Ons praat met

‘Ma is die gom wat als bymekaar hou’ – Francois Lensley

Die akteur Francois Lensley, beter bekend as Marko Greyling in 7de Laan, kon van kleintyd álles met sy ma, Margaret (nou 75), deel. Hy glo sy is ’n vrou duisend wat hom die man gemaak het wat hy vandag is. En as hy eendag trou, wil hy só ’n soort vrou kies.

Ma kon my vasvat

“Ma was nooit ongevoelig teenoor my nie, maar sy kon my altyd vasvat. Toe ek ’n laaitie was, het ek dikwels rof gespeel en seergekry. Dan het ons twee ongevalle toe getoer en sy het op pad soontoe geraas…

Sy is ’n regte boerevrou wat baie lekker kook, ’n sout-van-die-aardesoort, betrokke by die gemeenskap.

Ma was ook ’n baie gewilde en gerespekteerde onnie, onder die kinders en die onderwysers. Altyd ’n bok vir sports, een van die beste organiseerders wat ek ken.

Ek en my ousus, Elize Greeff [’n advokaat van Pretoria], was albei in haar klas. Kyk, sy is ’n perfeksionis. Sy het my ’n paar keer hoof toe gestuur as ek verbrou het. Ek was maar lui. Nou nie ’n onderpresteerder nie, maar sy het áltyd gedink ek kan beter doen. Selfs al het ek negentig persent gekry.

Francois Lensley (middel 90's) en sy ma, Margaret. FOTO: Sarie

Francois Lensley (middel 90’s) en sy ma, Margaret.
FOTO: Sarie

Jy doen ’n ding reg

My pa, Jannie [hy is in 1997 oorlede], wat in die mynwese betrokke was, was die hoof van die huis. Ma was meer soos die uitvoerende direkteur. Die gom wat alles bymekaar hou, sorg dat almal gelukkig is. Sy het gelei deur haar voorbeeld. Jy doen ’n ding rég, of glad nie.

As voorsitter van vele verenigings, onder meer die Vroue-Landbou-unie en die oueronderwysersvereniging op Evander [in Mpumalanga], het sy baie toesprake gelewer, sonder snikke en blapse. Ek het net aanvaar dit moet maklik wees.

My kinderpartytjies sal ek nooit vergeet nie. Daar was altyd kreatiewe koeke – een jaar het sy ’n reuse-Pinocchio-koek gebak. En dan was daar die cowboy-roomyskoek. ’n Lekker ma vir ’n seuntjie.

Haar skouer was ook altyd daar as ek vrae het. Selfs oor die liefde… Dit was goed om te weet sy was ook daar in tye van nood.

Francois, sy suster, Elize Greeff, en hul ma FOTO: Sarie

Francois, sy suster, Elize Greeff, en hul ma
FOTO: Sarie

Sepie-roem

Nadat ek in 1994 aan die Hoërskool Evander matriek geskryf het, het ek B.Sc. konstruksiebestuur aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. My pa is aan die einde van my tweede jaar oorlede en daar was nie geld vir verdere studies nie. Toe word ek onder meer model [ook in die buiteland] en kroegman.

In 2003 het ek in die SABC2-sepie 7de Laan begin speel. Ma was baie trots. As ons iewers heen gegaan het, wou sy net met almal oor my gesels.

Sy het my van kleins af geleer om nederig te wees. Die roem het my nooit gevang nie. Sy is ook só – spontaan en eerlik. Ons het ’n heerlike verhouding. Wat ons ook al doen, rondry, fliek, uiteet, braai of net lekker sit en gesels, ons het vet pret.

Ma het my ook ’n liefde vir die fynere dinge in die lewe gegee, soos klassieke musiek en lees. Ek bederf haar graag met blomme. Maar eintlik hou sy maar die meeste van blomme in die natuur.

Ek bewonder álles van haar. Sy is so ’n dame, let altyd op haar voorkoms, is mal oor die elegante geure van die skoonheidshuis Estée Lauder, en haar hande is pragtig versorg, al werk sy hard. Selfs al was sy nié my ma nie, sou ek gedink het sy is ongelooflik.’’

Francois Lensley (7de Laan se Marko) se haarstyle deur die jare

Wat Francois geleer het

  • Jou voorkoms en gesondheid is belangrik.
  • Moet nooit goeie maniere vergeet nie.
  • As jy iets reg wil doen, doen dit self.
  • Respekteer en wees lief vir jou medemens.
  • Carpe diem – gryp die dag. Dít is wat my ma elke dag doen.