Margit Meyer-Rödenbeck

Ons praat met

Margit Meyer-Rödenbeck wys haar dogtertjie

Margit Meyer- Rödenbeck aktrise en regisseur van Bye Ma, Jaypee, sê wat bergklim aan haar doen, hoekom sy niks aan haarself wil verander nie en waarvoor Dowwe Dolla bang is…

[box:full:grey:both]

Ek hoop . . .

[/box]

  • om met die stuk Bye Ma, Jaypee ’n boodskap van aanvaarding oor te dra. Ons is nie almal eenders nie. Dis helende teater. My loopbaan beweeg nou in die rigting van vervaardiging en die regie van helende teater.
  • ek word weer ma. Dis vir my ongelooflik vervullend en opwindend. Ek is nou as gevolg van werk drie dae weg van Luca, en ek kry fisiek onttrekkingsimptome.
  • om weer ’n berg of wat aan te durf. Ek het dit so geniet om Kilimandjaro en Machu Picchu uit te klim. Die stilte is hemels en jy stap die pad met net die gedagtes in jou eie kop. Dit bring perspektief in hierdie dolle gejaag.
  • om eendag ’n geselsprogram op TV te hê, sonder bekendes, met regte mense en regte issues. Ek het lank terug ’n geselsprogram op die destydse Radio Punt gehad. Helaas, daardie gogga het gebyt en my nog nie gelos nie.
  • vir vrede. Klink ek nou soos ’n beauty queen? ’n Goeie, deursigtige regering. Nou klink ek soos ’n naïewe beauty queen.
  • op ’n presidentskap vir Dowwe Dolla. Wel, dis óf Dolla óf Julius?
  • dat Luca altyd so onbevange bly en nie perke vir haarself stel nie.
[box:full:grey:both]

Ek is bang . . .

[/box]

  • in die gejaag gaan die lewe by ’n mens verby.
  • om “dood te gaan” op die verhoog. Ja, dit hét al gebeur. Die gehoor het niks wat ek doen snaaks gevind nie. Dis soos ’n lang nagmerrie of asof jy in ’n Schuster-fliek vir die gek gehou word. Gelukkig is Dolla se brand al so gevestig dat die gehoor weet waarvoor hulle hulself inlaat. O ja, Dolla is bang vir niks . . .
  • Luca sal iets oorkom. Vandat sy in my lewe is, is ek ook bang dat ek iets sal oorkom, en wie sal dan na haar kyk?
  • vir kanker. My ma is agt jaar gelede daaraan oorlede. Dis so ’n wrede siekte en ek sal seker altyd ’n vrees hê dat dit met my ook sal gebeur.
[box:full:grey:both]

Wat ek geleer het

[/box]

  • Ek is domastrant. As ek my kop op iets gesit het, dan doen ek dit, come hell or high water.
  • Baie mense wou al hê ek en my man, Jurg Human, moet Die Boer, ons teater-eetplek in Durbanville, reg oor die land uitbrei, maar dis soos ’n baba, dit verg heeltyd tyd en aandag. Ek glo, ver van jou goed, na aan jou skade. Dit was Jurg se droom wat ons verwesenlik het. Dis lekker om ’n ordentlike platform vir kunstenaars te skep.
  • Niks of niemand is onvervangbaar nie. ’n Mens moet altyd perspektief behou en jouself sien vir wie jy is.
  • Soms moet jy deure toemaak sodat ander kan oopgaan. Dis nie altyd maklik nie, maar dis beslis nie vervelig nie.
  • Dis vrek harde werk om die “baas” te wees. Jy is mos jou eie kwaaiste baas.
  • Die meeste mense is eintlik baie nice. Dis net enkeles wat die poel besoedel. Maar ons steur ons tog so graag aan hulle. Ek wil my nie meer omring deur negatiewe bitterballe nie. Ek probeer om nie toe te laat dat mense my lag steel nie.
  • Deel van my lewensfilosofie is om nie in die verlede te leef nie. Nou en môre is wat saak maak. Dis vir my ’n verspilling van energie om te tob. Die lewe vra om geleef te word. Moet niks halfhartig doen nie. Go for it!
  • Ná my ma se dood moes ek myself herdefinieer. Dit was vir lank baie dood in my. Dis erg dat ’n mens gewoonlik deur so ’n geweldige verlies moet gaan om te verstaan waaroor die lewe werklik gaan. Daar het beslis ’n verdieping in my lewensuitkyk gekom.
  • Ek het steeds eienskappe wat ek as kind gehad het: Baie energie. Kan nie lieg nie. Babbel baie. Hou van speel.
  • My ouers was meer as 40 jaar getroud. Hulle was ’n span. Dis baie belangrik in ’n huwelik.
  • Die eerste twee jaar van ons verhouding het ek en Jurg mekaar byna vermoor. Hy was ’n bachelor van 46 en ons albei is geweldig hardkoppig, so die klippe moes maar deur die meul gaan! Ek verruil hom vir niks en niemand; hy is my grootste kritikus en ondersteuner, en baie kreatief. Maar om liefde en werk te kombineer is beslis nie maklik nie.
  • Die grootste wanopvatting wat mense van my het, is dat ek ’n ekstrovert is.
  • Talent en boeke laat my tiek. Ek’s verslaaf daaraan om die gehoor te hoor lag, menslike emosies en om mense op ’n verbeeldingsreis te kan neem.
  • Ek wil niks aan myself verander nie. Ek is beslis nie perfek nie, maar noudat ek 41 is, is dit net nie meer so belangrik nie. Ek is gemaklik in my vel en ek koester my tekortkominge en “foute”. Ek het vrede gemaak daarmee.
Margit se dogtertjie, Luca Margit se dogtertjie, Luca
  • Marietjie Mostert

    Jy is pragtig net soos jy is, en jou kleinding is n regte klein sterretjie, pas haar op

  • Veronica Schoeman

    Dis een van die dierbaarste kunstenaars wat ek ken. Altyd ‘n tydjie om met mens te praat. En Luca is net so oulik!!