Ons praat met

Leanne Manas se drome, hoop en vrese

EK HOOP

om my eie kletsprogram te hê. Ek wil nie net ’n storie by die politikus hoor nie, maar ’n onderhoud voer mét die politikus óór die politikus. Ek wil vir Thabo Mbeki vra watter boek hy nou lees en wat hy gedoen het die dag nadat hy as staatspresident uitgetree het.

om met ’n gesin te begin. Dis die volgende hoofstuk in my lewe en ek en my man, Marc Menelaou, is nou gereed daarvoor. Ek wil aanhou bou aan my loopbaan en verder groei nadat ek kinders gehad het.

daar gaan ’n wending in ons geskiedenis wees met vanjaar se verkiesing en dat mense sal kry wat die regerende party hulle belowe, soos opvoeding, meer werkskepping en beter dienslewering.

dat die misdaad wat besig is om Suid-Afrika te vernietig, sal afneem.

om weer spraak- en drama-lesse vir jongmense te gee.

om eendag te gaan ski in Oostenryk of Switserland. En om Kroasië te besoek – ek’s ’n reis-fanatikus!

om as ambassadeur van die 46664-veldtog meer te praat oor MIV/vigs – totdat dit by mense se ore uitloop – sodat almal die werklikheid en gevare daarvan kan besef. Dis die hele land se probleem.

dat ek onthou sal word as iemand wat getrou was aan haarself. Ek’s steeds net dieselfde Leanne as toe ek ’n kind was.

EK IS BANG

vir slange! Ek kan nie eens na ’n foto van ’n slang kyk nie, dan gril ek.

vir alleen wees – om nie vriende en familie om my te hê nie.

vir misdaad, natuurlik. Dis gedurig vir my ’n bekommernis, oral waar ek gaan. Ek probeer om onbesorg te wees, maar  ek’s altyd bewus van wat om my aangaan.

oor die hoeveelheid mense wat emigreer. Dit maak my angstig om te dink aan vriende en familie wat die land verlaat.

WAT EK GELEER HET

Ek het twee keer misdaad aan my lyf gevoel en dit het my lewe ingrypend verander. Dit was baie moeilik om dit te verwerk, maar dit het my sterker gemaak. Ek het weerloos gevoel om daarna op TV te verskyn, omdat die hele land geweet het wat met my gebeur het. Maar dít wat ek geleer het, het hopelik ook ander geïnspireer.

Vriende en familielede wat deur dik en dun by jou staan, is van onskatbare waarde. Jy moet hulle respekteer, want hulle is onvervangbaar.

Geld kan nie vir jou geluk koop nie. Iets wat jy koop, kan jou laat glimlag, maar dit gaan jou nie noodwendig gelukkig maak nie.

Vind ’n goeie balans tussen werk en ontspanning. Maak tyd vir jou geliefdes.

Moenie toelaat dat mense jou drome vernietig nie. Glo in jouself en volhard. Aan die begin van my loopbaan is daar vir my gesê ek gaan dit nooit in die uitsaaiwese maak nie, want ek’s nie sterk genoeg nie, maar ek het geglo ek kán dit doen. Besluit self of iets nie vir jou beskore is nie – ander mense kan dit nie vir jou doen nie.

Die beste raad van een van my agente was: “Moet nooit 100% gee nie. Moenie dink jy is ’n held as jou werk jou hele lewe is nie. Jy moet ook terughou en jou persoonlike lewe geniet.” Ek werk baie hard, maar ek neem net soveel terug as wat ek insit. Dit hou my aan die gang. Jy móét hard werk, maar ook die geld wat jy daarvoor kry, geniet. Daarom gaan ek en Marc elke jaar oorsee.

Nie baie mense is so gelukkig soos my ouers om ná 37 jaar steeds gelukkig getroud en verlief te wees nie. Hulle is vir my ’n groot inspirasie.

Bly getrou aan jouself. Oprah Winfrey is vir my ’n wonderlike rolmodel, want sy het ’n ongelooflike teenwoordigheid. Wat jy van haar sien, is presies hoe sy is. Ek het in 2005 vir Morning Live ’n onderhoud met haar gevoer. Sy is so ’n formidabele vrou en sy vat nie nonsens nie!

Ek is nogal ’n ontspanne mens en ek het agtergekom ek stel mense om my ook op hul gemak.

Ek dryf myself hard en is nooit tevrede met enigiets wat ek doen nie. Dis ’n ewige stryd om altyd alles wat ek bereik te oortref met iets nóg beters. Ek weet nie hoe ek daaroor gaan kom nie!