sr0902kevin
Ons praat met

Kevin Smith 1

EK HOOP

ek kan meer koersvas wees en altyd goed na myself omsien. Ek wil meer gereeld oefen, maar kry dit nie reg nie. Ek maak altyd verskonings oor hoekom ek nie nou kan gaan nie.

om my siekte te aanvaar. (Kevin het ‘n hartkwaal.) Aanvaarding beteken nie ek gee op nie. Dit beteken ek omhels my siekte, verstaan watter invloed dit op my lewe het en hoe ek dit moet hanteer om ‘n beter lewe te kan lei.

om wat ook al ek aanpak, goed te doen. ek wil nie dinge halfhartig doen nie.

om te ontdek wat ek nóg alles kan doen. Ek werk as akteur, maar ek dink ek kan soveel meer doen. Ek sal meer as regisseur wil werk en selfs eendag ‘n plek wil begin wat heilsame kos bedien.

my dogter, Genevieve (28), bly gelukkig in haar baie mooi romantiese verhouding. en my seun, Gabriel (13), behou altyd sy sin vir avontuur.

 

EK IS BANG

ons kyk nie genoeg na die omgewing nie. Daar is soveel chaos in die wêreld, mense is te hebsugtig en selfsugtig. ek is bang ons is besig om onsself oor die afgrond te dryf.

ek gaan meer nougeset word soos ek ouer raak. Dis so moeilik om vrydenkend te bly as jy oud is.

 

ek gaan nooit leer om nie skuldig te voel oor

die foute wat ek al gemaak het nie. skuld is

‘n aaklige emosie. Jy moet leer uit jou foute en

aanbeweeg.

 

om my sintuie te verloor soos ek ouer word, veral my sig.

 

WAT EK GELEER HET

Verandering gebeur in ‘n oogwink. Ek het verlede jaar ‘n

Isidingo-kollega, Ashley Callie, verloor. Waardeer mense

terwyl hulle nog in jou lewe is en laat elke oomblik saam met

hulle tel.

 

Om tyd saam met mense in my lewe deur te bring is kosbaar.

Dis fassinerend om te kyk hoe my kinders ontwikkel en

die lewe ervaar. Gabriel is besig om ‘n sterk, onafhanklike

individu te word.

 

Jy leer baie lesse by jou kinders. Gabriel het my geleer die

groot dinge maak nie saak nie. Die lewe gaan nie vir hom oor

langtermyn-doelwitte nie, maar oor wat hy hier en nou kan

ervaar. Moet nooit ophou om speels te wees en blydskap te

ervaar nie. As volwassenes bekommer ons ons baie – met

rede, maar ons moet kommer met speelsheid balanseer.

 

Ons moet ons kinders aanmoedig en hulle laat voel hulle is

waardevol. ek ondersteun my kinders se drome en probeer

nie om my drome op hulle af te dwing nie.

 

Daar is baie ooreenkomste tussen akteur-wees en die lewe: Jy

moet jou instink vertrou, dinge met oorgawe aanpak, jouself

verbind tot wat jy doen, en bo alles – dit geniet! as mense sien

jy geniet iets, is dit aansteeklik en put hulle ook genot daaruit.

 

Wees getrou aan jouself. Die enigste manier

hoe jy dit kan doen, is om vas te stel wie

jy is. Elkeen van ons is op ‘n reis om

onsself te ontdek. Moet nooit ophou om

vrae te vra nie.

 

Min mense besef watter groot verantwoordelikheid

dit is om kinders groot te maak. Elke ouer

wil hê sy kind moet ‘n impak op die wêreld

maak, en jy moet ‘n goeie rolmodel wees. Ek

is nie die perfekte ouer nie, maar ek het my

kinders geleer jy gaan foute maak, maar

jy kan ook foute régmaak. Dit gaan nie oor

volmaaktheid nie, maar eerder oor die behoefte

en vermoë om te leer.

 

Dis eers wanneer jy jou gesondheid verloor dat jy besef

hoe belangrik dit is. Maar dis nie noodwendig negatief nie.

As jy siek is, leer jy om beter na jouself te kyk.

 

My pa is in sy 60’s en dis asof die lewe nou eers vir hom begin.

Hy is ‘n interessante man, omdat hy homself die hele tyd

uitdaag en nuwe dinge aanpak. Hy het my geleer solank jy

opgewonde is oor die lewe, sal jou lewe opwindend wees.

 

Jy moet na jouself omsien as jy jonk is, want as jy dit eers

doen wanneer jy oud is, is dit te laat. Ek wens ek het in my

jongdae minder partytjie gehou en meer gerus.