FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Lag lekker met Lizz Meiring!

Net Lizz Meiring se CV is meer as 5 000 woorde lank. En om dié teater- en TV-doyenne tussen slegs ’n paar blaaie vas te vat, is byna ’n onbegonne taak. 

Lizz sit met ’n dooie sigaret in een hand, goue aansteker in die ander. Skoon daarvan vergeet.

“Toe ek Ellen Pakkies skryf, het almal gesê niemand gaan daarna kom kyk nie. Maar dit gaan oor vergifnis. Ons almal het iets om te vergewe, onsself, ander, omstandighede.”

Sy is ook regisseur en mede-vervaardiger van die stuk, waarvan die fliek later vanjaar plaaslik verfilm word. Onse Bizzie Lizzie, verteenwoordigend van kleur, sonskyn, lig. Die korte Lizz met ’n groot, oop hand en hart vir alle siele op moedverloor se vlakte.

Lizz, wat haar bont huisie in Westdene, Johannesburg, lank met ’n reënspinnekop teen die muur gedeel het (hy het intussen geskoert). En sy is oortuig haar oorlede vriend, die
skrywer/joernalis Barry Hough, skakel haar rekenaar af as sy saans te laat werk. Sy korswel dan met hom.

Daar is niks van die donker, wroegende kunstenaar in haar nie.

Hier volg ’n uittreksel uit die onderhoud met Lizz Meiring wat in ons April 2015-uitgawe verskyn het

Jy was twee keer verloof. Is die huwelik nie vir jou nie?
Ek het om een of ander rede mans aangetrek wat die tradisionele ding wou hê. Trou, kinders. Terwyl my selfwaarde, raison d’être, aan my werk gekoppel is. Dis ’n minnaar teen wie geen man kan baklei nie. Ek vlieg tot 200 keer per jaar, soms vier vlugte op ’n dag. Watter man gaan dit aanvaar? Dit was ’n bewuste besluit. Baie vroue besef nie jy
het ’n keuse nie.

Dis vreemd dat jy, wat so onafhanklik is, nie motor bestuur nie.
Ek het so ontuis agter die stuurwiel gevoel. Dit was asof almal bo-oor my wou ry. (Dis nou buiten die feit dat ek nie oor die stuurwiel kon sien nie!) Ek het gehoor van ’n neurologiese foutjie wat veroorsaak dat jy nie afstandspersepsie op die pad het nie. Dit kan jou eie en ander se dood beteken. ’n Neuroloog het my intussen daarmee gediagnoseer. Ek luister altyd na my intuïsie. En het my kop al gestamp as ek dit ignoreer. Ek noem dit die stem van die engele.

Lizz in nuwe teaterstuk

Lizz Meiring

Twee vir die prys van een is ’n slimsnaakse, vars, uitbundige komedie met onverwagse wendings; geskryf deur die bekende Britse dramaturg Donald Churchill. Die stuk is in Afrikaans vertaal deur Wim Vorster.

*Lizz Meiring is met Michelle Botha en Hannes Muller in die komedie Twee vir die prys van een te sien. Bespreek kaartjies by Computicket. 10 Junie -12 Julie, Montecasino Teater.

Lees ook