Ons praat met

Malusi se Survivor-vlam geblus

Hoe het jy gevoel jy nadat jy gisteraand se Survivor-episode gekyk het?

Dit was swaar om die ervaring te herleef en om te sien hoe ek nie my doelwit bereik nie. Ek wou so graag wen. Ek is ’n swak verloorder. Ek verloor nie met grasie nie. Ek is ook ontsettend krities op myself. Toe ek die episode gekyk het, het dit my nie so erg gepla dat my alliansie my ’n rat voor die oë gedraai het nie. Al wat ek gesien het, is dat ek nie oop genoeg was om na die ander alliansie te luister toe hulle my genader het om deel van hulle groep te word nie.

Goma se lede het al die vorige week probeer om jou aan hulle kant te kry. Hoekom het jy besluit om nee te sê?

Hoewel my innerlike stem vir my gesê het my alliansie is nie getrou aan my nie, het Goma se lede nie met ’n plan na my toe gekom oor die pad vorentoe nie. Ek kon na hulle kant toe gaan, maar wat dan? Ek wou ’n beter plan van hulle kant af gehad het, maar hulle het nie een gehad nie.

Hoe het dit gebeur dat jou alliansie ewe skielik teen jou gedraai het?

Aanvanklik het ek die besluite namens die alliansie geneem. Maar ek wou nie as ’n leier gesien word nie en het toe die leiding aan Tejan oorgegee. Ek het nie geweet hy het intussen beloftes links en regs aan ander mense gemaak en dat daardie mense hul pond vleis van hom  begin eis het nie. Ek het bietjie van my krag in die alliansie verloor die oomblik toe ek leiding oorgegee het. 

Harry het gevoel jy het hom in die rug gesteek. Julle het ’n sterk alliansie gehad en toe stem jy teen hom?

Ek het geweet Harry het ’n goeie verhouding met Allison en Simon wat in die ander stam was. Ek was bang hy sou onmiddellik na hulle toe hardloop die oomblik wat ons merge. Ek kan verstaan hoekom Harry kwaad is daaroor en ek aanvaar dit so.

Hoekom het jy en Hykie nie oor die weggekom nie?
Dis eenvoudig. Hy het in Survivor ingestap as ’n celeb. Ek was nie nice met hom net omdat hy ’n bekende is nie. Ek dink nie hy het baie daarvan gehou nie. Ek dink hy het verwag ek gaan met sterre in my oë na hom kyk en ek het nie.

Tejan was aan jou kant en stem toe teen jou. Hoe voel jy oor hom?
Ek het nie kwade gevoelens teenoor hom nie. Ek het wel besef jy kan nie van jouself af weghardloop in Survivor nie. As jy mense so maklik in die rug steek, is dit deel van jou samestelling.

Wat was die moeilikste van die ervaring?
Die besef dat toe dit nodig was om buigsaam te wees, ek dit nie gedoen het nie. Ek wou Survivor wen. Ek is so teleurgesteld dat ek uitgestem is omdat ek vir my kop en nie vir my hart geluister het nie. Ek het geweet die kans is groot dat my alliansie teen my gaan draai, maar my kop het gesê bly eerder by die duiwel wat jy ken as om na die duiwel toe te gaan wat jy nie ken nie.