lwazi
Ons praat met

Lwazi uit MasterChef SA: “Ek is ‘n mommy’s boy”

Waar kom jou liefde vir kos vandaan?
Vreemd genoeg het ek in kos begin belangstel nadat ek vir die eerste keer pasta geproe het. Ek dink ek was tien jaar oud. Ek het toe net pap en rys geken. Maar toe ek daardie pasta proe, het ek besef daar is soveel meer aan kos. Ek kan nie presies onthou waar ek was toe ek dit geproe het nie. Ek dink my ma het dit een keer vir middagete bestel en ek het ’n hap by haar gevat. Van toe af wou ek net pasta eet.  
 
En wie het jou geleer om te kook?

As kind het ek baie tyd saam met my ma in die kombuis deurgebring. Ek is ’n mommy’s boy. Ek het altyd gekyk na elke stap wat sy gevolg het om ’n gereg te maak – sy het eers die olie in die pan gooi, dan die uie en tamatie … Só het ek geleer wat om in die kombuis te doen.  
 
Wat was die grootste uitdaging van MasterChef?
Die feit dat ons omtrent alles self moes maak. Ek is gewoond daaraan om sommer hoender-aftreksel van die rak af te koop. Tydens MasterChef moes jy dit letterlik maak. Dis ook moeilik om in ’n kombuis te werk wat jy nie ken nie. In jou eie kombuis weet jy waar alles is en jy kan kombuisgereedskap gryp sonder om te dink waar dit is. Maar die grootste uitdaging was om met bestanddele te werk wat ek glad nie ken nie, soos kwartel-eiers en artisjokke. Ek weet nie eers waar om ’n kwartel-eier te koop nie! Ek het groot hande. Probeer nou ’n kwartel-eier met sulke hande oopbreek!
 
Het jy enige kosplanne vir die toekoms?
Ek reis baie vir werk. Ek wil graag ’n pop-up-restaurant oopmaak en gourmet-kos, soos varsgemaakte pasta, in townships voorsit.
 
Vir watter beoordelaar was jy die bangste?
Vir Pete. Hy is ’n perfeksionis en wou gehad het ons almal moes ons beste lewer. En hy was nie subtiel daaroor nie.