Ons praat met

Lianie May: ‘n Ster uit eie reg

Net ’n paar maande nadat Lianie May se debuut, Vergeet my nie, in 2007  verskyn het, het sy haar eerste vertoning op Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek gehou. Die lokaal was klein – net vir 500 mense –maar heelparty meer het opgedaag. Aanhangers is naderhand by die deure weggewys.

Lianie het gedink al hierdie mense kan tog nie na haar wil luister nie. Sy’t skugter op die verhoog gaan staan en begin sing. Die gehoor het elke word kliphard saamgesing – veral een van haar bekendste liedjies, “Jy soen my nie meer nie”, was oorverdowend. “Tóé het ek gedink dit kan die begin van groot dinge wees,” vertel Lianie.

’n Ruk later het sy op Brits voor 5 000 mense opgetree en verlede jaar by die Inniebosfees op Nelspruit voor 45 000. Vandag is Lianie een van ons land se grootste musieksterre. Dis nie net die gehore wat praat nie,maar ook die verkope.

Vergeet my nie is verlede jaar by die Suid-Afrikaanse musiektoekennings (SAMA) as die topverkoper vir 2008 gekroon – meer as enige ander kunstenaar in die land. In daardie stadium was Steve Hofmeyr nog die enigste Afrikaanse kunstenaar wat dit kon regkry (in 2004).  Vanjaar het Bok van Blerk ook dié toekenning gewen met sy CD Afrikanerhart.

“Dis baie bid, baie glo en harde werk,” sê Lianie. “Die liedjies wat jy sing,moet met mense se hart praat. ‘Jy soen my nie meer nie’ het vervreemde paartjies weer bymekaar  gebring en ‘Vergeet my nie’ het iets beteken vir mense wat iemand aan die dood moes afstaan. Op my nuwe album, Boeremeisie [wat al byna dubbelplatinum-status bereik het], is die mense gek oor ‘Toe stop my hart’, wat ek saam met Jay [van die boy band Eden] sing.

“Sonder ondersteuners het ek nie ’n loopbaan nie. Ek is volksbesit vir hulle. Kinders van vier jaar oud sing my liedjies uit hul kop uit!”

 

Jy mag nooit arrogant oor jou sukses raak nie”

 

Die tye op die pad is lank. Lianie tree maklik drie keer in ’n naweek op, op uiteenlopende plekke soos Pongola in KwaZulu-Natal en Malmesbury in die Wes-Kaap. Deur die week beantwoord sy e-posse (sy antwoord elke e-pos van haar  aanhangers self ), skryf liedjies, neem musiekvideo’s op.

Daar is ook ’n rolprentdraaiboek deur Sean Else en Deon Opperman, wat hulle geskryf het met Lianie en Bok van Blerk in gedagte vir die hoofrolle, waaroor sy baie opgewonde is.

Roem maak ’n inbreuk op jou privaatheid, erken die blondine wat op ’n plaas op Oranjeville in die Vrystaat grootgeword het. Die dae van sonder grimering by die plaaslike Spar inhardloop, is verby. Soms stap sy eers twee uur later weer by die winkel uit, al wou sy net vleis vir haar en haar verloofde, Barry Lubbe, se Sondagmiddagbraai koop.

“My stem gee my weg. Een tannie het my al voorgekeer en gesê ‘daai stem sal ek enige plek herken’. Barry spot altyd en sê: ‘Ons gaan in, jy bly stil en ons gaan uit.’”

Maar jy mag nooit arrogant oor jou sukses raak nie, glo Lianie.

“My pa het al op skool, toe ek ’n prefek geword het, vir my gesê: ‘Moenie verander nie, want die mense het jou gekies vir wie jy is.’”

“Lianie hou haar voete op die aarde. Haar aanhangers sien haar egtheid raak,” sê Jay van die boy band Eden, wat saam met haar die treffer “Toe stop my hart” sing.