FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

Leer ken Suidooster se Denise Newman

Toneelspeel was nog altyd haar passie, maar ons het haar ook op die kassie leer ken as Daleen Meintjies in 7de Laan. Nóú gaan Denise Newman in ons sitkamers kom kuier in kykNET se nuwe sepie, Suidooster. 

SARIE se Lydia van der Merwe het in die November-uitgawe met Denise gesels. Hier volg ’n kort uittreksel.

[Daleen Meintjies] was nie ’n deurlopende rol nie, anders as dié van Bridgette October, jou karakter in Suidooster. Hoekom het jy, altyd vryskut, jou nou aan een rol gebind?

Wel, dis in die Kaap, ek wou nog nooit so lank van my gesin af weg wees nie. Dis ’n vaste inkomste, ek wil ’n geldjie vir my oudag wegsit. Die Kaap het boonop so iets nodig, want baie akteurs trek Johannesburg toe vir werk. En ek is mal oor die rol. Bridgette is nie die goeie, warmhartige ma nie, sy is ongelukkig getroud, het ’n drankprobleem en is jaloers op haar suster, Lee-Anne Jacobs, gespeel deur Amrain Ismail-Essop. Bridgette het baie fasette en ek hou daarvan.

Jy en Clive, ’n konferensie-bestuurder, is 35 jaar getroud. Wat bind jul huwelik?

Dis nie iets waarop jy jou vinger kan sit nie. Kommunikasie. Hy weet hoe om my te laat lag. En gee my ruimte om te wees wie ek is. Hy het my nooit in die tradisionele rol van vrou probeer druk nie. Kleintyd was hy ’n hands-on pa vir ons dogters, Dominique, Simóne en Damian. Terwyl ons nou gesels, maak hy aandete. Ek dink hy’s ’n beter kok as ek!

Is hy die kalm, rustige een?

Ja, akteurs se emosies is mos maar na aan die oppervlak. Hy het my geleer om nooit dinge te sê wat jy nie kan terugvat nie. Ek sê mos maar goed voor ek dink.

Wat sou jy jongmense wou leer?

Hou aan droom. Want anders het jy niks om na uit te sien, na te streef nie. Drome maak jou ’n beter mens.

Jy klink so ernstig. Wat laat jou lag?

Britse komedies. Anders as die Amerikaners, is die situasie snaaks en nie die akteur nie. Kyk maar na die verskil tussen die Amerikaanse en Britse weergawes van die fliek Death at a Funeral. Ek wou my stukkend lag vir die Britse een, die Amerikaanse weergawe was net effentjies snaaks.

Suidooster is vanaf 16 November elke Maandag, Dinsdag en Woensdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) & Kie (DStv-kanaal 145) te sien.

Denise se gunstelinge

Kos Kerrie, Thai, Italiaans

Drankie Rooiwyn of whiskey

Vakansieplek Enige plek by die see

Parfuum Chanel Allure

Fliek The Hours (sterk vrouerolle)

Fassinasie Dans van kaggelvuur, stilte

Lees die volledige onderhoud in die November-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar kan HIER afgelaai word.

sarie november sandra prinsloo tinarie van wyk loots nov sarie voorblad