Rozanne McKenzie
Ons praat met

Kwêla- en Dagbreek-aanbieder deel haar wittebroodfoto’s

Rozanne McKenzie, die vriendelike Dagbreek- en Kwêla-aanbieder, en die musikant Chris Bishop (oorspronklik van Brittanje) het vanjaar in Januarie in Engeland getrou, maar het eers onlangs in Mosambiek gaan wittebrood hou. Rozanne deel dié ervaring met SARIE.com.

‘n Troue in Brittanje, maar ‘n wittebrood in Afrika – waarom het julle Mosambiek gekies?

Ons het Mosambiek gekies omdat ons graag ‘n tropiese bestemming wou besoek waar ons lekker op die strand kon lê en ontspan. Hierdie is ‘n wonderlike tyd van die jaar daar. Die weer is fantasties en dis nie te besig nie. Mosambiek is ook lekker naby. Ons het net twee uur gevlieg Inhambane toe, dus het ons nie ‘n dag van ons wittebrood verloor met ver reis nie.

Rozanne McKenzieFOTO BO EN ONDER: Die pragtige strande van Tofino, net buite die dorp Tofo in die Inhambane-provinsie.

Rozanne McKenzieHoekom het julle 6 maande gewag om wittebrood te hou?

Daar was nie tyd nie. Ek moes 5 dae ná ons troue terug by Dagbreek wees, dus kon ons nie rêrig êrens gaan nie. ‘n Troue in Engeland is ‘n duur ding! Ons was gelukkig dat ons ouers baie gehelp het, maar ons moes self ook baie spaar. Ons het genoeg geld gehad om vroeër in die jaar op wittebrood te gaan, maar omdat ons nog ‘n paar maande kon spaar, kon ons ‘n baie beter oord bekostig.

Wat is die lekkerste daarvan om eers later wittebrood te hou, eerder as direk ná die troue?

Die feit dat ons eers later op ons wittebrood gegaan het, het vir ons beteken dat ons die afgelope paar maande iets baie spesiaals gehad het om na uit te sien. Ons was albei vanjaar baie besig en ‘n blaaskans in die middel van die jaar was fantasties! Ons het in elk geval ‘n “destination wedding” gehad, so dit het gevoel asof ons ‘n bietjie op vakansie was toe ons in Engeland was, so tussendeur al die laaste goedjies wat ons vir die troue moes uitsorteer.

FOTO LINKS: In Mosambiek drink ons sommer direk uit die kokosneut! FOTO REGS: Rozanne en Chris ontspan nadat hulle gaan snorkel het.

Hoogtepunte van Mosambiek …. 

Inhambane is baie mooi en ons het in ‘n pragtige oord in die Barra-gebied gebly. Ons het elke dag iets gedoen – gekajak, gesnorkel, gaan waterski, ‘n dorpie verken op ‘n vierwielmotorfiets. Maar ons het ook baie gerus en ontspan langs die swembad met ‘n kelkie of twee. Ons hotel was op die strand en dit was so lekker om elke oggend op te staan en op die strand te stap saam met my man. Die plekke wat ons gesien het, soos Tofino se strand en die pragtige sonsondergang elke middag was ook nog hoogtepunte. Om die hele ervaring met Chris te deel was die “cherry on top”.

Rozanne McKenzieFOTO: Kajak op die moeras.

FOTO’S: Ons het in die Barra-meer en in die see gesnorkel.

Rozanne McKenzieFOTO: Ons verken Tofo op ‘n vierwielmotorfiets.

Julle het albei besige beroepe. Is dit moeilik om vir mekaar tyd te maak?

Dis baie moeilik! Veral as Chris in die aande by vertonings speel en ek vroeg moet gaan slaap as gevolg van Dagbreek. As hy dan van die werk af kom, is ek al vas aan die slaap. Ons maak wel seker dat ons elke dag ten minste een maaltyd saam eet, en as daar ‘n naweek is of ‘n dag in die week wanneer ons albei af is, is dit óns spesiale tyd. Ons is mal oor fliek, so ons spandeer sommer ‘n hele dag by die teater en kyk een fliek ná die ander. Dis ons ding. Tyd wat ons net bymekaar kan wees, is baie min, dus maak ons die beste daarvan.

Rozanne McKenzieWenke vir pasgetroudes … 

Elke huwelik is anders, so wat vir my en Chris werk, sal dalk nie vir ander pasgetroudes werk nie. Ons ken mekaar so goed en ons het elkeen ‘n rol wat ons in ons verhouding speel. Chris laat my altyd beter voel as ek stres oor goed, en ek kán stres! Hy maak my rustig en ek vul hom weer op ander maniere aan.

Praat oor goed. Kommunikasie is baie belangrik. Of dit nou goed is wat julle pla oor mekaar of net ‘n slegte dag. Ons deel alles en is mekaar se beste vriende.

Dit moet pret wees! ‘n Huwelik kan nie net oor ernstige goed gaan nie. Die lewe is ernstig genoeg. Daar moet tye wees wanneer mens net kan lag en die lewe geniet. En met Chris lag ek baie!

Rozanne McKenzieFOTO: ‘n Bootrit na Pansy-eiland.

FOTO LINKS: Waterski is moeiliker as wat dit lyk! FOTO REGS: Die wittebrood was ook ‘n tyd vir ontspan.

Rozanne McKenzieFOTO: Aan die stuur van sake.

Rozanne McKenzieFOTO: Rozanne wys haar vietse lyf by die poele op die strand.

Rozanne McKenzieFOTO: Sy het duidelik die wittebrood baie geniet!