roxy_burger
Ons praat met

Survivor 2011: ‘Klein Roxy’ se vlam geblus

Nadat Vanessa (Haywood) beseer is, het dit gelyk asof jy moed opgegee het in Survivor?
Dit was beslis een van my laagtepunte. Toe ek die episode op TV gekyk het, was ek nogal geskok om te sien dat dit lyk asof die res van my stam nie omgegee het dat Vanessa beseer is nie. En toe MXO daai dooie hoender in my gesig kom druk het om my te irriteer, wou ek hom met daai hoender slaan. Ek het geweet die kans is goed dat ek uitgestem gaan word en ek het oorwonne gevoel. Ek het probeer om nuwe alliansies te vorm, maar dit het nie gewerk nie.

Dit het gelyk asof MXO ‘n doring in jou en Vanessa se vlees was?
MXO het my nie soseer geïrriteer soos wat hy Vanessa geïrriteer het nie. Simon was vir my ‘n groter probleem, want hy was verkleinerend teenoor my. Veral noudat ek Survivor op TV kyk, sien ek wat hy van my sê. Hy het my heeltyd ‘klein Roxy’ genoem asof ek naïef is. Ek is dalk fisiek klein, maar ek het ‘n taamlik goeie brein.

Jy is blykbaar ‘n Survivor-kenner?
Ek het byna al die internasionale weergawes van Survivor gekyk en is ‘n groot aanhanger van die formaat van die program. Ek kon min of meer voorspel wat die uitdagings gaan wees nadat ek die leidrade gelees het. Tog was daar steeds ‘n klomp dinge wat my onkant gevang het. Dit was nogtans ‘n droom wat waar geword het om aan Survivor deel te neem en ek is trots op myself dat ek dit gedoen het. Voor Survivor het ek nog nie ‘n dag in my lewe gekamp nie. En ek sal ook nooit weer nie. Ek is teleurgesteld dat ek nie die samesmelting gehaal het nie. Dit was my doelwit.

Dink jy jou vriendskap met Vanessa het teen jou getel?
Beslis. Wanneer twee mense goed oor die weg kom, maak dit die ander stamlede senuweeagtig. Ek dink my stam was ook verras om te sien hoe lojaal ek teenoor haar is.

Wat was die ergste op die eiland?
Ek het my gesin baie gemis. As ek aan hulle gedink het, wou ek in trane uitbars. Ek het op ‘n stadium besluit ek gaan glad nie aan hulle dink nie. Dit was die enigste manier hoe ek sterk kon bly.

Ek hoor jy het gister jou honneursgraad gekry?
Ja, ek was gister by my gradeplegtigheid. Ek het my honneursgraad in handelsmerkstrategie van Vega gekry. Vorentoe sal ek graag ook ‘n MBA-graad wil doen. Ek het my eie sakeonderneming: ek voer trourokke in en verkoop dit in SA.