okt08praatmet1a
Ons praat met

Pierce Brosnan en Meryl Streep: Mamma Mia!

Noem die naam Meryl Streep en jy sien ‘n Oscarbeeldjie. Sy’s een van die wêreld se grootste en mees gerespekteerde aktrises. En Pierce Brosnan? Vir baie mense sal hy altyd James Bond of die TV-speurder Remington Steele bly, maar hy het darem ook sy staal gewys in flieks soos The Thomas Crown Affair, The Mirror Has Two Faces en After the Sunset.

Nou skitter die twee saam in die rolprent-weergawe van die musiekblyspel Mamma Mia, wat op die bekende Abba-liedjies gegrond is. Meryl speel Donna, die enkelma van Sophie (Amanda Seyfried). Sophie gaan binnekort trou en wil graag hê haar pa moet daar wees, maar sy weet nie wie hy is nie. Sy vind uit hy is een van drie mans en nooi al drie na die Griekse eiland waar hulle woon. Sam, Pierce se karakter, is een van dié mans. Só het ons Meryl en Pierce nog nooit gesien nie!

PIERCE BROSNAN


Ons sien jou gewoonlik in rolle waar jy skurke jaag en die heeltyd skiet . . .

En dié keer sien jy my in ’n stywe, blink pak! Dis seker die malste ding wat ek nog gedoen het. Ons het die fliek in ’n ateljee in Londen geskiet, dieselfde tyd wat hulle die nuwe Bond-fliek daar gemaak het. My grootste vrees was om in my wighakskoene en verspotte poliëster-hemp in die gang af te stap en in Daniel Craig met sy atletiese lyf in ’n stylvolle Bond-pak vas te loop. Gelukkig het dit nie gebeur nie. Hy sou lekker gelag het!

Is dit vir jou moeilik om nie meer Bond te wees nie?
Aanvanklik was ek ’n bietjie kwaad. Die vervaardigers het my eers gebel en wou my laat teken vir ’n nuwe fliek. Toe verander hulle skielik van plan en kry vir Daniel. Dit was nie baie professioneel nie. Hulle het net gesê “tot siens” en dit was dit. Niemand het my gekontak of ’n rede gegee nie. Maar toe kry ek dié rol. Ek het net gesê: “Mamma Mia, Meryl Streep? Ek’s in!” Ek het nie eens gevra hoeveel ek sou kry en wat my rol eintlik sou wees nie. Dit het my gehelp om van Bond te vergeet. As ’n akteur wil jy keuses hê en uitdagende goed doen.

Wat dink jy van Daniel as die nuwe super-agent?
Ek’s een van die laaste mense op die planeet wat Casino Royale gesien het. Ek het dit eers onlangs op ’n vliegtuig gekyk. Ek hou van Daniel en ek’s bly vir sy onthalwe. Ek koester geen kwade gevoelens teenoor hom nie. Ek dink ook hy het baie van sy kritici verkeerd bewys. Hy’s ’n skitterende akteur en het ’n sjarme wat goed by die Bond-rol inpas.

Maar baie mense sal jou nog lank met 007 assosieer?
Ek gee nie om nie. Baie van my sukses is aan Bond te danke. Ek word verskillende rolle aangebied, hoef nie te wag vir die foon om te lui nie en het goeie geld gemaak. Wie weet wat sonder James Bond sou gebeur het? Dit het my reg oor die wêreld gewild gemaak, ek het plekke gesien en oulike Bondmeisies ontmoet! Ek het soveel in daardie rol gesit. Daarom sou dit lekker gewees het om ’n verduideliking te kry oor hoekom dit so skielik tot ’n einde gekom het. Dit was ook vir my skrikwekkend om te hoor ek is te oud vir die rol. Ek het myself nooit as te oud beskou nie. En dit was moeilik om vir my vrou, Keely, te sê ek gaan nie meer aan nie. Maar sy het my gehelp om my selfvertroue te herwin.

Hoe het sy dit gedoen?
Sy’t gesê: “Jy het al so baie bereik. Jy hoef niks aan enigiemand te bewys nie. Kom ons beweeg aan, liefling.” Sy is ’n sterk vrou en ek luister dikwels na haar raad. Sy’s nie net mooi nie, maar ook intelligent en snaaks en sy het ’n goeie hart.

