FOTO: SARIE

Ons praat met

Lynette Francis van RSG se hoop en vrese

[box:full:grey:both]

Ek hoop . . .

[/box]

  • om ’n keer my loopbaan-vlerke oorsee te gaan sprei. Ek is al genader, maar wou eers my grondslag op eie bodem verbreed. Die res sal volg . . .
  • om eendag my eie media-produksiehuis te bestuur en daardeur vaardighede en talente van veral jong mense te ontgin.
  • elke aand as ek gaan slaap dat ek ’n paar sentimeter langer gaan opstaan!
  • ons sal ophou om verby mekaar te leef en die menslikheid en goddelikheid van ons medemens erken en waardeer.
  • om nog eendag ’n paar reise na Latyns-Amerika te onderneem. Ek het op ’n reis na Valencia, Spanje, verlief geraak op die musiek, die kultuur, die siëstas. Daar’s soms soveel weemoed en warmte opgesluit in die musiek; jy voel dit aan jou lyf al verstaan jy nie elke woord nie.
[box:full:grey:both]

Ek is bang . . .

[/box]

  • vir donderweer, dit ontsenu my en ontstel my gees.
  • vir goggas? Nee. Maar ek het nogal ge-“tsk” toe ek hoor ’n nuwe spesie vlieënde kakkerlakke is ontdek. As if we don’t have enough to deal with.
  • dat ons mekaar gaan uitwis in ons land – het sy met wapens of met woorde.
  • vir geen mens met wie ek ’n onderhoud moet voer nie. Dis maar net ’n mens (al het hy grille). Sommige is meer blaf as byt.
  • dat my kontaklense tydens ’n uitsending gaan uit-pop, want dit het al gebeur! Nou’s ek trapsuutjies . . .
[box:full:grey:both]

Wat ek geleer het

[/box]

  • Politici het almal ’n agenda, al drup hulle soos kondensmelk. Ek neem alles met ’n knippie sout tot ek die teendeel gesien het.
  • Ek hou nie daarvan om oor myself te praat nie.
  • Mense glo en hoor net wat hulle wil. En in elke mens is ’n tikkie goed – dit is daar, al vat dit jare om te ontsluit.
  • By Praat Saam leer ek elke dag iets nuuts, hetsy oor die onderwerp, die gas of luisteraars. Ek is ongemaklik met jabroers – ’n opinie en ’n ingeligte mening lok debat uit. As dit teenstrydig is, des te beter, want dan is dit ’n ander invalshoek om te ontgin.
  • Ek is spyt ek het nie vroeër kinders gehad nie.
  • Baie mense dink omdat jy ’n openbare profiel het, is jy kwansuis suksesvol. Hoe kan ons sukses aan bekendheid of welvaart koppel? Daar is duisende unsung heroes wat op straat loop, in ’n bus sit, vir brood op die tafel sorg. En ons gee nooit genoeg erkenning aan hulle vir hul opofferings nie. Maak dit hul lewens minder belangrik, minder suksesvol?
  • God het geweet waarom ons ’n vrye wil (en keuse) moes hê.
  • As ek nie ’n joernalis was nie, sou ek graag ’n sigeuner, staatsaanklaer, sjef of sielkundige wou word.
  • Ek het nie ’n resep vir “sukses” nie. Ek doen wat ek doen, want my ma, Sarah, het my geleer ek moet hard werk, ek moet leer en mag nooit afwesig wees by die skool nie. Ek pas dit vandag steeds toe en ek pluk die vrugte van aanhouer wen.
  • Vir my kinders wil ek eendag leer: God IS. En alles wat jy van die lewe gaan weet, leer jy reeds in kindertuin. Jy gaan dit vergeet, maar die Lewe is ’n leermeester, Sy sal jou herinner.
  • As kind het ek ’n sterk sin vir regverdigheid gehad, ’n kinderlike geloof dat gebed heling bring, dat wonderwerke elke dag gebeur en ongeag wat met my gebeur, ek sal altyd oukei wees. Ek het nog steeds daardie eienskappe.
  • Die mooiste woorde wat ek al gelees het, is Ani leDodi VeDodi Li – dis Hebreeus vir my beloved is mine and I ammy beloved’s. Dis gerusstellend vir my siel.
  • Ek het ’n oorlamse streep in my en jy moenie vir my sê ek kan nie. Ek glo in die onmoontlike. Ek is ’n bittereinder.
  • Ek is lief vir kos, eet en kook. Kosprogramme is deesdae, naas nuus, my ontvlugting. Die ander groot stoute lekkerte is om die verbasing op gaste se gesigte te sien, want ek lyk nie juis soos die brei-en-bak-soort nie!
  • My slegste eienskap is: I don’t suffer fools gladly. Ek is soms ongeduldig, maar baie verdraagsaam. Ek dink my beste eienskap is dat mense tuis voel met my, al ken hulle my nie. Hulpbehoewendes, mense wat ’n krisis het, vreemdelinge sal my uitsonder in die menigtes – en nie oor ek op TV is nie, dit was as kind reeds so. Ek laat mense geborge voel. Ek wil na almal omsien, soms tot my nadeel.
  • Ek kry nie genoeg tyd om Johannesburg te leer ken en dit my tuiste te maak nie sedert ek in 2009 hier aangekom het om my aan te sluit by World Today se Oggendnuus op SABC3.
  • As jy in eerlikheid met jouself kan leef, is dit makliker om eerlik met ander te wees. Soos Shakespeare geskryf het: To thine own self be true. Ek is nie bang om myself te konfronteer oor wat ek glo en wie ek is nie, ek en die vrou in die spieël is nie teenpole nie.