sr0903praatmet01
Ons praat met

Koel George Clooney met warm hart

Daar’s iéts aan George Clooney wat vroue laat swymel. Dalk sy hardebaard-voorkoms. Die stoutevonkel in sy oë. Die sensuele mond . . .

Onweerstaanbaar in sy wit jas as dr. Doug Ross in die mediese TV-reeks ER.’n Akteur om mee rekening te hou in flieks soos The Perfect Storm, Ocean’s Eleven (en die 2 opvolg-flieks), asook Syriana, waarvoor hy in 2006 ’n Oscar gewen het.

Ook skrywer, regisseur en vervaardiger – waarin hy uitblink. In 2006 was hy vir ’n Oscar benoem as
skrywer en regisseur van die swart-wit-fliek Good Night, and Good Luck oor die uitsaai-joernalistiek in
Amerika in die 1950’s.

Boonop is hy bekend vir sy liefdadigheidswerk. Slim, sexy, sagte hart … Wat meer wil jy hê?

People Magazine het hom al twee keer as die Sexiest Man Alive aangewys. Pas was hy weer op
die silwerdoek in die donker komedie Burn After Reading as ’n tesourie-amptenaar met ’n voorliefde
vir vroue.

Ná ’n paar ernstiger rolle is jy terug met Burn After Reading.
Ja, ek wou net iets ligs doen.’n Akteur soek altyd ’n verskeidenheid. Ek was tot dusver gelukkig genoeg
om verskillende rolle te vertolk. Dalk was ek nie suksesvol in alles nie, maar die grootbase het my nie
ingeperk nie en daaroor is ek bly.

Jy het vir dié rolprent weer saam met jou goeie vriend Brad Pitt gewerk.
Dis altyd pret om saam met Brad te werk. Dit raak nooit moeilik nie, want hy het goeie idees en ondersteun jou regtig. Ons praat so een keer per week. Hy was nog altyd ’n goeie vriend van my.

Jy word beskou as een van Hollywood se sexyste sterre. Is jy bang om oud te word? Nee, vir ’n 47-jarige is ek in ’n goeie kondisie! Ek speel twee keer per week basketbal en oefen elke dag. Ek was eintlik lanklaas so fiks. Ek het myself verlede jaar tydens die maak van ’n rolprent beseer en het toe besef hoe kwesbaar jou liggaam werklik is. Ek’s nie meer so rats nie, maar ek voel goed. Ek hou van my grys hare en plooie. Dit maak my gesig meer uitdrukkingsvol – meer hoekig. Veroudering is iets wat jy net moet erken en aanvaar.

So, die gerugte dat jy aan jou oë laat werk het, is onwaar?
Was dít nou nie snaaks nie? Dit was ’n grap – ek het dit op kamera gesê! Die verslaggewer het gevra of
ek ooit plastiese chirurgie sal ondergaan. Ek het ’n snaakse gesig getrek en gesê: “Ek het my oë laat
doen, wat dink jy?” Skielik was dit in ’n tydskrif dat George Clooney aan sy oë laat werk het. Daarna
was dit orals. Ai tog, dis verstommend hoe vinnig goed opgeblaas kan word.

Is daar nóg sulke stories?
Net hierdie week het ek seweuur die oggend wakker geword met ’n string boodskappe op my Blackberry
omdat daar oornag berigte was dat ek verloof is. En letterlik net die volgende oggend word ek wakker en ek kyk na my Blackberry en dit sê ek gaan terug ER toe. Dié inligting verskyn toe in 175 artikels. Dit gebeur voordat jy ’n kans kry om te reageer. (Intussen hét ER toe wel waar geword!)

Laat jou Blackberry jou weet as daar iets nuuts oor jou op die Internet verskyn?
Nee, maar my sekretaresse se selfoon doen dit. Maar dis regtig net vir die slegte stories, nie die goeies nie. (Hy lag.)

En die storie wat die ronde gedoen het dat jy peetpa van Nicole Kidman se dogtertjie, Sunday Rose, sou wees?
Ek sien Nicole net nou en dan of omtrent een keer per jaar by ’n partytjie. Ek’s dol oor haar. Sy’s wonderlik, maar dis nie asof ons beste vriende is nie. Maar ek dink tog peetpa sal ’n goeie werk vir my wees. So, wie weet . . . ?

Wat van jou eie gesin – om te trou en kinders te hê?
Baie vroue sien nie kans vir ’n vaste verhouding met my nie omdat ek so hard werk.Om in ’n verhouding te wees beteken jy moet tyd daarin belê – tyd wat ek nie het nie. Die vrou aan my sy moet baie onafhanklik wees. Ons sal maar sien wat die toekoms inhou. Ek kan nie nou vir jou ’n definitiewe antwoord gee nie.

Jy’s nie net besig met jou loopbaan nie, maar ook met liefdadigheidswerk in byvoorbeeld Darfoer.Gaan jy gereeld soontoe?
Ja, ek het net verlede week daarvandaan teruggekom. Dis nogal ’n gevaarlike gebied en nie die maklikste plek om te wees wanneer jy jou mond uitspoel oor die Soedanse regering nie. Baie mense vra my: Hoekom doen jy dit? Maar ek wil deel wees van die res van die mensdom se omstandighede en nie net die beste dele daarvan geniet soos glansgeleenthede en duur restaurante nie.