Hoe belangrik is familie vir jou?
Hulle is my heiligdom. Dis waarvoor ek werk. Om ’n pa te wees is ’n groot verantwoordelikheid, maar baie bevredigend. Om in Hawaii te bly het my in staat gestel om tyd saam met my twee jong seuns deur te bring. Ons speel kitaar, die ukelele. My vrou is ’n geesdriftige tuinier en ons bestee graag tyd in die tuin. Die lewe kan hier baie eenvoudig wees.

Het jy die belangrikheid van familie selfs meer besef nadat jou eerste vrou aan kanker oorlede is?
Ek en my seun Sean het as gevolg daarvan nog nader aan mekaar beweeg. My lewe het aangegaan danksy die kinders. Ek weet nie wat sou gebeur het as ek hulle nie gehad het nie. Om jou vrou te verloor is iets wat jy nie in woorde kan beskryf nie. Ons praat steeds oor haar, ons sal haar nooit vergeet nie.

Party mense dink jy’s macho, oor die Bond-rol. Is jy?
Nee. Kyk hoe plat op die aarde is ’n normale dag in my lewe: Ek help in die huis en maak elke oggend vir my kinders ontbyt – eiers en toebroodjies. Daarna kyk ek TV en beoefen ’n sport, en drink dan koffie saam met my vrou. Teen die middag gaan sit ek langs die see en skilder – my groot stokperdjie. Dis ’n baie huislike lewe. Ek sal ook nooit vroue behandel soos Bond nie – een hier en een daar. Ek is al vir die grootste deel van my lewe getroud en dis hoe ek dit verkies. Ek het daardie stabiliteit nodig.

Het jy ook op jou familie se senuwees gewerk met die Abba-liedjies?
Ek het baie langs die see met my iPod gaan oefen. As ek my seuns by die skool gaan haal het, het ek heeltyd Abbamusiek in die motor gespeel totdat hulle geskreeu het:  “Pa, ons kan nie meer hierna luister nie!” Maar ek moes inhaal omdat ek vantevore nie ’n groot Abba-aanhanger was en nie eens na die musiekblyspel gaan kyk het nie. Toe ek dit gaan kyk, het ek gedink: “O, aarde, waarin het ek myself begewe? Dit gaan ’n ramp wees.” My gesin was ook bekommerd toe hulle my eerste pogings hoor. Maar ek is nie skaam vir die eindresultaat nie. Al probleem is dat ek nou sukkel om al die Abba-liedjies uit my kop te kry!

Jy is baie aantreklik. Is voorkoms belangrik vir jou?
Ek beskou myself nie as ’n aantreklike ou nie. Maar ja, ek kyk in die spieël as ek by die huis uitgaan. As jy in die kollig is, is dit belangrik hoe jy in die openbaar gesien word. En kom nou, ek was James Bond. Ek moet aandag gee aan hoe ek lyk . . . O, aarde, sien jy, dit lyk asof ek nooit van daardie 007-rol ontslae gaan raak nie!

Bykomende bronne: www.mammamiamovie.com; www.piercebrosnan.com; www.imdb.com

MERYL STREEP


Dis nogal ’n ongewone rol vir jou in Mamma Mia?
Ja, ek sing en dans byna die heeltyd. Ek het nog nooit so iets in my loopbaan gedoen nie en het ’n paar keer vir die vervaardigers gevra:  “Is julle seker julle wil my in die fliek hê?” Ek het by die huis begin repeteer en nadat ek een Abba-liedjie tien keer ná mekaar gesing het, wou my gesin gek raak. Maar hulle moes my maar verdra, hulle kon nêrens wegkruip nie!

Hoe was dit om saam met die ander akteurs die liedjies in die ateljee op te neem?
Almal het voorgegee hulle is vol selfvertroue. “Is jy reg om die liedjie te sing?” het ek vir Pierce gevra. “O ja, natuurlik, geen probleem nie.” Maar toe dit by die opneem-slag kom, kon ek sien hoe senuweeagtig hy is. Ons het almal soos skoolkinders gevoel. Die vervaardigers het ons in die ateljee toegesluit en probeer om vir ons Voulez-Vous te leer. Dit het byna ons einde beteken.

Maar sang is iets waarmee jy taamlik vertroud is . . .?
As kind wou ek ’n sanger word. Ek het op kollege in musiek-blyspele opgetree en op universiteit selfs ’n musiekkursus gevolg. My ma het ook heeltyd by die huis gesing en my pa het klavier gespeel en ’n paar liedjies geskryf. Dis ’n passie en een van die hoofredes waarom ek dié rol aanvaar het. Maar dit was baie moeilik en uitputtend om gelyktydig te sing en te dans. Nadat ons klaar geskiet het, het ek gedink: “Dis dit. My ou knieë sal nooit herstel nie!”

