op_pad_madiba
Ons praat met

Madiba se 15 lewenslesse (Deel 2)

9 – 15

9. Hou jou teenstanders naby

Al het Mandela dikwels sy vriende as vanselfsprekend aanvaar, het hy nooit dieselfde met sy opponente gedoen nie. Hoewel hy soms kontak met sy kollegas verloor het, het hy altyd met sy teenstanders in kontak gebly. Jy kan jou vriende vertrou, want jy kan oor die algemeen aanvaar dat hulle jou sal steun, en jy kan jou vyande vertrou, want jy kan aanneem dat hulle jou altyd sal teenstaan. Maar jou vriendelike teenstanders – hulle is die mense wat jy fyn moet dophou. En Mandela het dit gedoen.

10. Weet wanneer om nee te sê

Mandela hou nie daarvan om nee te sê nie; jy kan sien hoe hy sukkel om dit op ’n hoflike manier te doen. Maar hy weet dat uitstel dit later selfs nog moeiliker maak. Dis beter om iemand vroeër, eerder as later teleur te stel. En Mandela sal nie die boodskap versuiker of aan iemand anders oorlaat nie.

Wanneer hy nee sê, wil hy graag hê die boodskap moet duidelik en ondubbelsinnig wees. Hy bied nooit vals hoop nie en los nooit die deur op ’n skrefie oop nie. Daar is ’n beroemde foto van hom en Walter Sisulu op Robbeneiland waar Mandela met neergeslane oë wegkyk en met sy vinger wys. Dis ook hoe hy nee sê – hy kyk ’n oomblik lank weg terwyl hy verduidelik; dan kyk hy jou in die oë en sê: “Jammer, maar die antwoord is nee.”

11. Haas jou langsaam

Sewe-en-twintig jaar in die tronk leer ’n mens baie dinge, en een daarvan is om nie oorhaastig te wees nie. As jong man was Mandela ongeduldig: veranderings moes gister al plaasgevind het. Die tronk het hom geleer om versigtiger te wees en dit by hom tuisgebring dat oorhaastigheid tot foute en swak besluite lei.

Bowenal het hy geleer hoe om beloning uit te stel – iets wat deur sy hele lewe verpersoonlik word. Mandela sou ons aanraai om nie toe te laat dat die skyn van dringendheid ons dwing om besluite te neem voordat ons gereed is daarvoor nie. Dit is wel moontlik dat ons ’n kans kan verspeel as ons nie gou spring nie. Maar daar is ook vele kere dat ons ’n beter slag sal slaan of ons beter van ons taak sal kwyt indien ons stadiger reageer en ons langsaam haas.

12. Liefde maak die verskil

Wanneer dit by die liefde kom, is Mandela ’n romantikus. Maar ’n pragmatiese een. Hy het immers geen ander keuse gehad nie. Vir ’n groot deel van sy lewe was liefde in die verskiet, iets wat eerder in sy verbeelding en herinneringe bestaan het as in die werklikheid. En wanneer die liefde wel ’n werklikheid was, was dit dikwels ’n bron van pyn, eerder as vertroosting.

Tog het hy nooit die droom laat vaar dat hy liefde sou vind nie. Hy was selde in staat om die konvensionele rol van vader te vervul. Sy oudste seun het hom eenkeer gevra waarom hy nooit ’n nag by die huis kon deurbring nie, en hy het geantwoord dat daar miljoene ander Suid-Afrikaanse kinders was wat hom ook nodig gehad het. Dis ’n vreeslike ding om vir jou eie seun te moet sê, en in vele opsigte was hierdie opoffering die pynlikste van almal.

13. Om opsy te staan is ook leierskap

Mandela was nog altyd hardkoppig. Almal kan daarvan getuig, van sy naaste kollegas op Robbeneiland tot sy vrou, Graça Machel. Wanneer hy ’n besluit geneem het, is dit moeilik vir enigeen om hom daarvan te laat afsien. Maar hy sal dit tog doen, veral as hy besef dat sy halsstarrigheid negatiewe gevolge kan inhou. Hy sal baklei en argumenteer en mense probeer oortuig, maar die oomblik dat hy besef sy keuse is nie prakties of verstandig nie, sal hy die aftog blaas – en dit sal die einde van die storie wees.

Hy weet dat om toe te gee ook ’n soort oorwinning kan wees – dat oorgawe beteken om oor te gaan na die wenkant. So kan jy ook deel in die oorwinning.

14. Dis altyd albei

Hy weet dat die motief agter enige optrede selde eenduidig is. Daar is geen eenvoudige antwoorde op die moeilikste vrae nie. Alle verduidelikings kan waar wees. Elke probleem het vele oorsake, nie slegs een nie. Dis hoe Nelson Mandela die wêreld sien.

Skakerings van grys is nie maklik om te bekryf nie. Swart-en-wit is aanloklik, omdat dit eenvoudig en absoluut is. Dit lyk duidelik en beslis. Daarom neig ons so dikwels na ja- of nee-antwoorde wanneer “albei” of “miskien” nader aan die waarheid sou wees.

As ons egter die gewoonte aankweek om, soos Mandela, albei kante van ’n saak te oorweeg – of selfs verskeie kante; om sowel die goeie as die slegte in gedagte te hou, vind ons dalk oplossings wat andersins nie by ons sou opgekom het nie.

15. Kry vir jou ‘n tuin

Stengel vertel in die boek hoe Madiba op Robbeneiland en later in Pollsmoor uiteindelik verlof gekry het van die gevangenisowerhede om ’n tuin aan te lê.

In ’n wêreld waar hy geen privaatheid nie en baie min besittings gehad het, het die tuin ’n stukkie aarde geword wat geheel en al syne was. In ’n wêreld waaroor hy geen beheer gehad het nie, wat vyandig was teenoor sy waardes en drome, was dit ’n plek van skoonheid, orde en hernuwing.

Samuel Johnson [die Britse skrywer] het eenmaal gesê daar is niks meer ontspannend as om op ’n aangename taak te fokus wat die gedagtes besig hou, maar nie te veel konsentrasie verg nie. Vir Johnson was dit skeikunde; vir Mandela tuinmaak. Vir die res van ons is dit dalk iets heeltemal anders. Die hoofsaak is dat ons elkeen iets nodig het, weg van die wêreld, waaruit ons genot en bevrediging put.

Mandela het my immers aangeraai: “Kry vir jou ’n eie tuin.”