te wees. So nie, voer ek die hond al hoe vetter met my onsekerhede.

En, nee. Ek het nog glad nie oor die diagnose gehuil nie. Dit help nie om oor negatiewe dinge trane te stort nie. Ek huil eerder oor mooi dinge, soos lieflike musiek.

Deel van my nuwe ingesteldheid is om minstens een keer ’n dag iets positiefs te doen, soos om ander te laat lekker voel deur mooi goed te sê. Maar dit gebeur spontaan en ek bedoel dit opreg. Ek dink nie vooraf ek gaan nou uithardloop en vir mense sulke dinge sê nie. Beteken jy vir iemand iets, voel hulle én jy goed.

Ek het ook dankbaarheid opnuut ontdek. Ek waardeer elke dag. Baie jong mense sterf sonder dat daar  iets fout was met hulle – sonder die waarskuwing wat ek gekry het.

In dié tyd het ek ook weer besef hoe belangrik die ondersteuning van my vriende en familie is. (Kyk ’n mens na Lucas se Facebook-muur, sien jy sy doen en late kry groot terugvoer. Al sê hy net “Lucas gaan swem” kry hy 17 reaksies!)

‘Ek is nie uniek nie, ook ék het ’n afspraak met die onvermydelike’

Vriende en familie gee my ’n rede om soggens op te staan. En hulle hou die swart hond weg. Ek staan op én ek wil myself aanvaarbaar maak.

Besig bly is nóg ’n manier om my fokus van die siekte af te haal. Niks hou my nou terug nie. Ek rits steeds heen en weer tussen Bloemfontein (waar ek woon) en Johannesburg, en het ’n nuwe CD, Lankverwag, opgeneem. Dis asof ek nou ’n sense of urgency het. Daar’s nie tyd te verspil nie.

Ek werk met hernieude passie en het ’n hele paar nuwe liedjies vir dié album geskryf. Maar ek wou ook mooi liedjies van vriende en kollegas sing en nou hét ek. Daar’s ’n spesiale een, ‘Vir jou’, wat my ‘boetie’ (Coenie de Villiers) gewoonlik sing. Ek wens ék het dit geskryf!

Sedertdien het ek ook ’n DVD (nog naamloos) laat opneem. Dis die eerste Blu-Ray High Definition-DVD in die land! Dit beteken die beeld is besonder skerp.

My gehoor vra altyd vir ’n konsert-DVD en dis presies wat ek gedoen het. Ek het in die Centurion-teater, Pretoria, konsert gehou. Die stories wat ek altyd so vertel, is ook deel daarvan. Sonder die geweldige ondersteuning van my vriend André Calitz sou ek dit nie kon gedoen het nie.

Weet jy, ek dink nie ek het my ‘gesondheid’ vóór die kanker genoeg waardeer nie. Ek dink nie één mens doen dit nie. Jy dink mos jy gaan vir ewig lewe. Ook dat sulke dinge net met ander gebeur, jý het baie tyd. Maar met my operasie het die ‘alarm’ weer afgegaan: Ek is nie uniek nie, ook ék het ’n afspraak met die onvermydelike.

Ek probeer om nie daaraan te dink dat ek dalk die kanker kon voorkom het deur gesonder te leef nie. Ek doen maar dinge volgens die mens wat ek is, ek sou nie anders kon wees nie. Ek het verkeerd geëet, te min geoefen en negatief gedink, ja. Maar nou kry ek ’n kans om meer positief en gesonder te leef. Tog is ek nie obsessief nie, want dan fokus ek weer net op een ding en leef ek boonop met oogklappe aan.

En, nee, ek praat nie met my liggaam nie, wél met myself. Wanneer ek nie so positief voel nie, sê ek: Jy moet nou jou nonsens laat staan. (Ek gebruik net ’n minder mooi woord!)

Ek glo ’n mens sterf soos wat jy geleef het. My ma, Maggie, en oupa, Lukas, was voorbeelde hiervan.

My ma het haar te veel na pille gewend. Sy het haarself só skade aangedoen. Haar einde was lank en moeilik. Dis vir haar dat ek ‘Victoriabaai’ geskryf het. Dit handel oor die dag waarop ek haar as en ’n rooi blom in die see gegooi het. Dit klink só: ‘Kyk hoe sluit die son die hemel oop. / Kyk hoe wyk die nag voor die dag. / Kyk hoe word die see in goud gedoop, / kyk hoe bloos die strand, vol van hoop.’

My oupa is ook dood nes hy gelewe het, maar hy is ’n voorbeeld vir my. Hy was positief oor alles. Toe hy blind geword het, het hy dit aanvaar en daarby aangepas. Dit was glad nie vir hom ’n probleem nie.

Die aand voor sy dood het ek gehoor hy het geval en het pyn. Maar hy het weer opgestaan en is eers die volgende aand skielik oorlede.

Ek het gelukkig nog tyd om nes my oupa positief te leef. Daarom hoop en glo ek dat my lyding eendag kort en pynloos sal wees.

Tog tob ek nie veel oor die dood nie. Ek verkies eerder om te LEWE as om bang te wees vir verganklikheid. Dit maak ook mos nie sin om bang te wees vir iets wat onvermydelik is nie.

Intussen ervaar ek die positiewe dinge wat die lewe bied veel skerper. Voorheen het mooi dinge dikwels by my verbygegaan. Ek sou tuis kom en deur Ilse se pragtige tuin storm om my skoene te gaan uittrek. Nie nou meer nie. Ek kyk na die kleure van die blomme, ek ruik hulle. En ek luister na die voëls.

Met ’n onlangse besoek aan die Kaap het dit my meer as ooit opgeval hoe min Kapenaars die see waardeer. Hulle wil omtrent nooit see toe gaan nie. Maar ék wou. Nie om te swem nie, maar om te kyk. Want vir my is die see nes die lewe. Dis nooit dieselfde nie. Daar’s ook altyd iets moois, iets nuuts, iets uitdagends en iets onbekends.

*By SARIE se ter perse gaan het Lucas die uitreiking van sy CD en DVD vir die KKNK beplan.

Besoek ook: www.musicians.co.za en www.miljoen.net