kriek_shoot_002
Ons praat met

Marguerite Wheatley oor Clint Eastwood en Matt Damon

Wie weet, dalk word Invictus (die werktitel was The Human Factor), wat deur regisseur Clint Eastwoord in Suid-Afrika verfilm is (en op 23 Desember wêreldwyd uitgereik word), nog vir ‘n Oscar benoem. Dit is gegrond op skrywer John Carlin se Playing the Enemy: Nelson Mandela and the Game that Made a Nation. Dit gaan oor die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning in 1995 en hoe rugby en Madiba die reënboognasie verenig het. Akteur Morgan Freeman vertolk die rol van Mandela, Bok-kaptein François Pienaar word gespeel deur Matt Damon en Marguerite Wheatley is in die rol van Nerine Pienaar, François se vrou. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor dié rol.
 
Was dit moeilik om die rol van Nerine te vertolk?

Ja, ek is ‘n verskriklike tomboy en Nerine is vroulik en sag. Dit was ‘n groot uitdaging, maar baie lekker.
 
Moes jy baie navorsing vir die rol doen?
Ons het slegs ‘n maand voor ons begin skiet het, gehoor ons het die rolle. Daar was min tyd. Ek het een middag, danksy ‘n goeie vriend, die oud-Springbok Robbie Kempson, by Nerine in haar huis gaan kuier. Die oomblik as jy daar instap, kom jy agter sy is ‘n fenomenale vrou. Ek kon baie van haar lyftaal en woordgebruik waarneem. Ek het honderde vrae vir haar gehad: Het dit haar gepla as ander meisies na hom kyk, hoe inspireer sy hom, wat doen sy as hy so baie weg is van die huis? Hoe het sy hom bemoedig voor die Wêreldbeker in 1995 toe almal bra skepties oor die Springbokke se spel was? Sy het gesê sy positiewe uitkyk het op haar “afgesmeer”.
 
Hoe het jy Nerine probeer uitbeeld?
As iemand wat haar woord goed in Afrikaans en Engels doen, haar man en gesin altyd ondersteun en eerste stel en ‘n sterk hand in die gesin se welstand het. Sy is geen poppie nie en sy kom uit ‘n báie goeie gesin. Sy is ‘n absolute dame.
 
Was daar chemistry tussen jou en Matt?
Glad nie, maar wel gemak en professionaliteit. Hy het baie staaltjies oor sy vrou en kinders vertel. Hy is gek oor Suid-Afrika en wil eiendom hier koop. As ‘n meisie van Yzerfontein het ek dié dorp natuurlik sterk ‘bemark’. Ek het vir hom ‘n paar Suid-Afrikaanse woorde geleer net om sy sinne meer outentiek te maak: “jis” en “jislaaik” en “nè” (aan die einde van sinne). Ek het gesê as hy sak in die skrum, moet hy “komaan manne” sê. Sy aksent was goed. Hy het 24/7 ‘n dialoog-afrigter gehad. En omdat hy soveel tyd saam met die rugby-ouens bestee het, het hy ‘n goeie idee van die Afrikaanse uitspraak gekry. Hulle het ook vir hom ‘n paar vloekwoorde geleer.
 
Hou jy van rugby?

Dis mos waarmee ons Suid-Afrikaners groot word. Dis lekker om Saterdagmiddag met ‘n drankie in die hand te skree vir jou span. Ek is ‘n Stormers-ondersteuner en hoop ons vaar beter in die Curriebeker. My pa, Cecil, het vir Boland rugby gespeel en het nou nog sy Boland-baadjie. My broer, Douglas, het vir London Irish in Londen gespeel en ook vir die Stormers, totdat hy beseer is.
 
Wat het jy by Clint Eastwood as regisseur geleer?
WOW. Hy sê baie min. Dis goed. Want dan is hy tevrede. Hy behandel almal op die stel baie goed. Daar word nie onderskeid tussen die “sterre” en die minder belangrike spelers getref nie. Daar is trouens geen hoogmoed op die stel nie. Clint Eastwood gee nie vir jou notas of instruksies nie. Hy sê: Hier’s die kameras en daar’s die vloer. Begin net speel. As Afrikaanse meisie kon ek dikwels nie eens lekker uitmaak wat hy sê nie, want hy praat soms onduidelik en ek het dikwels gewonder of ek reg speel? Hy maak ook nie ‘n groot gedoente van die aftellery voor hy begin skiet en die hele ACTION, SHOOT-ding nie. Hy is rustig, staan agter die kamera en sê saggies “go”. En dan doen jy net jou ding. Hy hou daarvan as ‘n mens ad lib. Hy sê ‘n mens moet daaraan dink as “a conversation”. Dit voel eintlik heeltyd asof jy besig is met ‘n kleedrepetisie en dis goed, want dan ontspan jy. Dit was eintlik só lekker, want dit het so dramavry verloop. Aan die einde sal hy sê “good job”.
 
Dink jy dié rol gaan baie vir jou toekoms beteken?
Ek weet nie. As jy in Suid-Afrika ‘n rol vertolk, gaan jy nie noodwendig daarna iets beters kry nie. Hier vat jy wat jy kry. Ek is nie pessimisties nie, net realisties.
 
Is daar ‘n kans dat dié rolprent vir ‘n Oscar benoem sal word?
Ek het geen idee nie, maar daar is mense wat so dink. Ek het van die tonele gesien wat al verwerk is, en dit lyk ongelooflik. Dit het heeltyd gevoel asof ons ‘n konsertjie hou. Of ‘n partytjie. Dit was so maklik, so lekker. ‘n Mens dink mos altyd goed wat Oscars wen, moet hárde werk wees. Stephan Campeneli, een van die kameramanne wat ook aan Million Dollar Baby gewerk het, vertel vir my Hilary Swank wou ook in ‘n stadium terwyl hulle geskiet het by Clint Eastwood weet of alles reg is, want hy sê dan niks nie.
 
Gestel die fliek word vir ‘n Oscar benoem, wat sal jy dra?
Wel, as hulle my en al die ekstras en die hele Suid-Afrikaanse rugbyspan dalk ook nooi, dan sal ek vir my ontwerper-vriendin Carla Caballero wat in LA woon en van Ceres kom, vra om vir my iets te ontwerp. Ek weet nie watter kleur nie, dalk blou. Maar kom ons kyk maar eers . . .
 
Watter interessante projekte wag in die toekoms?
Iets báie cool. ‘n Internasionale fliek, maar ek kan nog glád nie daaroor praat nie.