sept08voorbladartikel1a
Ons praat met

Lindie – ‘Ek glo aan verandering’

Sy glo keerpunte en veranderings is noodsaaklik in ’n mens se lewe. En deesdae spog Lindie van Eeden met ’n nuwe voorkoms – een wat die manne op die Egoli-stel twee keer laat kyk. In die woorde van Izak Davel (Scab) is sy heavy hot!

Lindie se karakter, Karin, lyk nou meer gesofistikeerd en stylvol met haar langer hare – uitgeknip vir haar pos as Walco se dinamiese bemarkingshoof. Maar, sê Lindie, Karin se nuwe korporatiewe voorkoms verskil baie van haar eie. Sy beskryf haarself as “’n jeans-en-T-hemp-meisie”.

Al het sy deur die jare geheg geraak aan haar karakter, is hulle nie eenders nie. “Ons hele basis, motivering, rede vir en sin van die lewe verskil. Tog is daar vir my te min Karins in die wêreld oor. Te min mense wat bereid is om hulself duidelik uit te spreek oor reg en verkeerd en wat bereid is om teen die stroom te swem.”

’n Groot keerpunt in Lindie se lewe was toe sy in 1998 tot bekering gekom het. “Daarna was daar gereeld keerpunte terwyl ek my lewe stukkie vir stukkie vir Hom gegee het. Dis ’n proses.” Sy was in 1998 nuut in Johannesburg en ’n groot liefde het skeefgeloop. “Ek het begin dink wie ek is en aan wie ek my identiteit heg toe ek nie meer ’n kêrel het nie. Ek het besef Jesus is die een aan wie ek my identiteit wil heg.” Haar godsdienstige oortuigings het ’n groot invloed op haar lewensuitkyk. “Dit gaan nie oor my gemak, sukses of selfs geluk in hierdie lewe nie. Daarom sien ek negatiewe ervarings as deel van my karakterontwikkeling en dis vir my moeilik om iets as regtig ‘sleg’ te ervaar. “My onmiddellike reaksie is iets soos: Wat moet ek hieruit leer? Of: Daar is ’n doel hiermee, selfs al sien ek dit nie nou nie.”

In haar twaalf jaar in Egoli het Karin van ’n onskuldige meisie ontwikkel tot ’n vrou om mee rekening te hou. Haar hare was eers lank en jeugdig, daarna het die modieuse kortkop ’n paar jaar oorheers. Maar sedert sy op Kersdag verlede jaar uit haar jaar lange koma ontwaak het, het sy nuwe vuur. Kykers het onlangs gesien hoe sy vir ’n kort vakansie weggaan. En toe, op Maandag 11 Augustus daag sy in Egoli by die vrouedag-geleentheid op met ’n splinternuwe voorkoms.

 

Te min mense wil hulle uitspreek oor reg en verkeerd

By dié geleentheid ontmoet Karin ook vir Mariska van Rooyen, SARIE se skoonheidsredakteur, wat ’n gasoptrede in die sepie maak! Die Egoli-span het Karin se metamorfose die afgelope maande saam met SARIE aangepak. Fanie Cronjé, SARIE-stilis, het sy inspirasie vir die nuwe voorkoms gekry by styl-ikone soos Sarah Jessica Parker, Scarlett Johansson en Aerin Lauder, kreatiewe direkteur van Estée Lauder.

“My belangrikste raad aan Egoli was dat hulle Lindie se hare moes laat groei,” sê Fanie. “Ek het geweet dit sou die grootste verandering in haar voorkoms teweegbring. As jy 30 is en jou hare is so kort, kan dit jou ouer laat lyk. Lang hare is ook in die mode en stylvol, en Karin is nou ’n vrou wat styl nastreef.”

Lesers kon die afgelope maande met die hulp van sketse in SARIE sien hoe Lindie se langer styl vorder, maar teen die einde was daar ’n bietjie ekstra hulp met haarverlengings om vir die nodige verrassing en impak in Egoli te sorg.  “Ná maande se beplanning saam met SARIE en Egoli se produksiespan is ek die oggend by die huis uit met kort hare en het die aand teruggekom met lang hare,” vertel Lindie. “Ons Egoli-span het soveel by Fanie-hulle geleer. Hulle ken vroue! Dit was ’n avontuur!”

Sy hoop kykers sal nes destyds, toe Karin haar lang hare vir ’n kort styl verruil het, ook dié keer van die nuwe voorkoms hou. “Sy’s ’n mode-toonaangewer met haar hare. Karin se verandering is deel van haar tweede kans in die lewe. Die nuwe Karin doen álles, en sy doen dit góéd! Van vrou- en ma-wees tot korporatiewe vrou. Sy is ook aktief betrokke by liefdadigheidswerk. Ek wonder hoe sy byhou?” sê Lindie. Maar sy glo agter die supervrou-beeld steek Karin haar vrese en foute goed weg. “Sy bly menslik en daar is dinge wat haar nog bang en hartseer maak.”

