sr0803lianie_1_rz
Ons praat met

60 sekondes met Lianie May

Die sangeres Lianie May het 80 000 eksemplare verkoop van haar debuut-CD Vergeet my nie van 2007 (platinum-status is 40 000!). In Augustus vanjaar kom ‘n nuwe CD met die werktitel Boeremeisie. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor haar musiek, suksesresep en nuwe projekte.
 
Wat kan ons op jou nuwe CD verwag?
Dié CD het weer ‘n country-pop gevoel met up-tempo liedjies. Daar is ook ballades waarvoor ek net so lief is en selfs ‘n 80’s en ABBA-gevoel in van die liedjies. Die liedjies is meestal deur Johan Vorster, Sean Else en Vaughan Gardiner geskryf. ”Boeremeisie” is deur Dewald Wasserfal. Dié liedjie is oor ‘n boeremeisie wat ver van haar geliefde is en nie meer kan wag om by hom te wees nie. Dié liedjie se titel is maar eie aan my. Ék is ‘n boeremeisie.
 
Hoekom dink jy werk jou musiek so goed in die Suid-Afrikaanse mark?
Dis ‘n kombinasie van twee dinge: die liedjies het ‘n country-pop gevoel. Jy kan lekker saam sing en dans soos op ”bel, bel, bel”, ”Boerevry” en ”Soen my nie meer”. Dan kan mense hulle ook vereenselwig met ‘n liedjie soos ”Vergeet my nie”, wat ‘n dieper betekenis het. Aan die ander kant wil mense hulle ook kan vereenselwig met die sanger, die persoon agter die liedjie. Ek is ‘n mense-mens, ‘n boeremeisie van die Vrystaat wat musiek en mense geniet en waardeer.
 
Skryf jy ook self van die liedjies?
Ek het op Vergeet my Nie die liedjies ”Bel, bel, bel” en ”Ek kom huis toe” geskryf. Op die nuwe CD is daar ook een van my liedjies. Ek is bevoorreg dat skrywers soos Johan Vorster en Sean Else vir my liedjies skryf.
 
Wat is jou gunsteling-liedjies op die nuwe CD, en hoekom?
Ek het nog net agt liedjies opgeneem en kan dus nog nie regtig liedjies uitsonder nie. Ek geniet elke opname van elke liedjie op sy eie, lekker manier, want dis ‘n voorreg om ‘n CD te kan opneem.
 
Watter genot kry jy uit jou sangloopbaan?
Om te kan doen waarvoor ek al so lank gewag het: sing, optree en CD’s opneem. Ek geniet ook die ondersteuners, wat dit alles die moeite werd maak.
 
Wanneer het jy die eerste keer begin sing en besef dis vir jou lekker? Wat is jou agtergrond in musiek?
Ek was so vyf jaar oud. Ek het van kleintyd in die kerk gesing. Op laerskool in die koor en revues en kunswedstryde, selfs op hoërskool. Later, terwyl ek as sekretaresse gewerk het, het ek naweke op troues en gesellighede gesing en aan sangkompetisies deelgeneem. Ek het geen agtergrond in musiek nie. Dit was maar net iets waarmee ek gebore is. Ek wóú nog net altyd sing.
 
Wie het  tot dusver die grootste invloed op jou musiekloopbaan gehad?
My ouers het my van kleintyd ondersteun. My ma het my na sangkompetisies vergesel en my pa het altyd gehelp om vir die backtracks te betaal wat ek vir optredes nodig gekry het. Johan Vorster en Sean Else het vir my ‘n platekontrak aangebied en my sangloopbaan ‘n groot hupstoot gegee. En die Liewe Vader het my bygestaan en die paadjie van dag een af saam met my gestap.
 
Na watter musiek luister jy graag?
Na enige musiek: country, pop, rock, gospel.
 
Aan watter opwindende musiekprojekte werk jy vir die res van die jaar?
Aan my CD, en daarna is daar musiekvideo’s. Ek sien ook daarna uit om deel te neem aan Huisgenoot se Skouspel in September vanjaar.

  • Ann Burger

    Dit is die pragtigste musike video, en is die liedjie nie ook baie besonders nie. Leanie May en Jay mag daar nog baie meer duette saam opgeneem word. Baie sterkte!!!

  • Marna

    Na haar dronk eskepades op die verhoog het sy alle aansien in ons huis verloor, maar smaak verskil ne!

  • Annie

    Lianie bly vir my pragtig,oorspronklik en eg. Haar andersheid en ongekunstelde musiek laat mens twee keer kyk en luister. Ai, dit is jammer om te hoor van ‘n misstappie hier en daar maar ons almal trap mos maar partykeer bietjie skeef.

  • Hes

    Marna, kom by, laat die een sonder sonde die eerste klip gooi!!