Ons praat met

Marcel van Heerden

Die Suid-Afrikaansvervaardigde rolprent White Wedding het in die eerste naweek die rekords laat spat en meer as ‘n miljoen rand gemaak. (Dit wys sedert einde April by rolprentteaters landwyd.) Suzette Truter het gesels met Marcel van Heerden, wat die rol vertolk van Fanie, ‘n voormalige predikant wat in die Oos-Kaap boer en soms “sukkel” om met ‘n Engelse vrou getroud te wees.

Waaroor gaan die fliek – kortliks?
Dis ‘n ligte komedie, ‘n road movie oor vriendskap en verhoudings. Twee beste vriende, Elvis en Thumi, gaan op ‘n lang reis deur die land om by Elvis se troue uit te kom. Terselfdertyd is daar ‘n parallelle storie oor ‘n Britse meisie op reis saam met ‘n vriendin. Ek wil nie te veel verklap nie. O ja, daar’s ook ‘n lewende bok wat moet saam . . .

Het jy die rol van Fanie geniet?

Hy’s ‘n lekker karakter, maar ook ‘n uitdaging. Iemand het gesê een manier om na komedie te kyk is as tragedy interrupted. As dit op ‘n komiese manier onderbreek word, word dit snaaks. Dis soos goeie satire – ernstige goed word snaaks in ‘n sekere konteks en met die regte tydsberekening. Fanie is daai soort ou – hy kan eintlik “onsnaaks” wees, dis ‘n fyn lyn, maar uiteindelik is hy snaaks. Hy lyk na ‘n stereotipe, en dan kom jy later agter hy is iets heel anders. Maar gaan kyk self, dis ‘n heerlike goedvoel-fliek, ook vir kinders.

Dink jy ons kort meer sulke SA flieks?
Ja. Jy hoef nie vulgêr te wees om mense te lok nie. Dis vir my lekker dat ons in ‘n mate hier kon wegbeweeg van die sg. fliek met ‘n “boodskap”. (Ek was in my lewe dikwels betrokke by teater en rolprente met ‘n dieper boodskap.) White Wedding is komies sonder om vulgêr te wees. Om deel te wees van iets wat steeds sosiale relevansie het, sonder om te ernstig te raak.

Waarmee is jy nog besig?
Stemwerk hou die pot aan die kook. Ek werk ook saam met twee skrywers aan ‘n draaiboek vir ‘n rolprent, daar’s ‘n komediereeks vir radio en ‘n DVD van ons vertoongroep (performance group) Mud Ensemble. Ek het ook pas ‘n liedjie opgeneem saam met Rigardt Kapp van The Buckfever Underground.

Jy was ook sanger vir die kultusgroep KOOS in die 80’s. Nou vra mense weer daarna. Wat is die bekoring?
Ek dink dit was uniek in die land. Die enigste post-punk, anti-rock in Afrikaans waarvan ek weet. Dit het in baie opsigte goed verouder. Iemand in hul vroeë 20’s het vandag weer vir my gesê hulle is mal daaroor en wil hê ek moet kom sing – dis ‘n groot kompliment, twee generasies later! Die groep sal nie weer saamkom nie, ons is die wêreld vol versprei. Daar is ‘n CD met ‘n beperkte oplaag uitgereik.

Jy is al 33 jaar in die bedryf. Is dit steeds lekker?
Ja. Jy gaan deur fases. Jy begin idealisties optimisties, maar daar kom ‘n stadium wat jy uitgemergel voel. Dis moeilik hier waar ons woon. Jy moet al die dissiplines kan beoefen – jy doen alles, sonder blaaskans. Maar daar’s altyd dinge wat dit lekker maak. Met die stuk Samoerai by die KKNK vanjaar het ek besef jy raak nie minder bang vir die verhoog nie. Dit raak ‘n nuwe uitdaging. Soos jy ouer word, word sekere goed moeiliker – dit bly vars vir my. Waarderende gehore maak dit ook lekker, soos die derduisende mense wat nou na White Wedding gaan kyk.

Oomblikke wat uitstaan?
Rolprente: Mapantsula, wat destyds verbied is. The Flyer. TV-werk: The Outcast, reekse soos Onder draai die duiwel rond. Op die verhoog: Nagkantoor en Samoerai. Daar’s verskillende redes – party was belangrike sosiale kommentaar, ander was weer net nice stories. Ek hou van ‘n goeie storie.