Ons praat met

“Ek’s weg met net my tas” – Muriël Lategan

Skeigeld is duiwelsgeld, glo Muriël Lategan. Sy is met nét ’n tas klere en ’n motor haar huwelik in met die sanger Dozi op 15 Junie 2007. En toe sy vanjaar op 20 Januarie haar egskeidingsdokumente onderteken het en haar trouring die eerste keer afgehaal het, is sy wéér met net haar tas klere en haar motor daaruit.

Sy het selfs die meeste van haar trougeskenke en dié van die kombuistee agtergelaat. “Ek sal werk vir my eie geld, al moet ek strate vee,” sê sy. “My selfbeeld was nooit baie goed nie, maar ek is nou meer selfversekerd as ooit tevore. Ek het geleer om op my eie twee voete te staan. En ek sal twee keer dink voor ek ooit weer trou.”

Sy is fyn, maar vasberade. Haar blougroen oë kyk reguit en haar handdruk is ferm. Nee, sy is glad nie spyt sy het met Dozi getrou nie. Sy sal dit trouens alles weer nét so doen as sy kan.

“Die hele ding voel ’n bietjie onwerklik. Ek lees in die koerante en tydskrifte oor myself en ek het geen beheer daaroor nie, maar dit het my net sterker gemaak. Wat nie dood maak nie, maak sterk.”

[box:100:grey:left]

Ek’s regtig oukei

[/box]

Hulle het op 28 Desember laas oor die telefoon gepraat. Hy sou haar ontmoet en dinge ’n bietjie uitgesels, maar sy het nie weer van hom gehoor nie en dit het toe nie gebeur nie. “Ons het maar oor ditjies en datjies oor die foon gesels.”

Tot vandag het Dozi nog nie die egskeiding met haar ouers bespreek nie. “Hulle is lief vir hom, soos vir hul eie seun, maar hulle is seergemaak dat hy nog nie met hulle hieroor gesels het nie.”

Op 1 Januarie het sy slegs ’n hêppy, hêppy-SMS van hom gekry. “Aanvanklik as hy my gebel het, het ek elke keer gehuil. Hoe kan iemand vir jou sê hy is lief vir jou, maar hy wil nie by jou wees nie? Dít kon ek glad nie verstaan nie.”

Maar vandag weet sy dié egskeiding is net nóg ’n uitdaging in haar lewe. “Ek is ’n Christen, en God plaas niks op jou pad wat jy nie kan hanteer nie. Ek is mal oor my werk by die familie-onderneming Hanekom-spyseniers op Moorreesburg. Ons hanteer reuse-gesellighede, veral troues. Ek maak graag nageregte soos kaaskoek en sjokolade-mousse. Ek is regtig oukei. Ek wil net nie bejammer word nie.”

Dozi en Muriël in gelukkiger tye.

Maar sy mis nog vir Dozi. En dis nie vir haar maklik om te besef haar huwelik van ’n jaar en vyf maande het nie gewerk nie. “Wie wil op 24 sê sy is ’n geskeide vrou? Ek is steeds lief vir hom en verlang na hom. Jy hou nie sommer van een dag tot die volgende op om lief te wees vir iemand nie. Ek het verlief geraak op sy aura. Hy kan so kinderlik opgewonde raak oor die lewe. Toe ek in gr. 11 aan die Hoërskool Moorreesburg was, het my ma, Marinda, die eerste keer met ’n CD van hom by die huis aangekom. Toe ek sy oë op die omslag sien, het ek dadelik gedink dit lyk so sag. Toe ek hom ’n week later toevallig by ’n optrede ontmoet, was hy baie vriendelik. Ons het mekaar omtrent ses jaar lank geken voordat hy my amptelik begin date het.”

In Januarie 2007 het hulle begin uitgaan, vier maande later was hulle verloof en ná ses maande was hulle getroud. Was daar nie tóg ’n stemmetjie wat haar gewaarsku het dat die ouderdomsverskil, sy liefde vir vroue en kuier en sy roem dalk in hul gelukspad kon staan nie?

“Die enigste ding wat my gepla het, was dat ek na die plaas by Hartbeespoortdam moes trek, want ek is baie geheg aan my familie en vriende. Ek was baie geskok om die afgelope ruk te moes lees hy het probleme met ons ouderdomsverskil gehad. Ouderdom is net ’n nommer.”

En sy gekuiery? “Aanvanklik was dit ’n grap. Ek kan self lekker kuier. Maar naderhand het ons te veel vasgesit. Dozi is ’n ander mens wanneer hy kuier. En soms het ek emosioneel afgekraak gevoel.” Meer wil sy nie sê nie.

