sr1011robvanvuuren35
Ons praat met

Komediant Rob van Vuuren maak hart oop

EK HOOP
om die beste pa te wees sover dit vir my moontlik is. Ek en my vrou, Dani, is in die proses om ‘n baba aan te neem. Ek dink ek moet eers leer om ‘n doek om te ruil voor ek begin raad uitdeel, maar ek hoop tog dat my kinders eendag die moed het om hul drome na te volg en dat hulle mense en ons planeet met liefde en respek sal behandel.

EK IS BANG
ek misluk op die verhoog. Dié vrees verdwyn nooit nie, maar uiteindelik hang dit af hoe jy dit inspan. Elke keer as jy op die verhoog stap, is jou reputasie op die spel – as jy nie minstens ‘n klein bietjie senuweeagtig is nie, behoort jy dit nie meer te doen nie.

WAT EK NOU WEET

  • As aanbieder van SA’s Got Talent het ek al soveel fantastiese Suid-Afrikaners ontmoet. Ek glo werklik ons krag lê in ons verskeidenheid. Dit was terselfdertyd vir my ongelooflik om te sien hoe scary dit vir party deelnemers is om hul droom na te jaag.
  • Die beste ding wat nog met my gebeur het, was om my vrou te ontmoet en ons besluit om ‘n baba aan te neem. (Dani is ‘n baie talentvolle fotograaf, ek is ‘n groot aanhanger van haar werk.)
  • Elke dag is ‘n geskenk en ‘n geleentheid om iets nuuts te doen – dis hoe ek die lewe benader.
  • My vrou, familie, vriende en mense wat nie bang is om ‘n krater van hulself te maak nie, laat my lag.
  • Daar’s een ding wat ek geleer het oor die vermaakbedryf: Dit neem tien jaar om oornag ‘n sukses te word.
  • Die kuns is om tevrede te wees met waar jy nou is. Ek fokus daarop om die beste te wees in die werk wat ek tans doen. Die toekoms sorg vir homself as jy die hede die respek en sorg gee wat dit verdien.