Ons praat met

Kurt Darren se hoop, vrees en lewenslesse

 

EK HOOP

my vertonings is pret. Dis my passie. Ek maak die soort musiek wat ’n glimlag op jou gesig sit as jy in die verkeer vassit, ek doen nie die politieke ding nie.

om nog daardie groot, ontwykende marlyn te vang. Ek wil in die Rooisee en Australië se Groot Koraalrif duik. En Griekeland en die piramides van Giza besoek. In standerd vyf het ek ’n landwye Engelse spelkompetisie gewen toe net ek in die eindronde die woord “archaeologist” kon spel . . . want dis wat ek wou word. Ek stel steeds daarin belang.

om vanjaar oorsee te toer. My liedjies kry baie reaksie uit Nederland en België . . . maar ek het nie ’n droom om internasionaal suksesvol te wees nie. My mark is hiér. Ek hou van Afrikaans en skryf die lekkerste daarin.

om te trou en kinders te hê. Dis belangrik om lief te hê en iemand te hê wat vir jou lief is. My meisie hou van my wêreld, sy verstaan dit, maar sy doen haar eie ding – honneurs in sielkunde.

EK IS BANG

vir misdaad. Ek is al twee keer beroof, in my eie bed, en ek slaap steeds nie te lekker nie. Ek is bang iemand na aan my kom dit ook oor. Ek het ’n bietjie doodgegaan destyds – dit gebeur as sestien ouens met gewere om jou staan en jy lê vasgebind op die vloer in jou slaapbroek, met jou eie duvet oor jou kop. Misdaad maak my naar as mense oënskynlik immuun raak teen al die skokberigte.

Ek skrik nie vir adrenalien-gedrewe goed nie. Ek het dit al alles gedoen: vryval, ’n witwater-kanovaart by die Victoriawaterval, skubaduik . . . Maar ek is nie onverskillig nie, ek is te lief vir die lewe. Ek neem berekende risiko’s. Dis goed om jouself uit te daag, so leer jy om ook kleiner uitdagings te hanteer.

Mense vra altyd of ek nie bang is vir opkomende sangers nie. Ek is nie, kompetisie is goed. Ek gaan myself nie meet aan ’n Steve of ’n Nicholis nie (al wil mense altyd weet wie verkoop die meeste!), want dan verloor jy fokus.

WAT EK GELEER HET

Ek haat roetine of as dinge te gemaklik raak. Ek maak ’n punt daarvan om doelwitte te hê. Ek sal eendag my kinders leer om altyd nóg drome te hê. Ek wou altyd onder die Eiffeltoring sit en Venesië toe gaan, en verlede jaar het ek.

Ek is spyt ek het nie kleintyd my pa se aanbod aanvaar om vir my ’n kitaar te koop nie. (Ek was so tien, elf jaar oud, en ’n cool ou het nie kitaar gespeel nie.) Ek het later geleer, maar ek wil nog beter speel.

Lance James het vir my die beste raad gegee: “Onthou mense en noem hulle op hul name, hulle hou daarvan.”

Ek is nooit skaam om te sê ek verdien goeie geld nie, want ek was dertien jaar lank op universiteit! Al die jare het ek my eie toerusting rondgedra, opgestel, alleen van dorp na dorp gery . . . ’n harde leerskool. Vandag ken ek nie iets soos ’n moeilike gehoor nie, want daai tye het my geleer om mense te hanteer.

Ek is geseënd, die inspirasie vir my liedjies droog nooit op nie. Ek het van jongs af geskryf en baie gelees – almal het vir my gelag. Maar dit hou jou algemene en woordkennis lewendig. Ek is ’n groot mensekyker – daar lê soveel stories.

Ek het geleer om ander vinnig op te som. Ek weet al by voorbaat of iemand gaan nice wees of my gaan chirp. As ek hom verkeerd lees, voel ek erg verleë. Ek dink ek is al potensiële goeie vriende kwyt omdat ek skepties is oor hul agenda. Dis die nadeel van bekend wees.

Omdat ek soveel geduld met die publiek (veral ná my optredes) moet hê, is ek soms ’n bietjie ongeduldig met die mense na aan my. Ek werk daaraan!

Ek wil nie instap en die middelpunt van aandag wees nie, maar niemand glo dit nie. Hulle dink jy wil oor jouself praat. Ek is doodgelukkig om net na ander te luister. Ek is ’n gewone ou, behandel my so. Ek hou daarvan as mense nie saamstem met alles wat jy sê nie.