[box:200:grey:right]

As ’n mens se man nie tuis aandag aan jou gee nie, dan lág jy later nie meer nie

[/box]

Toe sy sowat ’n jaar ná hul troue uitvind sy het diabetes, het dinge ook begin verander. “Dit was ’n groot skok vir my liggaam. Ek moes my eetgewoontes aanpas. Ek kon nie meer kuier en eet soos vroeër nie. Dít het hom gefrustreer. Miskien was ek nie opgewasse vir die lewe in die kollig nie. Maar ’n huwelik is iets waaraan albei moet werk. Dis nie iets waarvoor jy ’n kursus doen en dan ’n rybewys kry nie. Ek het met Hendrik Opperman getrou, nie met Dozi nie. By die huis was hy Hendrik, my man, wat my spesiaal laat voel het. Ek het besef ek moet hom in die openbaar met sy aanhangers deel, maar dit wás soms alleen. Dáár was hy Dozi.”

Een keer het ’n meisietjie vir Muriël vir háár handtekening kom vra. “Ek hét nie eens ’n handtekeningnie! Toe skryf ek net ‘Muriël’. Ek was byna skaam om te dink omdat ek nou aan Hendrik se sy is, maak mense ook van my ’n ophef. ’n Ander keer het ’n meisietjie aan my hare gevat om te kyk of dit ‘eg’ is. Sy’t gedink dis haarverlengings – op ons troudag was dit mos krullerig. Dis dáárdie wêreld van Dozi waaraan ek nou nie meer deel het nie. Dis ’n vreemde wêreld, waar mense soms kontak met die werklikheid verloor.

“Deesdae herken mense my as ‘Muriël van Glitterati’ nadat ek op ses uitsendings van dié kletsprogram een van die aanbieders was. Baie weet glad nie ek was Dozi se vrou nie. Ek wil nie in iemand anders se skaduwee staan nie. Ek wil net myself wees en my eie ding doen.”

En dan was daar die liefdadigheidsgeselligheid ten bate van onder meer die Nelson Mandela-stigting in September 2007 in Monaco . . . “Dáár het Hendrik homself tussen die bekendes verloor. Dis moeilik om te verduidelik. Roem en geld beteken vir my niks. Daar sit ek toe aan tafel met Bono langs my en Naomi Campbell en ek vertel vir Bono van my spysenierswerk voor ons troue en ek dink nie hulle stel hóégenaamd in mybelang nie. Dozi moes drie liedjies sing. En prins Albert van Monaco stap op die verhoog en alles was net so grand. En Dozi wil pêlle word met Bono. Dit was net nie hy nie. Ek het gedink die mooiste ding van hom was altyd dat hy gesê het hy is nie iemand wat modelle om hom soek nie, hy wil net tevrede wees met wat hy doen . . . Ek het gevoel asof ek glád nie daar hoort nie. Dáár was hy Dozi, nie Hendrik nie. Ek was baie eensaam. Vir my gaan die lewe oor veel meer as geld. Jy moet jouself gelukkig maak voor jy iemand anders gelukkig kan maak. Dit gaan daaroor om jouself te wees, om ander gelukkig te maak. Ander mense se lag maak my lag. Geluk is nie iets wat jy in ’n pakkie koop of wen nie.”

Maar sy onthou ook lekker tye. “Party van die musikante wat sy vriende is, is eintlik baie plat op die aarde. Dit was vir my lekker om saam met hulle te kuier: Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Lianie May, Karen Ferreira. Hulle het mý ook nie as ’n indringer beskou nie. Ek is mal oor uitgaan en nuwe vriende maak.

“Aanvanklik was dit vir my heerlik op die plaas. Ek en Hendrik het baie kaart gespeel – Pakkies en Straatjies. Ons het lekker gesels, geswem, buite rondgestap, in Harties rondgery met sy Jeep, gejetski, gebraai. Daar was planne om ’n kunstenaars-venue op die plaas te begin, maar dit het nooit gebeur nie. Ek was ’n bietjie gefrustreerd dat ek nie my eie werk gehad het nie.” Ná net sowat ’n jaar het die krake begin wys . . . “ Sy CD-verkope was nie wat dit voorheen was nie en hy sou van soggens nege-uur tot drie-uur in die nag op sy kitaar speel. As ek hom vra wat fout is, sou hy sê hy het ruimte nodig. Dit het soms gevoel asof ek net ’n portret in die huis was, want hy het nie met my gepraat nie. Soms het ek my ma-hulle vier keer per dag gebel, want ek moes met iemand praat. Maar daar was kere dat ek nie eens my familie wou bel nie, want wat kon hulle aan die situasie doen?

[box:200:grey:right]

Daar is my wonderlike gesin en só baie mense op Moorreesburg, selfs groot mans, wat my kom drukkies gee.

[/box]

“Dit het my gebreek toe ek in ’n onlangse koerant-artikel lees hoe hy vertel ek was later in die huwelik nie meer borrelend en vol laggies nie. En dat ek nie drukkies uitgedeel het en liefdevol was nie. Ek was nie vryerig in die openbaar nie, want ek het gevoel dít bêre ek vir by die huis. En as ’n mens se man nie tuis aandag aan jou gee nie, dan lág jy later nie meer nie.”

