samantha_nolan
Ons praat met

Kapenaar Samantha Nolan uit MasterChef

Jy het nogal gebroke gelyk toe jy uitgestem is.
Ag nee wat. Ek was tevrede met wat ek op MasterChef bereik het en ek het pret gehad. Mens moenie spyt wees oor enigiets nie. Natuurlik was ek teleurgesteld. Ek het gedink Khaya gaan huis toe gaan, veral omdat sy nie geweet het wat die verskil tussen pietersielie en koljander is nie.  
 
Het jy enige planne om die wêreld van kos te betree?

Ek en een van die deelnemers Charles Canning beplan om iets saam te doen. Ek wil nie nou sê wat dit is nie; ek is bang iemand steel ons idee. Hopelik gebeur dit binne die volgende maand.

Was jy nog altyd mal daaroor om kos te maak?
My liefde om te eet het ontwikkel in my liefde vir kosmaak. Ek kon nog altyd kook, maar toe ek getrou het, het kosmaak ’n groot liefde geword omdat my man ook lief is vir kook. Ons maak saam die heerlikste pizza en pasta.

Die beoordelaars het die heeltyd gesê jou kos proe te sout of is nie geurig genoeg nie. Hoekom het jy so daarmee gesukkel?
Ek het vir drie weke ’n verkoue gehad en my neus was bottoe. Ek kon nie ordentlik proe nie.  
 
Is jy so ernstig soos wat jy op TV lyk?
(Lag). Nee, glad nie. Ek het nie gisteraand so ernstig gelyk nie. Ek het dan ’n paar keer gelag!
 
In gisteraand se uitdaging moes julle ’n maaltyd vir ’n gesin voorberei. Sal jy regtig vir jou kinders geposjeerde forel met Oosterse groente voorsit?
Absoluut! Dit sal nog beter wees as ons self die forel gevang het.