Was jy tevore ’n groot Abba-aanhanger?
Ek het meer belang gestel in swaarder musiek. Maar nadat ek die Mamma Mia-musiekblyspel gesien het, het ek hul musiek baie waardeer. Toe ons die rolprent begin skiet, kon ek nie ophou sing nie.

Jy’s die ma van vier volwasse kinders. Was dit ooit vir jou moeilik om ’n werkende ma te wees?
Ek moes twee verskillende goed bestuur wat albei belangrik is, maar ook albei tydrowend. Enersyds moes ek hard werk om geld te verdien en ’n bestaan te voer. Andersyds het ek met ’n gesin begin, nie net vir die pret nie, maar om  vir hulle om te gee, tyd saam deur te bring en te sien hoe my kinders grootword. Soms het die twee gebots en daar was dae dat ek heeldag op stel was en elke minuut meer senuweeagtig geraak het. Ek kon nie konsentreer nie, want ek het nie geweet wat my gesin doen en of hulle oukei is nie. Ek wou net huis toe jaag, maar ek moes deurdruk. Almal het dieselfde probleem, so ek kan nie kla nie. Dis minder ingewikkeld noudat hulle ouer is.

Gee jy nog vir hulle raad?
Ek sal nooit ophou nie. Jy kén ma’s, hulle weet altyd beter. Dis jammer die kinders luister nie meer na my soos toe hulle jonger was nie. Maar ek is skelm: Ek bel my vriende en vra hulle om sekere raad uit te deel. En as húlle dit sê, luister my kinders skielik. Om ma te wees is ’n moeiliker werk as akteur-wees, wat lof, geld, bevrediging en pret is. Moederskap? Tensy jy sê “Hallooo?” sê hulle nie eens dankie of dek die tafel af nie!

Jy het al so baie bereik dat jy sekerlik rustiger kan raak. Maar jy doen dit nie. Is daar druk op jou om selfs meer te bereik?
Nee, dis nie waaroor dit gaan nie. Ek hou aan omdat daar soveel interessante stories daarbuite is wat nog nie vertel is nie en waarvan ons almal baie kan leer. Dis die belangrikste vir my: Om mense op te voed. Boonop is daar soveel verskeidenheid in my werk dat dit nooit vervelig raak nie. Elke karakter is verskillend.

Jy’t ’n ongelooflike rekord van 14 Oscar-benoemings (waarvan jy 2, vir Kramer vs. Kramer en Sophie’s Choice, gewen het). Is jy trots op wat jy bereik het?
Natuurlik, maar ek loop nie heeltyd rond en sê vir myself: “Sjoe, ek is Meryl Streep” nie. Ek besef net hoe bekend ek is wanneer selfs mense in die kleinste landjies my nader. Dit bly vir my vreemd. Mense is senuweeagtig in jou teenwoordigheid as jy ’n filmster is. As ek byvoorbeeld koffie bestel, gaan mense mal: “Van hoeveel suiker hou sy?” “Nee, sy hou nie van suiker nie, jy moet Sweet ’n Low kry!” “O, my aarde, maar wil sy warm of koue melk hê?” . . . En al waarvoor ek gevra het, is koffie!

Is jy bang om oud te word?
Glad nie. Kyk na my. Ek is 58 en het hope energie. Ek het gedink ná 40 gaan ek nie meer werk kry nie. Ek was bang al die rolle gaan na jonger aktrises. Maar nou is ek meer ontspanne omdat dinge goed uitgewerk het. Ek is gesond, wat ook belangrik is. Terloops, ek beskou myself nie as ’n baie aantreklike vrou nie, maar ek gee ook nie om nie. (Sy lag.)

Hoe kry jy dit reg om soveel energie en idees te hê?
Als is baie makliker as jy ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe het. Vasberadenheid is ook belangrik. Dis verbasend wat ’n mens kan bereik as jy net hard genoeg probeer en in jouself glo. Soms gebeur die beste dinge in jou lewe wanneer jy dit regtig nie meer verwag nie. So, moet nooit opgee nie!

Jy is al 30 jaar met Don getroud. Wat is die geheim?
Praat oor al die kwessies wat ontstaan. Bespreek selfs die kleinste dinge. Luister na jou lewensmaat se probleme, voorstelle en raad. Aanvaar dat jy nie altyd reg is nie. Gesprek is die sleutel tot ’n suksesvolle verhouding . . .