Is daar sekere ervarings wat uitstaan?
Beslis. Die laaste reis na die Kongo was rof omdat ons die hospitale besoek het. Ek het vroue gesien wat die vorige dag wreed verkrag en aan die brand gesteek is. Hul lippe is afgesny sodat hulle nie kan praat nie. Dis ongelooflik. Dit dwing jou om dié soort haat en wreedheid te probeer verstaan. Jy verstaan hoe mense mekaar kan haat, maar jy verstaan nooit waarom hulle tot sulke uiterstes gaan nie. Daar’s iets sadisties daaraan.

Wat wil jy bereik deur jou roem te gebruik?
Wanneer jy beroemd is, is jou werk om te gaan waar die kameras nie gewoonlik gaan nie en om te wys hoe wreed die wêreld kan wees. As jy baie aandag kry, kan jy sê kom ons gaan daar waar geen aandag is nie en die kamera sal jou volg. Jy kan natuurlik nie die beleid verander nie, maar jy kan wel oplossings voorstel en mense se lyding probeer beëindig. Maar jy moet jou idees goed kan oordra. Jy moet weet waarvan jy praat, anders kan jy die situasie meer skade berokken. As ek ’n sensitiewe kwessie bespreek, moet ek beter ingelig wees as die politici. Mense wag net hul kans af om jou verspot te laat lyk en dan bereik jy niks nie.

Jy’s altyd so passievol oor dié onderwerp.Wat van jou persoonlike drome en doelwitte? Baklei jy met net soveel geesdrif daarvoor?
Ja, ek glo ’n mens moet dit doen, anders sal dit ’n vermorsing van jou lewe wees. Die lewe is te kort om dit nie voluit te geniet nie. Jy moet baklei om jou doelwitte te bereik, anders sal jy altyd ietwat onvergenoeg voel as jy nie probeer nie.

Waarna streef jy volgende?
Meer as enigiets wil ek dáns. Jazz-danse.Dís wat ek regtig graag wil leer. Ek het ’n passie daarvoor,maar ek het tot nou toe nooit die kans gehad om dit te leer nie.Die tyd het aangebreek en ek gaan ’n paar lesse neem.

Het jy al jou droomrol gehad?
Ek was deur die jare gelukkig om ’n paar droomrolle te kry, maar daar is nóg op pad. Ek gaan nie nou al ophou nie. Ek wil aanhou toneelspeel vir solank as wat ek kan. Ek hou daarvan om kreatief te wees en ek wil die hele tyd verbeter.

Bevorder jou lewe in Italië jou kreatiwiteit? (Hy het ’n villa by die Como-meer.)
Ek’s dol daaroor om in Europa te bly! Dis so ontspanne. Ek hoef myself nie te bekommer oor wat ek dra en of my baard geskeer is nie. Ek voel vry. Ek kan na restaurante en kroeë gaan sonder om deur die paparazzi agtervolg te word. Ek kan net op my fiets ry,’n drankie by ’n kafee drink en die lewe geniet. Al herken mense my, is hulle nie te gepla nie. Laat ek jou iets snaaks vertel: Elke keer as ek Italiaanse kos
in Amerika eet, is dit vol knoffel. Almal in Amerika dink Italiaanse kos bestaan uit tonne knoffel. Dan gaan hulle Italië toe en sien dis glad nie so nie!

Jy’s nie net sexy nie,maar ook invloedryk . . .
Invloed is kortstondig en beteken nie juis iets nie. Ek het nooit gedink ek sal so suksesvol wees nie. Ek het altyd hoog gemik, maar nie gedink ek sal dié hoogtes bereik nie. Soos jy weet, kom dit in sulke situasies maar neer op geluk. Alles is aan ER te danke.As die program nie vir Donderdagaande om 22:00 gekies was nie, sou dit nooit so gewild gewees het nie, want dít is die belangrikste tydgleuf op Amerikaanse TV.Dis so eenvoudig soos dit. Daar’s geen ander verduideliking nie.Die oomblik toe die program die tydgleuf gekry het, het ek vir my vriend gekyk en gesê ek het pas ’n TV-loopbaan van sewe jaar losgeslaan. Ek het geweet vir ’n ruk is ek gemáák. So, dit het niks met my te doen nie. Ek’s altyd baie bewus daarvan: Alles wat jy as ’n akteur bereik, het ook geluk nodig.

Jy is nie meer net ’n akteur nie,maar ook ’n suksesvolle regisseur, skrywer en vervaardiger.
Kyk, dit beteken nie jy probeer nie om die geluk in jou guns te gebruik nie,maar ja, dis waarom alles vir my soos ’n kersie op die koek is. Ek gaan al die geleenthede wat ek kry, aangryp. Jy weet nooit hoe lank jy nog die kans gaan hê om dit te doen nie.

Jy lyk soos ’n baie optimistiese mens – altyd in ’n goeie bui. Het jy ook jou hartseer dae?
Ja. (Hy lag.) Ek raak nou op dié oomblik hartseer omdat die onderhoud verby is!