Ons praat met

Laurinda Hofmeyr asof vir die eerste keer in 10 jaar

Laurinda Hofmeyr tree vanjaar vir die eerste keer in tien jaar in ‘n solovertoning, Asof vir die eerste keer, op. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor die sin van die lewe, Breytenbach, en hoe sy gegroei het die afgelope tien jaar …

Hoekom het jy besluit om ná tien jaar ‘n solovertoning te doen? Dis baie braaf!
Om ‘n gehoor ‘n uur lank te boei is nogal ‘n uitdaging. Die afgelope tyd het ek besef ek sou meer veelsydig en beweeglik wou raak. Verlede jaar het ek besef ek is ”vir die eerste keer” reg om dit te waag. Nou weet ek dat die solo-opsie daar is as die geleentheid daarvoor vra. Dit ontwikkel ander dele van my mondering en ek dink ook dit trek ‘n gehoor wat moontlik meer op die gedigte ingestel is. Dis besonder intiem en persoonlik.

Vanwaar die  naam?
Die titel is deel van ‘n sin uit ‘n gedig: ”… dat ek opnuut na jou kan kyk asof vir die eerste keer.” Ek ontgin daardie idee verder. As ‘n mens elke dag na jouself en die wêreld om jou kan kyk asof jy dit vir die eerste keer sien, hou elke dag oneindige moontlikhede in. Dit voel natuurlik ook ‘n bietjie vir my of dit die heel eerste keer is wat ek op ‘n verhoog moet stap!

Wat sing jy alles in die show en wat probeer jy aan die gehoor oordra?
Ek wys dalk kante van myself wat gehore se persepsie dalk ‘n bietjie kan verander. Ek het met behulp van Emtia Morrison ‘n baie toeganklike en plesierige program probeer bymekaar sit, wat steeds genoeg kontras en variasie bevat. Die vertoning bevat heelwat van my bekende melodieë wat deur sangers soos Laurika Rauch bekend gemaak is. Musiek van my albums Perd oor die Maan, Ligdag, en Reis na die Suide word gehoor in die mees gestroopte vorm, en dan is daar ook spinternuwe verrassings.

Hoe het jy as kunstenaar gegroei sedert jy begin optree het?
Sjoe! In alle aspekte van ”voordrag”, want ek is definitief nie ”gebore vir die verhoog” nie. Maar die bepalende faktor, wat ook miskien maak dat ek nou kans sien vir ‘n solovertoning nie, is waarskynlik die groei na ‘n duideliker beeld van myself, wie ek nou eintlik is en wat ek nou eintlik doen. Sodra mens sekerder daarvan is, maak dit jou ook meer ”oop” vir ander se proefnemings en mense, want dinge oorspoel en beïnvloed jou nie so maklik nie.

Watter tipe gedigte kies jy om te toonset?
Ek moet hou van die styl en ”kleur” van die gedig. Met ander woorde, hoe dinge gesê word, maar ook van die inhoud, van die ”wat”.

Wie is jou gunsteling-digter om te toonset en hoekom?
Ek het toevallig ses toonsettings van Breyten Breytenbach op my nuutste CD, Reis na die Suide. Ek hou nogal baie van die snit ”Halwe engel”. Die musiek het mooi uitgedraai. Want die gedig bevat ook asemrowende beelde, maar dan is daar definitief ook ‘n snykant. Daar is iets in Breytenbach se poësie waarby ek dus baie aanklank vind. Maar daar is ook baie ander digters. Ek het onlangs vir Barend Toerien ontdek. Ek hou van sy understated styl. Soms is daar ‘n enkele gedig van ‘n digter waarvan ek baie hou.

Wat maak die toonset van gedigte vir jou uitdagend as musikus?
Die idee is nie om woorde te plak op ‘n singbare deuntjie wat jy toevallig in jou kop het nie. Die uitdaging en bevrediging lê daarin om die gedig oortuigend verder in te kleur totdat dit ‘n nuwe dimensie en trefkrag kry en terselfdertyd die toonsetting musikaal laat werk. Die musiek en woorde moet voel of hulle by mekaar hoort.

Jy het ‘n klassieke agtergrond. Hoe help dit jou met die toonset van kontemporêre komposisies?
‘n Mens het net ‘n duideliker begrip van die musikale elemente wat jy kan gebruik om in te kleur.

Na watter soort musiek luister jy graag?
Enige musiek wat my kop en hart aanspreek. Deesdae het ek veral ‘n behoefte aan stilte!

Is dit ‘n baie eensame beroep om musiek te toonset?
Nee. Nie meer eensaam as enige ander werk waar jy jouself moet inspan om iets gemaak te kry nie. Dis wonderlik om ‘n medium te hê waarin jy jouself kan uitdruk en dan nog soveel pret ook kan hê waneer die proses verder gaan en mens saam met ander mense musiek maak.

Hoe voel jy elke keer nadat ‘n toonsetting ‘werk’?
Asof alle ander dinge wat mens doen eintlik tydmors is. Asof iets nuuts gebore is en nuwe moontlikhede om elke draai lê en wag.

Wat het jou beroep jou oor die lewe geleer?
‘n Goeie rigtingaanwyser is gewoonlik dit wat jou bang maak, maar jy tog begeer. As ‘n mens mooi luister en dit waag om so ‘n rigting in te slaan val alles gewoonlik in plek om die beste en meer te laat gebeur.

Wat maak elke dag vir jou die moeite werd?
My verhouding met mense. Met my man, my dogtertjie, my familie en vriende en natuurlik my verhouding met myself en die onverklaarbare – die opwindende reis deur my eie binnewêreld, wat dieselfde landskap elke dag anders laat lyk.

Laurinda hiér te sien

Dinsdag 30 Junie Huiskonsert in Hazelwood, Pretoria om 19h00
R120 (eetgoed ingesluit)
Kontak: Natasha by 082 411 6568
Woensdag 1 Julie Die Pienk Kerk, Melville, Johannesburg om 19h30
R140 (ete ingesluit) Bring eie drank Kontak: Ann Toerien 083 618 3848 anntoerien@gmail.com;
Donderdag 2 Julie Centurion Teater, 20h00
R100 Computicket of Centurion Teater: 012-664785