Was sý die een wat haarself moes uitsorteer toe Dozi haar twee weke lank na haar ouers gestuur het toe hy Londen toe is vir ’n toer einde verlede jaar? “Ek het baie die fout by myself gesoek. Gedink wat ek kon doen om hom gelukkiger te maak. Maar soms moet ’n mens maar selfondersoek doen. Hendrik het self dikwels gesê hý is ’n kind in ’n grootmensliggaam.”

Muriël het ná daardie vernietigende oproep vroeg in September, toe Dozi haar vanuit Londen (waar hy op ’n toer was) gebel en gesê het hy wil skei, hard gehoop hulle sal versoen raak. “Aanvanklik het ek gedink dis ’n grap. Hy het dikwels as hy kwaad was, gesê hy wil skei. Ek het al baie gehuil, maar ek is moeg van trane. Dit sal nooit weer tussen ons werk nie. En ek gun Hendrik net die beste. Ek hoop hy vind geluk by die regte vrou. Dit was heerlik om deur hom gekoester te word. Hy was mal oor my Swartlandse bry – vir hom was ek mooi, snaaks, spesiaal. Dis nie lekker om alleen te wees nie. Ek hét kort nadat ek gehoor het hy wil skei sommige aande ’n bietjie te veel gekuier om die seer te vergeet, maar ’n mens tel jou kop op en gaan aan. Daar is altyd ’n doel met alles, hoewel ’n mens dit nie verstaan nie. Daar is my wonderlike gesin en só baie mense op Moorreesburg, selfs groot mans, wat my kom drukkies gee, dikwels met trane in die oë. Ek kry die mooiste boodskappe op Facebook. Mense gee opreg om. Daar was miskien twee mense wat hulle in my pyn verlustig het. Ek dink soms is die dood makliker as egskeiding. Ek verlekker my beslis nie in Hendrik se pyn nie. Dis ook vir hóm swaar.”

En die wilde partytjie waar hy glo ’n model in sy swembad tequila gevoer het enkele weke nadat hy vir Muriël gesê het hy wil skei? “My eerste gedagte was: Hoekom het hy my nie genooi nie?”grap sy. Dan ernstiger: “In daardie stadium was ek al só seergemaak dat dít my nie erger pyn kon aandoen nie. Ek dink dit sou beter gewees het as hy gewag het totdat die egskeiding finaal afgehandel was. Wat my erger gevang het, was toe ’n joernalis kort ná die partytjie vir my per SMS vra of ek weet Hendrik het ’n nuwe meisie. Ek het só gehuil en gedink hoe kán hy so maklik aangaan met sy lewe as ék so sukkel.

[box:150:grey:left]

Ek wou minstens darem voor sy kitaar gekom het

[/box]

“Die gerug van ’n nuwe meisie was nie waar nie, maar ek het dit eers later uitgevind. Hy het my pa, Nicky, die volgende dag gebel om verskoning te vra ná die koerantberig. Ek het al baie gedink die egskeiding is God se manier om my te straf omdat ek ’n vorige kêrel ná vyf jaar afgesê en hom baie seergemaak het. Die wiel het dalk gedraai. Hoekom ek? Maar ek besef die lewe skuld my niks. Geluk is wat jý daarvan maak. Ek wou baie graag Hendrik se kinders gehad het, maar nou is ek bly ek het nie. Eendag wil ek ’n wonderlike man ontmoet by wie ek kinders kan hê. Iemand wat my aanvaar – loud soos ek is. Iemand wat ek gelukkig kan maak. Ek glo nie jy verloor jou skoen en die prins kom daar aan soos in die sprokies nie. Of aan die ridder op die wit perd nie. Dalk moes my ma nie sulke stories vir my gelees het toe ek ’n kind was nie. Niks in die lewe is perfek nie. Maar ek wil nou net vorentoe gaan.” 

In ’n onderhoud met Huisgenoot (9 Oktober 2008) sê Dozi: “My liefde vir God kom eerste, dan my liefde vir myself, dan my liefde vir musiek, dan eers my liefde vir my vrou en my kinden my familie.” Muriël wil nie nommer vier op iemand se lys wees nie. “God is uiteraard nommer een op almal se lys. Maar ek wil minstens nommer twee wees. In die Bybel staan as ’n man die dag trou, doen hy afstand van sy ouers en sy vrou is nommer een. Ek wou minstens darem voor sy kitaar gekom het.”

  • joey

    Ja dit is n bitterpil om te sluk ….ek praat van ondervinding Maar n mens moet net aangaan kop op lig…… en positief bly….. Dis nie die einde van die wereld nie…So leer n mens in die lewe as jy verkeerde keuses maak as mens. Laat die keuse aan GOD oor…. vir die regte lewensmaat…