mg_4149
Ons praat met

Mandla van ‘7de Laan’ gesels: “Ek het beter leer Afrikaans praat”

Hy het met Marguerite van Wyk gesels oor onder meer lewenslesse wat hy by dié sepie geleer het, hoekom hy trots is om daarin te speel, en hoe Mandla se karakter gegroei het . .

Wat is die waardevolste lewensles wat jy by die hoofvervaardiger, Danie Odendaal, geleer het?
Mkulu (Danie), het ons geleer hoe om perfeksioniste te wees, nederig te bly met ons voete plat op die aarde en hoe om stelsels te skep wat vir ons werk.

Wat was die lekkerste deel in jou vertolking van die karakter Mandla tot op hede?
Ek het sover elke oomblik geniet. Mandla is só veelsydig en dinamies en glo sterk in goeie waardestelsels en etiek. Met elke storielyn word iets nuuts oor hom verklap – ek doen dikwels dinge wat ek, as Freedom, nooit, ooit self sal doen nie.

Hoe het Mandla se karakter oor die jare heen gegroei?
Hy was aanvanklik die toegewyde ondersoekende joernalis en nou is hy in die band ”Naamloos”. Hy is al deur baie dinge: lekker partytjie-tye, vriendskappe, ‘n huwelikseremonie en hy weet hoe om sy vrou, Alyce, as hoofprioriteit in sy lewe te stel. Sy ”reis” was baie interessant en ek is lief vir elke tree wat ek moet loop.

Dink jy 7de Laan vervul ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse gemeenskap?
Ja, ek het al in die land rondgereis en baie gesien en gehoor wat mense daarvan dink. Dit hanteer aktuele kwessies en diskrimineer nie teen mense op grond van geloof, ras of geslag nie. Onderwysers raai kinders by skole aan om daarna te kyk omdat dit hul Afrikaans kan verbeter. Ek het baie beter leer Afrikaans praat sedert ek daarin optree, as mens in ag neem dat ek eintlik ‘n Zoeloe is. Wat sal ‘n aand wees sonder ‘n wandeling in die Laan, koffie in Oppiekoffie, ‘n bietjie klere-inkopies in die boetiek en die nuutste nuus van die Hillside Times? Jip! Nie dieselfde nie!

Hoekom is jy trots daarop om ‘n lid van die 7de Laan-span te wees?
7de Laan
is ‘n gevestigde, huishoudelike naam en ‘n goeie handelsmerk. Hoeveel mense kan sê hulle werk vir ‘n goeie brand en hulle geniet hul werk? Wel, ék kan!