Saam met die haarstyl was daar ’n paar ander veranderings in Lindie se eie lewe. Sy het 30 geword en “toevallig die laaste swangerskapgewig (en dalk ’n ekstra kilo of wat) afgeskud”. Haar tweeling is nou 14 maande oud en sy het ook ’n driejarige woelwater. “As mense my vra hoe lyk ek só ná drie kinders, is my antwoord juis: ‘Drie kinders!’”

Terwyl Karin die supervrou speel, probeer Lindie haar eie leefwyse vereenvoudig sodat sy meer tyd vir haar gesin kan hê. “As jou kleuters wil mors, laat hulle toe. Jy is nie ’n slegte ma as jy hulle nie dadelik skoon aantrek nie,” glo sy. Sy gebruik Sondae as beplanningsdae om haar en haar man, Sakkie Strydom, se programme by die gesin se behoeftes te laat inpas. Die week se etes word vooruit beplan om inkopietogte te vereenvoudig. Vriendinne moet vir ’n wyle terugstaan vir die drie kleuters en kry eerder ’n vriendelike SMS as ’n teesessie. En sy gaan minder gym toe. Tog bly sy een van daardie mense uit wie lewenslus en positiwiteit straal.

“Lindie sal vir jou berge versit en jou ondersteun tot in lengte van dae,” vertel Mandi du Plooy, wat Lara, Karin se peetkind, speel. “Sy is ’n bondel energie en pret. As sy huil of lag, doen jy dit saam met haar. Spot jy haar, bloos sy bloedrooi en as sy eers begin praat, kan jy nie help om na haar te luister nie.”

Michelle Beling, wat Candy speel, sê: “Sy het ’n gloed wat van binne kom en ’n mens wil naby haar wees om daarin te deel. Sy ken die geheim van die lewe en sy deel dit met ander sonder om daarvan bewus te wees.”

 

Sy is ’n bondel energie en pret – mede-akteur Mandi du Plooy oor Lindie

Vir Lindie beteken verandering geleenthede en sy glo swaarkry kan mense nader aan mekaar bring. Sy het dieselfde benadering teenoor die land se probleme. “Ek is in 2002 hier naby die studio gekaap en ek dank die Here dat ek ongeskonde weggestap het. Ek het my foon en motor vir hulle gegee en hulle het weggejaag. “Selfs dít sal my nie laat emigreer nie. Ek glo ek is in Suid-Afrika gebore om hier ’n verskil te maak.”

Sy en haar gesin breek gereeld naweke weg na hul plasie, Pro Bono, net buite Bela-Bela (Warmbad) waar hulle ’n paar beeste aanhou en groente plant. Lindie en Sakkie, ’n bemarkings-en-verkoopsbestuurder, is nou sewe jaar saam en vorm ’n gedugte span. Hulle sorg dat hulle tussendeur hul loopbane en kinders grootmaak tyd maak vir mekaar. Soms moet hy haar wel vermaan “om te ontspan as dinge nie volgens plan verloop nie”. Toe sy hom die eerste keer by ’n geselligheid gesien het, het hy met sy rug na haar gestaan. Sy het dadelik geweet hy is haar trouman.

“Ek bewonder en respekteer hom as ’n mens, man, pa en Christen. Ek raak net liewer vir hom – en dan is hy nog boonop die sexieste man op aarde!” Vir Sakkie maak Lindie se bekendheid geen verskil nie. Hy sê hy het met haar getrou ondanks haar werk – beslis nie as gevolg daarvan nie. Oor haar nuwe haarstyl sê hy net droogweg: “Dis ook mooi.” Hulle hou nie naastenby soveel van die glanslewe soos die Edwardse nie. Lindie weet jy moet ’n prys betaal as jy ’n werkende ma is. En dit is die baie tyd wat sy saam met haar kinders moet opoffer.

Bedags gaan Paultjie na ’n kleuterskool en die tweeling, Hugo en Nina, bly by Betta Molobi, wat reeds voor Paul se geboorte by hulle begin werk het. Betta en die tweeling gaan darem soms saam stel toe.

Daar word Lindie Karin, die karakter teenoor wie sy beskermend voel, al is hulle verskillend. Karin is vir haar die stem van integriteit en regverdigheid in die reeks. Sy vertel sy het al by tye beswaar gemaak oor iets wat die skrywers wil hê Karin moet doen. “Ek wil nie hê hulle moet haar karakter benadeel nie.” Dis vir haar moeilik om te voorspel hoe die kykers en haar bewonderaars die verandering in Karin se voorkoms gaan hanteer.

“Dis so onvoorspelbaar soos ’n sepie se storielyne! Maar ek hoop wel hulle lug hul mening.”