Ons praat met

Lianie May: “Dít maak van my ‘n boeremeisie…”

EK HOOP

  om eendag ’n asemrowende, uitspattige vertoning te lewer soos Celine Dion se Las Vegas-een of Pink se Funhouse. Iets wat nog nooit hier deur ’n plaaslike kunstenaar gedoen is nie, met baie dansers en baie beligting – en ek sal dalk soos Michael Jackson met ’n jetpack die venue in vlieg! Dis my grootste droom.

om my eie TV-program aan te bied. Ek wou ook nog altyd deel wees van ’n wonderlike fliek – en nou ís ek in een deur Sean Else, wat in April 2011 uitgereik word. As kind het ek my verkyk aan al wat Afrikaanse fliek en sepie is.

om nog saam met my verloofde, Barry Lubbe, oorsee te gaan. Ek wil graag Nashville, die stad van country-musiek, besoek.

Ek sou graag ’n verhoog met country-sangeres Shania Twain wil deel. Sy’s die toonbeeld van vroulikheid en het ’n wonderlike stem. Sy’t soveel deurgemaak en heel anderkant uitgekom.

om eendag onthou te word as iemand wat van vreemdelinge vriende gemaak het, wat alles gegee het en lojaal was teenoor haar aanhangers. Iemand wat lewens verander het.

dat Afrikaans sal floreer en van krag tot krag gaan en dat die internasionale wêreld vir ons sal oopgaan.

EK IS BANG

 

vir vlieg. Dit sit my aan die bewe. Vra maar die lugwaardinne wat my moet gerusstel as dit stamperig gaan! Ek voel: In die lug is daar nie omdraaikans as iets skeefloop nie.

 

nee, nie vir goggas en dinge nie. Hulle is grillerig, maar as iemand wat op ’n plaas grootgeword het, is ek gewoond daaraan.

vir die onbekende en onverwagse wat buite my beheer is. Dit maak my werklik bang.

om die mense waarvoor ek so lief is, te moet verloor, of dat hulle seer en swaar kry.

WAT EK NOU WEET

Dis absoluut vervullend om jou passie uit te leef. Ek het soos vele ander ’n lang pad geloop tot my eerste album, Vergeet my nie. Ek sal nooit al die oudisies en kompetisies vergeet, by hoeveel plekkies ek moes optree, hoeveel kere ek my pa moes vra vir backtrack- of petrolgeldjies, hoeveel demo’s ek rondgestuur het, hoeveel mense ek gevra het vir hulp, hoeveel moedelose trane ek gehuil het en hoe ek byna tou opgegooi het. As gehore nou in kore saamsing by my optredes, kry ek ’n knop in my keel uit dankbaarheid en ’n trotsheid wat voel asof ek kan bars.

My wortels as plaaskind hou my geanker. Ek is ’n boeremeisie van Oranjeville in die Vrystaat – ek weet waar ek vandaan kom. Ek weet ek is nie beter as ander nie. Dis danksy my ouers, my grootste steunpilare. Hulle is sout-van-die-aarde-mense en het my respek vir my medemens geleer.

Ek wou baie keer moed opgee, maar die Liewe Vader het my elke keer laat aanhou. Ek raak neerslagtig oor teleurstellings, maar ek kom anderkant uit met baie trane en baie bid. Mense wat in jou glo, maak dit maklik om jou kop op te tel en weer te probeer.

My filosofie: Wees altyd ’n eersteklas-jy eerder as ’n tweedeklasweergawe van iemand anders. En my ouers se gunsteling: Môre sal die son weer skyn – môre lyk dinge beter, bly net glo!

Ek moes leer om my rug hol te maak vir kritiek en negatiwiteit. Dit bly moeilik. Ek is sensitief, maar jy leer soos jy ouer word. Altans ek hoop so!

Die plaaslewe sal altyd deel wees van my wese. Ek verlang steeds, maar ek en Barry gaan kuier gereeld. Ek ry dan weer saam met my Dads in die bakkie tussen die beeste en geniet my moeder se lekker boerekos.

Ek loop dikwels met my hart op my mou en vertrou te maklik. Dis my slegste eienskap. Mense kan dit misbruik. My beste? Ek kan vir myself lag. En ek huil vir vreemdelinge se pyn. Dit klink dalk of ek oordryf, maar ek is ’n ongelooflike gevoelsmens.

So vinnig soos sukses gebeur,

net so vinnig kan dit weggeneem word. Ek aanvaar niks as vanselfsprekend nie. Ek kry met elke optrede ’n rush en twyfel of ek dit ooit gewoond sal raak.

Ek is spyt oor niks. Ek het al soveel gegroei en al was dit soms moeilik, was dit nodig.


Barry, my beertjie, is my ideale man, my ekstra bene. Hy is opreg en altyd dieselfde. Barry sit silwer randjies om my donker wolke. Hy is my bestuurder, my liefde, beste vriend, vertroueling. Ons het trouplanne, maar ons is op die oomblik so besig – ons wil nie ’n spesiale geleentheid aframmel nie.

Wees jouself, waardeer mense, waardeer klein dingetjies, behandel ander soos jy behandel wil word en werk vir dít wat jy wil hê. Dít sal ek my kinders eendag leer.

Ek sou graag op ’n hoë ouderdom wil terugkyk en honderde hoogtepunte onthou, eerder as om net ’n eendagsvlieg te gewees het.

Kyk dié video van Lianie en Jay (van Eden) se prag-duet Toe stop my hart.