photo
Ons praat met

Lizz Meiring, 7de laan-ster sit Steve se boek op planke

Steve het Lizz in 2010 genader net ná die boek gepubliseer is ,met die idee om ’n toneelstuk daarvan te maak. “Ons het lank daaroor gesels en ek het vir hom later my konsep vertel: ’n eenman-show.” Dít het dadelik die probleem van ’n klein begroting ook opgelos.  

Lizz het ook dadelik geweet wie die hoofrol moes vertolk – Christo Davids. “Dit kan niemand anders wees nie. Hy is die prentjie in my kop wat pas by die boek,” vertel Lizz.

Dit is Christo se eerste solovertoning. Hy het die rol van Abie Pakkies vertolk, die tik-verslaafde seun in die bekroonde drama, My naam is Ellen Pakkies, waarvan Lizz ook die regisseur en teksskrywer was.

Vier briewe vir Jan EllisLizz Meiring

Hy is ’n wonderlike akteur. Dis nét hy wat ’n karakter kan speel wat van 18- tot 60-jaar oud word,” vertel Lizz. “Hy het die regte kwaliteite vir die karakter: ’n fyn waarnemingsin, skerp konsentrasie en goeie tegniek, alles baie belangrik vir ’n eenmanstuk.” En Lizz sal weet. Met ongeveer nege eenmanvertonings deur haar bekwame hande, wéét sy wat sy doen.

Lizz beloof dat die gehoor buiten goeie toneelspel, ook ’n fantastiese storie kan verwag.

“Steve is ’n skrywer met verbeelding wat ’n baie interessante storie geskryf het. Dit is ’n ongelooflike boek. Hy het ’n sonderlinge, unieke karakter geskryf.”

Lizz sê die positiwiteit in die boek het oorgedra na die toneelstuk. “Daar is reeds geweldige positiwiteit rondom die vertoning, omdat almal wat betrokke is, graag hul beste wil gee.” Sy noem dit ‘produksiekarma’.

Alhoewel Lizz nou reeds versigtig is om ’n sukses te voorspel vir die stuk wat eers in Februarie debuteer, glo sy mense sal dit geniet, omdat daar vele talentvolle koppe saamwerk hieraan.

Steve Hofmeyr het op Twitter vertel hoe trots hy is: “Jis, ek is soooo trots hierop. Dankie Johan & Lizz & Christo. My boekie gaan verhoog toe!”

  • Marlene

    Julle talente het geen einde, sal dit hopelik eendag te siene kry.

  • Kitty

    Met Steve se "diepe-intellegensie" om te kan skryf – kan hy werklik dit oorweeg om as Afrikaner leier in Politiek betrokke te raak. a) Hy’s eg Afrikaans; b) het genoeg kinders om ‘n nalatenskap voor te werk (moes dit ook as rede gebruik ) c) Kan genoeg volgers lei om saam te staan vir ‘n toekoms d) het genoeg guts, bols, breins en ‘n geseende bloedlyn sodat hy kan "step-up" as "voorloper"
    Kitty