Kim Cloete en Loukmaan Adams FOTO: Willem Lourens

Kim Cloete en Loukmaan Adams FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

Kim Cloete vertolk ‘ware verhaal’ by KKNK

TV-aanbieder en radio-persoonlikheid Kim Cloete speel in Dirk Ligter, ’n toneelstuk gebaseer op ‘n ware verhaal uit die 1800’s: ’n wit man maak ’n bruin vrou swanger, en die stuk plaas die lot van die kind onder die soeklig …

“Ek sien baie uit daarna om aan Dirk Ligter te begin repeteer. Die draaiboek is ou-ou Afrikaans, dit klink byna Nederlands. Die akteur Albert Maritz het ’n menslike verhaal geskryf waarmee almal sal kan identifiseer – dit is vol universele waarhede, want dit gaan oor konneksies en verhoudings. En ek is baie opgewonde om saam met die regisseur Lara Bye en die res van die akteurs te werk …”

Sy maak dit duidelik dat sy nog aangaan met Flits (die kykNET-aktualiteitsprogram waarvan sy deesdae mede-aanbieder is saam met SARIE se Fanie Cronjé) en die tydskrif-program Kollig op kykNET & kie. Sy bied nie meer die ontbytprogram Kimmistry op die radiostrasie Heart FM aan nie, hoewel sy dit baie geniet het. (Later vanjaar word die rolprent Twee grade van moord, waarin sy onder andere met Shaleen Surtie-Richards, Sandra Prinsloo en Marius Weyers speel, uitgereik).

Loukmaan

“Maar ek sien baie uit na my en Loukmaan Adams (haar geliefde van die afgelope drie jaar) se toneelstuk oor die liefde wat ons in die lente gaan opvoer in die Garden Court-teater (met 200 sitplekke) by die Garden Court-hotel in Walmer Estate in die Kaapse stadskom. Dié teater is nou ons fokuspunt. Ons wil die spasie gebruik om nuwe werke op te voer – nie net ons eie nie. Dit is nou soos ons baba …”

Kim en Loukmaan werk gereeld saam. Haar eerste skryfpoging was om verlede jaar vir hom ‘n eenman-verhoogproduksie, My Wonder Years, te skryf. En hoewel sy die skrywery (as uitdaging!) baie geniet het, verkies sy toneelspel.

“Loukmaan inspireer my. Dit was eintlik ’n groot verrassing vir ons albei hóé lekker ons saam gewerk en mekaar geïnspireer het. Hy is die ou wat idees uitdink. Ek is weer die een wat ingestel is op detail. Hy dink dus aan die groter prentjie en ek kleur dit in.”

Kim meen dit is wonderlik hoe nederig haar geliefde is. “Hy sal almal om hom blink vryf. En ek vind omdat hy glo ek kan enigiets doen, begin ek dit naderhand self glo en dan kán ek dit doen en begin ek myself verras. Dit is wonderlik wat gebeur as mense in jou glo.”

Sy beskryf hul liefde as baie diep. “Dit is ’n tipe liefde wat baie sterk is – jy kan dit nie ignoreer nie. Dit skaaf jou tot die mens wat jy moet wees. Maar verandering is nie noodwendig altyd maklik nie … ”

Klik by www.gardencourttheatre.com vir meer oor hul teaterstuk.